News

Johan Reyneke, eienaar van Reyneke Wyne.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Omring jouself met goeie mense, hou aan leer en moenie opgee nie. Die toekoms is blink!” sê Johan Reyneke, eienaar van Reyneke Wyne.

1. Vertel ons meer oor Reyneke Wyne?

Reyneke Wyne is geleë op die ou Polkadraai-pad buite Stellenbosch. Die plaas se geskiedenis strek tot so ver terug as 1863, maar die Reynekes het eers sedert 1988 die voorreg gehad om dit ons tuiste te noem.

Altesaam 80 ha van die totale 120 ha op die plaas word as wyndruiwe verbou. Ons boer ook met beeste, gaan binnekort organiese groente verbou en verhuur kothuise uit aan diegene wat soos ons van die landelike leefstyl hou.

Ons wyne, wat die Reserve, Biodynamic en Organic-reekse insluit, is almal vegan-vriendelik en biodinamies- of organies-gesertifiseerd. Die meerderheid van ons wyne word uitgevoer (80%) teenoor plaaslike verkope. Verbruikers wat ons wyne waardeer hou van topgehalte wyne wat gemaak is op so ʼn manier dat dit die natuur respekteer. Winsbejag is dan ook nie ons hoofdoelwit nie, maar om ʼn balans te vind tussen geld, ons medemens en die natuur.

Ons neem 15 persone permanent in diens en verskaf van tyd tot tyd deur die jaar seisoenswerk. Die plan is om nog mense permanent in diens te neem namate ons besigheid groei en ons hulle heel jaar van werk kan voorsien.

2. Hoe het julle die 2022-parsseisoen sover beleef?

Die 2022-seisoen was oor die algemeen goed en ons verwag ʼn groot oes van goeie gehalte. Die fenoliese rypheid was mooi, met lae suikers en hoë natuurlike sure.

3. Julle is bekend vir organiese wyndruifverbouing. Vertel bietjie meer hieroor.

Ons is deeglik daarvan bewus dat landbou een van die top vyf sondebokke is wat tans bydra tot aardverwarming. Gelukkig beteken dit ook dat landbou ʼn noemenswaardige en positiewe verskil kan maak indien produsente herlewingslandboupraktyke op ʼn volhoubare wyse toepas. Verbruikers wêreldwyd en plaaslik ondersteun ons sienswyse om saam met die natuur te werk om gesonde ekosisteme en volhoubare produksie vir volgende generasies te verseker, en ons is baie dankbaar daarvoor.

4. Het julle enige nuwe planne in die pyplyn?

Ons werk tans aan ʼn 10-jaar plan waarmee ons streef om ons wyngehalte en boerdery-aktiwiteite aansienlik op te skerp. Dit word bestuur deur ʼn multidissiplinêre span wat kyk na uiteenlopende veranderlikes wat tog op mekaar inspeel op ʼn plaas, onder andere die koolstofvoetspoor, grondmikrobes en humusvlakke, insekte en voëls, bedreigde renosterveld, werkergesondheid, opvoeding en bemagtiging, die voorsieningsketting, verspreidingsnetwerke en nog vele meer.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede?

Die Latynse spreekwoord lui: “Nil magnum, nisi bonum – there can be no greatness without goodness”. Omring jouself met goeie mense, hou aan leer en moenie opgee nie. Die toekoms is blink!

 

 

Go Back