News

Peter de Wet, eienaar van Excelsior-wynlandgoed buite Robertson.

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.

1. Vertel ons meer oor Excelsior?

Excelsior-wynlandgoed naby Robertson is al 160 jaar in die De Wet-familie, en ek is die vyfde geslag wat op die plaas boer. Die plaas beslaan meer as 275 ha, waarvan 226 ha tans onder wingerde is en die res is toegewy aan sagte sitrus.

Afgesien van die wingerd- en kelderbedrywighede, het ons ook ‘n klein restaurant op die plaas en bestuur ons ‘n suksesvolle luukse gastehuis in die ou herehuis. Ons neem regoor hierdie aktiwiteite altesaam 105 mense in diens.

Ons voer 85% van ons wyne uit en verkoop die oorblywende 15% in die plaaslike mark – hoewel dit vanjaar nog minder sal wees na die verbod op plaaslike verkope. Ons fokus op die middelvlakverbruiker wat gehalte waardeer, maar nie meer as R100 per bottel wil spandeer nie. Dit is die kern van ons besigheid, hoewel ons ook wyne teen hoër pryse vir ‘n spesiale geleentheid bied.

2. Hoe het die beperkings op drankverkope gedurende die nasionale inperking julle geaffekteer?

Ons is gelukkig dat uitvoere die grootste deel van ons besigheid is, en dat sekere markte soos die VK en die VSA in daardie tyd eintlik gegroei het. Uiteraard is die plaaslike verkope en gasvryheidsdeel van ons besigheid ernstig geraak, maar deur WVF-ondersteuning en voldoende reserwes het ons daarin geslaag om afleggings te vermy.

Ek het van die begin af gevoel dat dit belangrik is dat mense steeds ‘n inkomste het en dat ons die besigheid gesond moet hou. Dit was ‘n balanseertoertjie, maar dit lyk of ons redelik ongeskaad daardeur gekom het.

Ons het ons aanlynverkope verbeter, hoewel daar uitdagings met afleweringsdienste was. Ons het hierdie aangespreek en ek glo ons kan aanvaar dat aanlynverkope nou in Suid-Afrika is om te bly.

3. Met die huidige surplus van ongekontrakteerde wyn, heers daar kommer dat daar nie plek in kelders gaan wees vir die 2021-oes nie, en sommige produsente oorweeg “green harvesting”. Maak julle tans enige aanpassings in die wingerd of kelder met betrekking tot die 2021-oes?

Dit gaan goed met ons, want ons het daarin geslaag om wyne uit te voer. Ons wil graag spasie beskikbaar hê sodat ons ander produsente in die streek kan help. Dit gaan in 2021 vir baie produsente ‘n uitdaging wees.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn by Excelsior?

Ons het ons eerste Malbec in 2020 geoes en dit lyk baie belowend. Ons het dit geplant as ‘n versnitkultivar in Cabernet Sauvignon. In die eerste jaar het dit reeds die versnit gehaal en ons verwag dit sal met tyd verder verbeter. Ons doen ook proeflopies met alternatiewe onderstokke, want ek glo dat die regte kombinasie van kultivar en onderstok die sleutel tot gehalte en volhoubaarheid is.

5. Wat is jou boodskap aan ander kelders of produsente?

Die wynbedryf ervaar tans een van sy slegste tye nog, maar ons het voorheen in ons lang geskiedenis ook voor uitdagings te staan gekom. Dink aan filloksera, sanksies, ens. Maar die wiel draai uiteindelik. Hou by wat jy goed doen, doen dit beter en gaan voort daarmee om wyne te maak wat verbruikers wíl drink.

 

 

Go Back