News

Paul Clüver Jnr, bestuurshoof van Paul Clüver Wyne.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Om meer volhoubaar te wees, vereis van jou om soms te erken dat jy dalk in die verlede verkeerd was en ʼn bereidwilligheid om te verbeter. Ons gaan foute maak op ons volhoubaarheidsreis, maar die motivering sal altyd wees om goed te doen,” sê Paul Clüver Jnr, bestuurshoof van Paul Clüver Wyne.

1. Vertel ons meer oor Paul Clüver Wyne?

Paul Clüver Wyne is ‘n vierdegenerasie-familieonderneming wat in 1896 gestig is. Die plaas lê in die koelklimaat Elginvallei, omring deur Suid-Afrika se eerste biosfeerreservaat, die UNESCO-geakkrediteerde Kogelberg Biosfeerreservaat. Ons het 75 hektaar onder wyndruifwingerde, maar boer ook met appels en pere en het ‘n Herefordstoetery en verskeie toeriste-aktiwiteite.

Ons beskou onsself as ‘n baanbrekerfamilie wat spesialiseer in die vervaardiging van wêreldgehalte Chardonnay en Pinot Noir uit die Elginvallei en wy onsself daaraan toe om deurlopend te verbeter. Ons tipiese verbruikers is lief vir elegante, klassieke koelklimaat-wyne – veral ons Chardonnay en Pinot Noir – en diegene wat ‘n Sauvignon Blanc geniet met ‘n ronder, voller mondgevoel, met minder gras en soetrissie en meer tropiese ondertone.

Ons Seven Flags-reeks is vir die oordeelkundige versamelaar, ons Estate-reeks is vir die romatikus, die kosliefhebber, die oordeelkundige wyndrinker en vir diegene wat enige geleentheid onvergeetlik wil maak. Laastens teiken ons Village-reeks die verbruiker wat passievol is daaroor om daagliks wyn te geniet, van ons Sauvignon Blanc tot Chardonnay, Pinot Noir en Riesling. Ons voer 40% van ons wyne uit en verkoop 60% plaaslik.

2. Volhoubaarheid is ‘n groot dryfveer in jul besigheid. Wat beteken “volhoubaarheid” vir julle, en hoe maak julle dit deel van jul daaglikse aktiwiteite?

Ons fokus daarop om wêreldgehalte vrugte en wyne te produseer wat die eiesoortigheid van die Elginvallei weerspieël, maar meer spesifiek van De Rust Landgoed, terwyl ons deurentyd bedag is op die effek wat ons optrede op beide die omgewing en ons gemeenskap het. Ons leef ons volhoubaarheidsbeginsels uit deur verskeie sosiale en omgewingsinisiatiewe, sowel as volhoubare waterbestuurspraktyke en deur klimaatsverandering aan te spreek.

Die meeste van Paul Clüver se plaaswerkers woon in De Rust Village op die plaas, wat oor ‘n groot gemeenskaplike spasie in die middel van die dorpie beskik, insluitend ‘n gemeenskapsaal en ‘n kerk. Die dorpie is ook aan die voorpunt van die Thandi-projek, een van die eerste swart ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe in Suid-Afrika, wat werkers in staat stel om hul eie boorde te besit. Meer as 60 jaar gelede het Gertrude Clüver ook ‘n plaasskool op die landgoed gestig, wat met ondersteuning van die plaaslike gemeenskap gegroei het van slegs 23 leerders tot meer as 1 000 vandag. De Rust Futura Akademie is nou ‘n formele Wes-Kaapse Departement van Onderwysskool, wat ‘n ECD-kleuterskool, Graad R tot 12 en nasorgsentrum insluit waar leerders daaglikse etes ontvang. Die skool het ‘n sterk landboufokus, insluitend die vestiging, instandhouding en verkoop van vars produkte.

Ons gebruik sedert 2015 sonpanele om ons netwerk se elektrisiteitsverbruik te verminder en was een van die eerste plase in Suid-Afrika om die Geïntegreerde Plaagbestuursinisiatief te loods, wat onder andere waar moontlik die bestuur van insekte sonder plaagdoders insluit. Ongeveer 60 van die plaas van 2 400 ha is onder bewaring, en behalwe dat die landgoed deel is van ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied, die Kogelberg Biosfeerreservaat, is ons betrokke by verskeie bewaringsinisiatiewe, insluitend ons rol as ‘n WWF-bewaringskampioen sedert 2008. Ons het reeds meer as 800 inheemse bome geplant, is aktief betrokke by die verwydering van indringerplante en het ekologiese gange tussen die plaas en die berg geskep.

Ons boerderypraktyke fokus op die aktiewe bewaring van die hele wateropvanggebied, insluitend die verwydering van uitheemse plantegroei, die gebruik van ʼn deklaag van opgekapte indringerbome om verdamping te verminder en grondkwaliteit te verbeter, die gebruik van nette om verdamping te verlaag, sonbrand te verminder en kleurontwikkeling te bevorder, deur gewasse saans te besproei en deur slegs wingerde en vrugtebome te plant wat die meeste geskik is vir die klimaat en grond. Ons maak ook gebruik van die nuutste tegnologie om ons besproeiingskedulering te verbeter, insluitend die gebruik van weerstasiedata om risiko’s te voorspel en te bestuur, die monitering van grondvog met grondvogmeters en die gebruik van hommeltuie vir presisielandbou en ruimtelike kartering. Ons gebruik ook Fruitlook (www.fruitlook.co.za), ‘n aanlyn hulpmiddel wat produsente help om te verstaan hoe hul gewasse reageer as deel van ‘n groter watersiklus in hul streek.

Buiten dat ons ons waterbronne doeltreffend bestuur om ons gewasse teen klimaatsverandering te buffer, is ons ook besorgd oor uiterste weersomstandighede, soos uiterste hitte en ʼn tekort aan koue-eenhede in die winter. Ons voorsien dat ons vorentoe waarskynlik meer nette sal moet oprig om sonbrand en haelskade vorentoe te verhoed. Ons is 100% verbind tot herlewingslandbou en glo dat as ons na ons gronde omsien as ‘n groeimedium en ‘n meer holistiese benadering volg, dit ‘n gesonde ekosisteem sal verseker wat ons kan buffer teen die ergste gevolge van klimaatsverandering. Hoe gesonder die stelsel, hoe beter sal dit uiterste weersomstandighede kan hanteer.

Ek dink om meer volhoubaar te wees, vereis van jou om soms te erken dat jy dalk in die verlede verkeerd was en ʼn bereidwilligheid om te verbeter. Ons gaan foute maak op ons volhoubaarheidsreis, maar die motivering sal altyd wees om goed te doen.

3. Hoe het julle tot dusver die 2022-wyndruifseisoen beleef?

Ons moet nog binne die volgende twee weke begin pars, maar tot dusver beloof dit egter om ‘n uitsonderlike wyndruifoes te wees.

4. Enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons plant voortdurend wingerde met die fokus op beter klone en wingerdpraktyke. In die afgelope paar jaar het ons slegs op die gebruik van die Guyot-stelsel gefokus.

5. Jou boodskap aan ander wynkelders oor die pad vorentoe?

Fokus op dit waarmee jy goed is; moenie probeer om iets vir almal te wees nie.

 

Go Back