Ons gesels elke maand met ’n kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.
1. Vertel ons bietjie meer oor Groote Post.
Groote Post is ’n geskiedkundige 18de-eeuse plaas aan die Kaapse Weskus waar wynmaaktradisies deur die Pentz-familie herleef word. Ons is tans drie Pentz geslagte saam op die plaas: ek, my pa en my oupa. Eiesoortige aspekte en koel klimaatstoestande van die Darling Hills lewer uitstekende vrug vir ons wynreeks. Ons wyne word geproduseer om die besondersheid van ons wingerde te weerspieël. Ons bied wynproeë, wildritte, pieknieks, natuurwandelings en middagete by Hilda’s Kitchen aan.
2. Wat maak jou opgewonde van jou werk elke dag?
Die geleentheid om elke dag my passies uit te leef en in ’n bedryf te werk wat so divers en dinamies is. Die wat weet sê gewoonlik: “Doen waarvoor jy lief is en jy sal nie ’n dag in jou lewe hoef te werk nie.” Ek doen dit daagliks. Andersins kry ek ook daagliks die geleentheid om te skep en nuwe mense te ontmoet en bande te smee. Dis voorwaar ’n voorreg.
3. Watter lesse het julle uit die afgelope paar uitdagende jare geleer?
Verseker dat als in ’n oogwink kan verander, maar so ook dat jy uitdagings die hoof moet kan bied en dit ook kan omskep in geleenthede. Jy moet kreatief wees in jou daaglikse handel en sake uit alle kante benader en dan kyk hoe jy dit kan maak werk. Die afgelope jaar is ons bedryf se veerkragtigheid mooi ten toon gestel. Ons kan waarlik enige uitdaging kan oorkom.
4. Hoe bestuur julle tans die impak van beurtkrag op die kelder en wynproelokaal se operasionele aktiwiteite?
Beurtkrag is die nuwe kragwoord in ons besigheid. Dit domineer meeste van ons samelewing se gesprekke op die oomblik en frustreer almal, maar dit is ’n proses wat ons moet bestuur. Ons het gelukkig kragopwekkers wat die proelokaal en kelder aan die gang hou wanneer beurtkrag toegepas word, maar dit stoot natuurlik jou operasionele kostes taamlik op. Alternatiewe kragoplossings soos son- en windenergie is verseker werkbaar, maar die aanvanklike kostes bly hoog.
5. Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?
Ten spyte van al die negatiewe, bly die toekoms vir ons bedryf blink. Die krag is in ons hande om ’n verskil te maak en dinge te laat gebeur. Daar is soveel geleenthede wat nog ontgin moet word en ons wynbedryf is vol innoverende skeppers wat die Suid-Afrikaanse wynlandskap nog tot hoër hoogtes gaan neem. Bly positief en bly werk aan die besonderse bedryf van ons.