News

Rydal Jeftha, bestuurshoof van Koopmanskloof Wynkelder.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Die wiel sal weer draai. Bly aanpasbaar, byt vas, gebruik jou hulpbronne oordeelkundig en sien om na jou mense,” sê Rydal Jeftha, bestuurshoof van Koopmanskloof Wynkelder.

1. Vertel ons meer oor Koopmanskloof?

Koopmanskloof is geleë teen die westelike hange van die Bottelary Heuwels in Stellenbosch. Die naam is afgelei van die feit dat Hollandse setlaars van die Kaap handel gedryf het met die mense (koopmans) wat hier in die kloof op die plaas gebly het.

Die plaas is reeds sedert 1896 in besit van die Smit-familie en die wynkelder is in 1945 deur wyle Stevie Smit gebou, wat die plaas van sy ouers gekoop het en verder uitgebrei het. Stevie het in 2007 in vennootskap met sy werknemers ʼn maatskappy, Koopmanskloof Wingerde gestig, om die operasionele bestuur te behartig. Hy is in 2009 oorlede en die maatskappy bestuur steeds alle aspekte van die besigheid wat uit ses aangrensende en nabygeleë plase bestaan.

Die plase wat geaffilieer is aan Koopmanskloof, is ongeveer 600 ha groot, waarop 430 ha oplei- en bosstokwingerde gevestig is. Die gemiddelde wyndruifoes is 2 800 ton, waarvan gemiddeld 2 miljoen liter wyn per jaar gemaak word.

Wat Koopmanskloof regtig laat uitstaan, is die feit dat ons 100% Fairtrade-gesertifiseer is sedert 2007, wat ons een van die oudste en grootste baanbrekers in dié kategorie maak. Koopmanskloof Wingerde het 51% swart werknemeraandeelhouding en is onder swart bestuur, wat ons ook voorlopers in dié opsig maak.

Ons het goeie beheer oor ons algehele wynwaardeketting, wat bestendigheid bring as dit kom by gehalte, wynstyl en konsekwentheid ten opsigte van kliënte se verwagtinge. Ons produseer 11 verskillende kultivars waarvan 7 rooi en 4 wit wyndruiwe is. Ons is werklik divers in terme van die kombinasie en samestelling van ons mense, asook die verskeidenheid kultivars en maniere waarop dit verbou word – van bosstok- tot opleiwingerde, droëland en onder besproeiing, op verskillende grondtipes en hoogte bo seespieël.

Koopmanskloof ding grotendeels in die Fairtrade gewilde premium- en leefstylwynkategorieë mee. Ons teikenmark is plaaslike en internasionale klein- en groothandelaars, asook aankopers van grootmaatwyn.

Omdat ons groot klem op plaaslike werkskepping lê, word slegs wyn in bottelformaat onder ons eie handelsmerke uitgevoer. Uitvoere het redelik afgeneem die afgelope twee jaar en is tans in volume 10% van ons produksie, teenoor 25% ʼn paar jaar gelede. In die plaaslike mark verskaf ons grootmaatwyn aan plaaslike kopers, asook gebottelde wyn aan kleinhandelaars onder hul eie handelsmerke.

Buiten wyn, word olywe ook gekweek vir verwerking na olyfolie. Waar wingerde uitgetrek is weens ouderdom en lae produksie, word koring en ander graangewasse in die tussentyd verbou. Ons verhuur ook huise en stoor- en tenkspasie uit aan privaat persone en wynmaatskappye.

Koopmanskloof het 80 permanente werknemers, met ʼn addisionele 100 tydelike werkers wat vir seisoenale take gewerf en aangestel word soos en wanneer nodig.

2. Die afgelope twee jaar was sekerlik die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud in hierdie tyd, en watter lesse het julle geleer?

Dit was beslis uitdagend en goeie interne, sowel as eksterne verhoudings was deurslaggewend. Ons werknemers se welstand en positiewe ingesteldheid, en ons lojale kliëntebasis is oor die algemeen noodsaaklik vir die volhoubaarheid van ons besigheid en ons het dit nie afgeskeep nie, al was dit moeilik by tye. Ons het bly volhard.

Die onsekerheid was een van die grootste uitdagings en dit het vereis dat ons meer fokus geplaas het op faktore wat binne ons beheer is, en om die onverwagte kwessies op die meriete daarvan te beoordeel en te hanteer, met volhoubaarheid in die kort- tot mediumtermyn as die prioriteit en ideale uitkoms. Realistiese aanpasbaarheid en ʼn kort besluitnemingsketting stel ons in staat om vinnig te reageer op uitdagings, en dinge eenvoudig te hou.

3. Wat maak jul streek spesiaal vanuit ʼn toerisme-oogpunt, asook in terme van die terroir en wynstyle uit hierdie streek?

Koopmanskloof is slegs 30 minute se ry van Kaapstad en op die Stellenbosch-wynroete geleë, met panoramiese uitsigte vanaf die kruin oor Tafelbaai, Tafelberg, die Kaapse Skiereiland, Valsbaai, Stellenbosch, Paarlberg en die Swartland en Durbanville-heuwels.

Ons het stap- en fietsroetes deur ons wingerde en ook ʼn privaat natuurreservaat van 97 ha op die plaas, waar besoekers in ʼn hut op die kruin kan oornag om die uitsig en omgewing te geniet. Versteende bome en plante, asook primitiewe gereedskap is op die plaas gevind, wat ons ryk geskiedenis aanvul.

Ons wingerde is op diverse grondtipes gevestig en op verskillende hoogtes bo seevlak naby die kus. Die invloed van die koel suidoostewind, asook die Atlantiese Oseaan en Valsbaai speel ʼn groot rol tydens die warm somermaande. Ons bosstok- en opleiwingerde gee goeie kompleksiteit en karakter aan ons kultivarwyne.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Alle uitbreidings en opgraderings is uitgestel tot daar meer sekerheid is oor die effek van Covid-19 wêreldwyd. Al ons markte is geaffekteer, met geen versekerde uitkoms op die oomblik nie. Ons het ʼn premium-wynreeks vrygestel wat groot belofte toon, maar geleenthede is op hierdie stadium beperk.

Ons beplan om ʼn botteleringsaanleg op Koopmanskloof te vestig wat ons in staat sal stel om landgoedstatus te verkry, asook groter beheer oor die volle wynwaardeketting binnenshuis, op ons eie perseel.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede oor die pad vorentoe?

Die wiel sal weer draai. Bly aanpasbaar, byt vas, en moenie bronne nou aanwend waar dit nie absoluut noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van die besigheid nie. Stel dus uit wat kan uitgestel word tot toestande verbeter.

Gebruik tegnologie en innoveer so ver as moontlik om te kommunikeer, te bemark en te verkoop. Dit is in elk geval goedkoper. Sien om na werksfamilies en doen alles in jou vermoë om hulle gesond, veilig en positief te hou, want noodsaaklike seisoenale take mag nie afskeep word nie. Dis ʼn feit dat daar geleenthede in strawwe tye is, soek daarvoor. Gebed help beslis.

Besoek: www.koopmanskloof.co.za

 

Go Back