News

Nick Pentz, eienaar van Groote Post.

Ons gesels elke maand met ‘n Vinpro-lid oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.

 

1. Vertel ons meer oor Groote Post?

Groote Post-wynplaas teen die Weskus is altesaam sowat 2 700 ha groot. Buiten 119 ha wyndruiwe produseer ons ook koring, kanola, gars en voergewasse. Ons het ʼn Angus beesstoet en kommersiële SA vleismerinoskape vir vleis- en wolproduksie. Die plaas neem 55 persone regdeur die jaar in diens, en 80 tydens parstyd.

Ons wingerde het in die 2020-oesjaar 820 ton wyndruiwe gelewer, waarvan ons 550 ton self verwerk het en 270 ton aan ander kelders verkoop het. Ons speel grotendeels in die plaaslike mark, met slegs 25% van ons wyne wat uitgevoer word.

Groote Post teiken die premium-wynverbruiker met ʼn reeks van 13 wyne wat wissel tussen R85 en R250 per bottel, met die oog daarop dat die wyne onder R100 per bottel elke dag geniet kan word, terwyl die wyne bo R200 per bottel meestal vir spesiale geleenthede bestem is.

2. Hoe het die beperkings op drankverkope gedurende die nasionale inperking julle geaffekteer?

Ons het drie maande se verkope aan die kleinhandel en restaurante verloor. Wat uitvoere betref, was die verbod aan en af en daar was logistieke probleme by die hawe om ons wyn verskeep te kry. Ons oorsese markte is ook erg deur Covid-19 affekteer, so bestellings was baie kleiner.

Die feit dat ons ʼn wynklub en ʼn sterk aanlynteenwoordigheid het, het gehelp. Verhoogde aanlynaktiwiteit het daartoe gelei dat ons gedurende die inperking baie meer direkte verkope as gewoonlik gehad het.

Ek skat egter dat ons totale verkope gedurende die inperking steeds slegs ʼn derde was van wat dit moes wees. Die twee derdes wat verlore is, sal nooit weer opgemaak kan word nie.

Die algemene ekonomie was al voor die Covid-19 pandemie erg onder druk. Die wynbedryf is baie mededingend, en dit gaan ʼn moeilike tyd wees wat voorlê, met al die kelders wat vir die verbruiker se min rande moet meeding.

3. Met die huidige surplus van ongekontrakteerde wyn, heers daar kommer dat daar nie plek in kelders gaan wees vir die 2021-oes nie, en sommige produsente oorweeg “green harvesting”. Maak julle tans enige aanpassings in die wingerd of kelder met betrekking tot die 2021-oes?

Ons wynvoorraad voor Covid-19 was redelik laag as gevolg van vier jaar van laer produksies weens die droogte. Die verlore maande se verkope gaan maak dat ons ons beplanning gaan moet opskerp, maar daar word nie enige drastiese aksie oorweeg nie.

4. Julle het onlangs op sosiale media gewys hoe julle nuwe Sauvignon Blanc-wingerde aanplant, in ʼn tyd dat heelwat ander produsente huiwerig was in nuwe wingerde te belê. Wat is julle denkwyse hier rondom?

Die wynbedryf is ʼn langtermyn bedryf, met wingerde wat agt jaar neem voor hulle winsgewend is, om nie eens te praat van ʼn wynkelderbelegging wat nog langer neem voor dit ʼn wins realiseer nie. ʼn Wingerd se leeftyd is ongeveer 25 jaar en jy moet ongeveer 3% van jou wingerde elke jaar vervang om te sorg dat jou totale wingerd lewenskragtig bly en druiwe van hoogstaande gehalte kan voorsien.

Die Sauvignon Blanc-wingerd wat ons nou plant se wingerdstokkies is al 18 maande terug bestel by die kweker, want hy moet dan al weet watter kloonkombinasie jy wil hê. Die wingerd wat ons nou plant sal eers in 2022 druiwe lewer.

5. Wat sou jou boodskap aan ander kelders of produsente wees?

Wyn kom al honderde jare aan as die drankie van keuse om saam met kos te geniet en die vraag daarna sal altyd daar wees. Covid-19 het wêreldwyd groot skade aan lande en ekonomieë veroorsaak, maar dit sal ook verbygaan.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf se groot voordeel is ons pragtige natuurskoon en wynplase wat ʼn groot verskeidenheid aktiwiteite vir besoekers bied. Ons moet die enorme voordeel wat wyntoerisme inhou besef en dit uitbou. Buitelanders sal ons gasvryheid kom beleef en huis toe gaan en ons wyn in hul lande opsoek. Daar is ʼn baie groot mark buite Suid-Afrika vir ons wyne, en verbruikers met goeie koopkrag. Nie net in die wynbedryf nie, maar regoor Suid-Afrika, het toerisme ook die vermoë om die grootste werkskepper te wees.

Ons moet innoverende verpakking skep en topgehalte wyne maak om soveel as moontlik waarde te kan toevoeg. Druiweprodusente gaan nou meer as ooit vantevore moet konsentreer op gehalte en saam met kelders moet werk om ʼn produk te lewer wat tot op die hoogste vlak waarde kan toevoeg.

 

Go Back