News

Jaco van Niekerk, keldermeester by Piekenierskloof Wynkelder.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. Jaco van Niekerk, keldermeester by Piekenierskloof Wynkelder, sê “Hou moed! Die wat kan vasbyt gaan die vrugte van hul waagmoed pluk”.

1. Vertel ons meer oor Piekenierskloof?

Piekenierskloof Wynkelder is in geleë in Citrusdal, ʼn klein dorpie sowat 1.5 uur se ry vanuit Kaapstad. Ons wingerde word op die Piekenierskloofplato ongeveer 10 km voor Citrusdal verbou.

Die Van Zyl-familie is reeds meer as 60 jaar betrokke by die kelder. Carel van Zyl was van die stigterslede van Citrusdal Wynkelder in 1957 en in 2017 het sy seuns Potgieter en Oubaas van Zyl die ander aandeelhouers uitgekoop.

Ons pars ongeveer 5 000 ton per jaar. Die wingerde beskik oor ʼn eiesoortige terroir, met ʼn baie hoë konsentrasie van die land se oudste wingerde wat deel vorm van die Ou Wingerdprojek. Hierdie wingerde is droëland bosstokwingerde soos in die Swartland, maar lê bo 600 m bo seespieël, wat ʼn enorme impak op die kwaliteit van die wyne het.

Piekenierskloof voer sowat 80% van sy wyne uit en bied enige iets van uitstekende waarde-vir-geld-wyne aan supermarkte tot hoë-pryspuntwyne aan direkte kliënte, eksklusiewe winkels en restaurante. Ons het tans vier wynreekse, naamlik die Ou Wingerdreeks aan die bokant van die prysspektrum, die Piekenierskloof-reeks en die Swartland Stonedance- en Six Hats-reekse wat beide Fairtrade-geakkrediteer is.

Buiten wynverkope verdien die besigheid ook ʼn inkomste uit sitrus, rooibostee, sagtevrugte (vars en gedroog), wyndruiwe, graan en vee. De Tol-padstal en deli teen die N7 op die Piekenierskloofpas, waar ons proelokaal geleë is, is veral gedurende die blommeseisoen in Augustus en September baie besig. Die wynkelder self neem 23 persone in diens.

2. Die afgelope jaar was die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud?

Ons behoud in hierdie tyd was die feit dat ons eienaars en produsente nie primêr van wyndruiwe afhanklik is nie. Dit bly egter kommerwekkend en is nie ʼn langtermyn manier van besigheid doen nie.

3. Wat maak jul streek spesiaal in terme van toerisme en wyndruifverbouing?

Citrusdal is relatief naby aan die Kaap so dis ʼn lekker daguitstappie na ons proelokaal en deli in die Piekenierskloofpas. Dit is ook ʼn gerieflike aftrekplek indien jy byvoorbeeld na Namibië toer.

Piekenierskloof is bekend vir die meeste Grenache Noir-wingerde in Suid Afrika, wat tans baie gewild is onder verbruikers. Die Tafelberg-sandsteengronde, hoogte bo seespieël en droëland bosstokwingerde leen hulself tot baie gekonsentreerde wyne.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons plant nog variëteite soos Cinsaut, Grenache Blanc, Pinot Noir, Chenin Blanc, Sangiovese en Carignan om ons bestaande kultivars te ondersteun. Daar is ook ʼn baie opwindende nuwe produk wat later vanjaar vrygestel word.

5. Wat is jul boodskap aan die res van die bedryf?

Die meeste markte oorsee beskik oor ʼn afdeling vir Suid-Afrikaanse wyne en ons moet bly poog om die beste moontlike wyne daarvoor te maak. Hou moed, die wiel sal draai en die kelders wat kan vasbyt sal die vrugte van hul waagmoed pluk!

 

 

Go Back