News

Kobus Deetlefs, eienaar van Deetlefs Landgoed in die Breedekloofstreek.

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.

1. Vertel ons meer oor Deetlefs Landgoed?

Deetlefs Landgoed in die Breedekloofstreek is die tweede oudste wynlandgoed onder eienaarskap van dieselfde familie in Suid-Afrika en elk van die sewe geslagte het op hulle eiesoortige manier waarde toegevoeg tot ons groei.

Ons fokus 100% op wyndruiwe en het tans 100 ha wingerd in produksie wat ons alles self verwerk. Alhoewel ʼn verskeidenheid druifsoorte danksy onder andere verskillende grondtipes, baie goed vaar is daar ʼn sterk fokus op Chenin Blanc en Pinotage, asook Sémillon en Malbec. Ongeveer 70% van ons wyn word internasionaal verkoop en 30% plaaslik.

Ons teikenmark is enige iemand wat wyn geniet en daar is ʼn verskeidenheid wynreekse wat baie stylspesifiek is en wissel van R70 tot R450 per bottel. Ons lê ook klem op die luukse segment en die baie seldsame 1974 Muscat d’Alexandrie verkoop tans vir R25 000 per bottel.

Ons het 60 mense in diens en ander inkomstestrome word geskep deur ʼn onafhanklike laboratorium en ʼn botteleringsmaatskappy.

Ons is danksy ʼn goeie span dankbaar om terug te kyk na prestasies soos besigheid van die jaar, top wynlaboratorium in Suid-Afrika en verskeie wyntoekennings. My filosofie oor toekennings is dat jy oor tyd moet strewe na uitnemendheid op alle vlakke van jou besigheid. Jy moet op die radar wees, maar die fokus moet bly op volhoubare groei.

2. Julle het ʼn interessante bemarkingsbenadering en maak van vennootskappe (bv fashion pop-up, virtual butler training en verskeie virtuele proeë en geleenthede saam met invloedryke persone en besighede) gebruik om jul voetspoor te vergroot. Vertel ons meer oor jul denkwyse.

Ons probeer indiwidualisties dink en op ons sterkpunte te speel. In ons geval werk sosiale media platforms.

Wyn is so ʼn eiesoortige produk en dis vir ons belangrik om dit toeganklik te maak vir mense. Ons besigheidsmodel was nog altyd geskoei op langtermynverhoudings en wedersydse waardetoevoeging met indiwidue wat ons waardes en fokus deel.

Virtuele proeë was ʼn logiese volgende stap genoodsaak deur die Covid-19 inperkings en het tesame met ons aanlynverkope ʼn belangrike rol gespeel om ons aanlynteenwoordigheid uit te brei.

3. Hoe het die beperkings op drankverkope gedurende die nasionale inperking jul besigheid geraak?

Die beperkings het uiteraard almal geraak en die sweepslag-effek van stortmaatvoorrade gaan slim beplanning en samewerking van almal in die bedryf noodsaak.

Ons het van die begin af onderneem om alles menslik moontlik te doen om eerstens ons mense veilig te hou en tweedens die besigheid. Danksy samewerking op alle vlakke en ʼn aanpasbare span kan ons met dankbaarheid terugkyk.

Ons het gelukkig reeds ongeveer vier jaar gelede in ʼn aanlynplatform belê, wat tot sy reg gekom gedurende die Covid-periode. Daar was spesifieke inisiatiewe geloods met vooruitverkope gedurende die inperking, met aflewering na opheffing en sekere uitvoermarkte het goeie groei getoon.

Besighede was gedwing om te herbesin oor effektiwiteit en kommunikasie, wat positiewe gevolge gehad het en potensiaal ontsluit het.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons planne is geskoei op 2022 wanneer ons ons 200ste bestaansjaar vier en ons is opgewonde om dan ʼn baie spesiale Armagnac-styl brandewyn vry te stel.

5. Wat is jou boodskap aan ander produsente en kelders oor die pad vorentoe?

Aanvaar onsekerheid as deel van die lewe en wees aanpasbaar.

Moet nooit vergeet dat strukture en stelsels deur mense gedryf word nie – maak seker jy het die regte mense in jou span en skep geleenthede vir groei.

Betrek kundigheid van buite, speel op jou besigheid se unieke sterkpunte en sit jou naam op wat jy doen.

 

 

 

Go Back