News

Hansie Britz, eienaar van Under Oaks.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “As ons saam kan staan as ʼn bedryf om waarde te verhoog en die gehalte van ons puik Suid-Afrikaanse wyne te besing, kan ons ʼn blink toekoms vir hierdie ongelooflike bedryf verseker,” sê Hansie Britz, eienaar van Under Oaks buite die Paarl.

 

1. Vertel ons meer oor Under Oaks?

Simon van der Stel het die plaas Honswyk in 1695 aan die vryburger Frans Hendrickz uitgegee. Met ‘n kleurryke geskiedenis, en deur verskeie eienaars, het hierdie stukkie paradys die toets van tyd deurstaan. Die plaas, wat nou as Under Oaks bekendstaan, lê teen die noordelike hange van Paarlberg, net buite die Paarl op pad na Windmeul.

Ons vier vanjaar 20 jaar van wynmaak – ʼn trotse mylpaal en ‘n ongelooflike vriendskap wat ontwikkel het tussen ons wynmaker, Bertus Fourie, en ons familie. Dit het van ‘n Vrydagaand-geselsie (oor ʼn glas wyn) ontwikkel tot ‘n bekende handelsmerk in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Ons verbou ongeveer 30 ha wyndruiwe en maak wyn van ons eie druiwe. Ons verkoop van die orige druiwe aan die KWV.

Ons is ‘n boetiekkelder en roem ons dus daarop om uitstekende gehalte wyne teen goeie pryse te produseer en verkoop. Under Oaks se wyne is spesiaal vir die kliënt met ʼn waardering vir premiumwyne wat gemaak is met respek vir die natuur. Ongeveer die helfte van ons wyne word plaaslik verkoop (slegs direk by die plaas of vanaf ons aanlyn winkel) en die ander helfte word uitgevoer, met Switzerland, Duitsland en Nederland as ons hoof uitvoermarkte.

Under Oaks huisves ook die bekende Under Oaks Pizzeria onder die bekwame leiding van Carlos d’Oliveria. Kom proe die beste pizzas suid van Italië!

Verder het ons ook ʼn gastehuis wat alombekend is vir die pragtige ligging en beeldskone uitsigte. Ons gaste verlaat Under Oaks as vriende en kom gereeld terug. Covid-19 het dinge ʼn bietjie deurmekaar gegooi, maar ons gereelde buitelandse gaste is weer terug en ons gevoel is dat toerisme besig is om weer op te tel vanjaar.

2. Watter lesse het julle oor die afgelope paar uitdagende jare geleer?

Ons kyk met nuwe waardering na ons wynvriende en besoekers. Sonder hul ondersteuning kan ons nie bestaan nie. Dit is vir ons belangrik om hul behoeftes beter te verstaan, en om beter met hulle te kommunikeer, op welke wyse ookal.

Ons aanlyn winkel het gegroei, maar moet nooit die waarde van persoonlike ontmoetings en gesprekke onderskat nie. Ons het ook die grendeltyd gebruik om die restaurant op te knap en te beplan vir opwindende dinge waarna besoekers kan uitsien.

3. Wat maak jul streek spesiaal vanuit ʼn toerisme-oogpunt, asook in terme van die terroir en wynstyle uit hierdie streek?

Die Paarl bied ‘n ongelooflike verskeidenheid toerisme-aantreklikhede vir alle toeriste. Daar is iets vir ieder en elk – van ongelooflike restaurante tot ʼn magdom fantastiese wynplase met proelokale en baie buitemuurse aktiwiteite. Natuurlik is ons weer ook baie gunstig vir besoekers vir ‘n groot deel van die jaar.

Een van die groot wingerd-leermeesters van ons tyd, prof Eben Archer, het na die gronde in die omgewing verwys as “poeding-gronde” – ryk, gesonde kleiryke gronde waarin ʼn wingerd gemaklik kan leef. Met die verweerde graniet van Paarlberg, asook Glen Rosa- en Oakleaf-gronde in baie noue nabyheid skep dit die perfekte geleentheid vir Bertus om maklik kompleksiteit in ons wyne te verkry. Ons is dankbaar vir water, en kan besproei as die wingerd en grond daarvoor vra. Die wyne reflekteer die lekker klimaat waarin ons is – ryp, vruggedrewe, sag en vol met ʼn goeie verouderingsvermoë. Wyne wat lekker is om te drink op die grasperk, of om ʼn etenstafel.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons het ‘n proefblok Pinot Noir aangeplant, en die eerste wyn daarvan lê met trots en verouder. Dit is ʼn 2020-oesjaar en ons wag in spanning dat dit gereed is om vrygestel te word. “Alpha” wat “Die Eerste” beteken, is ʼn ryper styl, dog elegante Pinot Noir van die eerste drag van ʼn baie klein blokkie Pinot Noir wat ons vier jaar gelede geplant het – téén die tradisionele oortuigings van waar Pinot Noir moet groei.

Ons is ook besig met uitbreidings op Grande Roche (ons suster-eiendom) wat definitiewe Italiaanse nuanses gaan hê. Maar soos hulle so mooi in Engels sê: “Watch this space …”

5. Wat is jou boodskap aan ander wynbesighede?

Almal in die bedryf verstaan die vele uitdagings van kliënte bou, kliëntediens en markte soek. Almal verstaan die noodsaaklikheid van produk skuif (al te meer na Covid-19) en ek voel as ons saam kan staan as ʼn bedryf om waarde te verhoog en die gehalte van ons puik Suid-Afrikaanse wyne te besing, kan ons ʼn blink toekoms vir hierdie ongelooflike bedryf verseker.

 

 

 

Go Back