News

Jacques Bruwer, eienaar en keldermeester van Bon Courage Wynlandgoed.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “ʼn Goeie wyn sal altyd verkoop! Maak ʼn wyn wat die wingerd en sy omgewing die beste na vore bring,” sê Jacques Bruwer, eienaar en keldermeester van Bon Courage Wynlandgoed.

1. Vertel ons meer oor Bon Courage?

Bon Courage Wynlandgoed is in die skilderagtige Robertsonvallei geleë, 9 km buite Robertson op die R317. Die plaas is sedert 1927 die tuiste van drie opeenvolgende generasies Bruwers.

Ons verbou sowat 170 hektaar wingerd, waarvan ons ʼn groot en diverse reeks wyne maak. By Bon Courage bied ons ʼn uitgesoekte wyn vir elke verbruiker, geleentheid en smaak – van Cap Classique tot wit- en rooiwyne, asook ʼn gefortifiseerde wyn. Sowat 60% van ons wyne word uitgevoer, teenoor 40% wat plaaslik verkoop word.

Wat Bon Courage veral spesiaal maak, is die feit dat ons as ʼn familiebesigheid almal self aktief betrokke is. Ons wyne word op die landgoed verbou, gemaak en gebotteleer, wat beteken dat ons beheer het oor elke aspek van ons wyne – van die wingerd tot die bottel. Daarom kan jy altyd verseker wees van die beste gehalte!

Ons neem sowat 60 persone permanent in diens, en maak nie gebruik van seisoenswerkers nie. Ons mense woon en werk op die plaas en sommige kom al vir generasies saam aan, wat aan ons span ʼn gees van samehorigheid gee.

2. Watter lesse het julle sedert die aanvang van Covid-19 geleer?

Ons het geleer om saam te staan, meer as ooit vantevore. Almal moes by die onbekende aanpas, maar met goeie spanwerk het ons positief gebly. Ons het ook geleer om buite die boks te dink en op ons sterkpunte te fokus.

3. Wat maak jul streek spesiaal?

Soos met die meeste wyne, dra wingerdligging tot die eindproduk by en dit is juis ons eiesoortige terroir wat ʼn groot rol in ons veelsydigheid speel. Ons is geseënd met drie riviere wat deur die plaas vloei en oor miljoene jare het dit verskeie grondtipes meegebring. Vandag help hierdie goeie en uiteenlopende terroir ons om ʼn groot verskeidenheid wyne te produseer. Onverdeelde aandag word aan elke druifsoort gegee om sy volle potensiaal as wyn te bereik.

Ons streek is ook besonder vrugbaar. Die vallei het goeie kalkgronde en genoegsame watertoevoer uit die Breederivier. Ons het ʼn droë klimaat wat besproeiingsbeheer vergemaklik en ook daartoe bydra dat ons wingerde gesonder bly in terme van siektes.

Uit ʼn toerisme-oogpunt is ons streek nie gekommersialiseer nie en word verseker gekenmerk deur ons mense se uitsonderlike gasvryheid.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

By Bon Courage laat ons ons lei deur kliënte se behoeftes en plant gewoonlik aan wat die mark benodig. Ons is tans besig om ons parskelder te moderniseer om ons prosesse gedurende parstyd te vergemaklik en sien beslis uit na die 2022-pars met ons nuwe toerusting.

Ons het onlangs ons hand gewaag aan die gewilde “bag-in-box” verpakking vir ons oorsese mark en dit doen tot dusver baie goed.

Een van ons gewildste wyne gaan ook binnekort met ʼn nuwe etiket spog en ons is opgewonde daaroor om te sien hoe die mark hierdie verandering gaan ontvang.

5. Wat is jul raad/motivering aan ander wynbesighede?

Spanwerk is baie belangrik – hetsy op jou eie plaas of met medeprodusente. Ons glo dat wyn in die wingerd gemaak word en die ideaal is om dit so eenvoudig moontlik te hou, met minimum inmenging sodat ons ʼn wyn kan skep wat vir homself praat. Onthou ʼn goeie wyn sal altyd verkoop.

 

 

Go Back