News

Pieter du Toit, eienaar van Kloovenburg Wyn- & Olyflandgoed.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Ons werk met die mooiste produkte – die wingerdstok en sy wyne – en ons bedryf het die warmste, mees innoverende mense. Kom ons vier dit, deel ons stories wêreldwyd en nooi toeriste om ons te besoek!” sê Pieter du Toit, eienaar van Kloovenburg Wynlandgoed in die Swartland.

 

1. Vertel ons meer oor Kloovenburg?

Kloovenburg is geleë net buite Riebeek-kasteel in die pragtige Swartland. Die plaas is reeds vanaf 1956 in die Du Toit-familie en die kelder, wat normaalweg sowat 200 ton kan verwerk, is eers in 2000 gerestoureer.

By Kloovenburg fokus ons op die hoë-gehalte mark en alles begin in die wingerd. Ons beskik oor wit- en rooiwyne in die Kloovenburg- en Eight Feet-wynreekse en verkoop ook druiwesap onder die Kloovenburg-handelsmerk. Ons uitvoermark groei elke jaar, en tans voer ons 40% van ons wyne uit teenoor 60% plaaslike verkope. Sowat 80% van ons plaaslike wynverkope geskied vanaf ons kelderdeur.

Hier op Kloovenburg maak ons egter nie net wyn nie, maar verbou ook tafeldruiwe en olywe en het onlangs met avokado’s begin boer. Gedurende parstyd neem ons ongeveer 300 mense in diens om te help op die plaas.

 

2. Hoe het julle die 2022-seisoen beleef?

Die 2022-seisoen was ʼn baie interessante een. Ons totale tonne het taamlik toegeneem, wat die logistiek in die kelder baie moeilik gemaak het.

Ons is baie dankbaar vir ʼn uitstekende gehalte wyndruifoes vanjaar. Vanjaar was ook ʼn rekordoes op die plaas, met net meer as 300 ton wat vanjaar by die kelder ingeneem is. Buiten ons eie kelder lewer ons ook druiwe aan Riebeek Kelder en ander privaatkelders.

 

3. Wat maak jul streek spesiaal?

Ek dink wat die Swartland so spesiaal maak vanuit ʼn toerisme-oogpunt is die feit dat dit baie gediversifiseerd is. Hier verbou ons tafeldruiwe, wyndruiwe, olywe, koringlande, kanola en nog baie meer. Ons is ook nie te ver van die groot dorpe of stede nie en vandat die nuwe hoofweg voltooi is, is ons ʼn uur se ry vanaf Kaapstad lughawe. So toeriste kan maklik uitkom na die platteland vir ʼn daguitstappie, naweek of selfs vir ʼn week.

Ons streek het ook eiesoortige Malmesbury skaliegronde, wat baie bydra tot die uniekheid van die wynstyle uit die streek. Selfs in die Swartlandstreek is die wynstyle ook gediversifiseerd namate die terroir vanaf Piketberg tot Paardeberg verskil.

 

4. Het julle enige nuwe planne in die pyplyn?

Ons het sowat 10 jaar gelede ʼn klomp nuwe kultivars geplant op die plaas wat baie beter aanpas in die Swartland as tradisionele druifsoorte. Klimaatsverandering is iets wat ons verseker in ag moet neem wanneer ons enige nuwe aanplantings oorweeg.

Ons sal graag vorentoe meer aanplantings wil doen teen die plaas se hellings vir premiumdoeleindes, en ook om meer van die koel seebriese te kan opvang. Al ons wingerde word op die Riebeekberg-hellings geplant.

 

5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede?

Ons werk met van die mooiste produkte – die wingerdstok en die wyn – en ons bedryf het die warmste, mees innoverende mense. Kom ons vier dit, deel ons stories wêreldwyd en nooi toeriste in!

Ek glo ook daarin dat alles wat afgaan, weer opgaan. Dit was ʼn moeilike paar jaar, maar byt vas – goeie dinge is op pad!

 

 

Go Back