Ons gesels elke maand met ’n kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.
Vertel ons bietjie meer oor Nederburg.
Nederburg het ’n ryk en trotse geskiedenis wat na 1791 terugstrek. Philippus Wolvaart het hom toe daar gevestig om ’n tuiste te skep en ’n bestaan te maak. Met die indrukwekkende Drakensteinberge in die agtergrond staan die herehuis, wat in 1800 gebou is, as ’n puik voorbeeld van Kaaps-Hollandse argitektuur. Rondom die herehuis is daar ’n elegante, groot tuin met ’n pragtige uitsig op die wingerde en die Paarl.
Vir meer as tweehonderd jaar skep ons al ’n heerlike reeks gehaltewyne. Proepanele stem saam daaroor, jaar na jaar. Dis hoekom Nederburg beskou word as een van Suid-Afrika se mees bekroonde kelders. Dis ’n wonderlike motivering vir die hele span dat só baie van die wyne só baie punte by verskillende kompetisies kry. Nederburg word gereken word as ’n baanbreker wat help om die positiewe beeld van Suid-Afrika se wyne te skep.
By Nederburg word kollegas ook vriende. Suksesse word gedeel, en ons help mekaar deur moeilike tye. Ons is waarlik ’n hegte span.
Wat beteken die onlangse toekenning – Master Winemaker 100 vir 2023 – vir jou?
Die toekenning beteken geweldig baie – dit motiveer my, asook diegene saam met wie ek werk en bevestig dat ons iets reg doen. Maar op die ou einde gaan dit oor spanwerk – sonder my span sou dié internasionale toekenning nie realiseer nie.
Elke stap in die wynmaakproses en elke persoon wat betrokke is, is noodsaaklik. Met ’n wyn soos ons luukse Private Bin R163 Cabernet Sauvignon, wat vir bykans 29 maande verouder word, is die korrekte keuse van vate van kardinale belang. My span sien baie mooi om na die vate om seker te maak dat die wyn wat daarin verouder, sy volle potensiaal bereik. Wanneer ons die seleksies doen, kry mens letterlik hoendervleis as jy sekere vate proe. Ek spot altyd en sê: “As die vat jou nie tranerig maak nie, is dit nie goed genoeg vir die seleksie nie.”
Watter lesse het jul uit die afgelope paar uitdagende jare geleer?
Fokus op wat wel binne jou beheer is. Dís een van die grootste lesse, gegewe die Covid-19-pandemie, beurtkrag en die huidige ekonomiese uitdagings. As span het ons gekonsentreer op elke stap van die wynmaakproses en nie toegelaat dat die chaos en onsekerhede ons motivering en spoed breek nie. Maar mens moet ook ’n sekere buigbaarheid in die huidige omstandighede toon – ’n benadering wat vier jaar gelede gewerk het, werk dalk nie nou meer nie, want die omgewing waarbinne ons werk, bly nie konstant nie.
Hoe bestuur julle tans die impak van beurtkrag op jul operasionele aktiwiteite?
Een van my gunsteling flieks is Apollo 13. Om te sien hoe die mense in dié film saamwerk om hulself uit ’n benarde situasie te kry, lewer ’n paar goeie lesse. Dis ook ons benadering in die kelder: ons werk saam om die beste te maak van ’n uitdagende of moeilike situasie.
Ons het ’n kragopwekker by die kelder, asook sonpanele op die dak, maar dit bied nie deurlopend genoeg krag om alle wynmaakaktiwiteite aan die gang te hou nie. Dit verg dus uiters goeie beplanning en kommunikasie om te verseker dat enige moontlike negatiewe impak beperk word.
Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?
Ons almal weet dis nie tans maanskyn en rosé nie. Beurtkrag is een van grootste uitdagings waarmee ons almal sit, maar die huidige plaaslike en internasionale ekonomiese situasie plaas ook geweldige druk op wynverkope. Produsente moet sente omdraai om boeke te laat klop. Die lede van Vinpro is welbekend met die realiteite.
Ek is oortuig dat Suid-Afrikaanse wynprodusente alreeds wyne lewer van uitstaande gehalte, teen pryspunte wat baie mededingend is. Ons kan werklik deelneem op internasionale vlak, maar daar is natuurlik probleme wat verband hou met winsgewendheid, persepsie, en volhoubaarheid. Dis baie kompleks.
Hou aan om gehaltewyne te maak deur elke besluit in die wynmaakproses, van grondvoorbereiding tot die wyn binne in die bottel te koppel aan wat sal lei tot die beste moontlike wyn teen ’n pryspunt wat sin maak vir die produsent asook die verbruiker. Jy kan nie in isolasie werk nie. Neem deel en wees betrokke in die bedryf, woon proeë by en bou verhoudings met ander wat nie noodwendig in jou eie organisasie werk nie. Ons leer almal bymekaar en moet saamstaan om die lewensvatbaarheid van die bedryf te verseker.