5 vrae aan … Francois Joubert, Keldermeester by Le Lude
Ons gesels elke maand met ’n kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.
Vertel ons bietjie meer oor Le Lude.
Le Lude produseer eksklusief Cap Classique. Die eerste oesjaar was in 2012 en dié oesjaar se Vintage Cuvée het ’n 97-punttoekenning in Decanter ontvang, ’n eerste vir SA Cap Classique. Le Lude fokus daarop om die beste Cap Classique in Suid Afrika te produseer en met innoverende en nuwe grondslag idees te vore te kom. Le Lude het die ou tegniek van sekondêre gisting op kurk met uitstekende resultate vir die eerste keer in Suid-Afrika toegepas. Ons is ook baanbrekers in langtermyn-gismoerveroudering, waar ons reserwereeks vir ’n minimum van 36 maande só verouder word en ons Vintage Cuvée word vir tot 120 maande so verouder. Hoewel die verouderingstydperk lank is, bly die wyn vars en sprankelend – ’n goeie bewys dat SA se Cap Classique wel op gismoer kan verouder.
Hoe het julle hierdie afgelope seisoen beleef?
Die seisoen het sy uitdagings gehad. Met ’n relatiewe droë en warmer winter het ons probleme ondervind met dormansie veral in Chardonnay. Baie reën in Desember het die droë toestande verlig, maar swamdruk verhoog, veral witroes. Ons het middel Januarie begin pars en binne drie weke was als aan die gis – vinnig en rof. Als was af voor die hittegolwe in Februarie en dus kon ons die natuurlike sure behou. Alhoewel die tonne bietjie af is van verlede jaar is die kwaliteit goed.
Watter lesse het jul uit die afgelope paar uitdagende jare geleer?
Wees innoverend en beplan vir enige uitkoms. Met al die gebeure in ons land se politieke sisteme, energieverskaffing, pandemies en oorloë is dit noodsaaklik om deeglike besluitnemings te maak waarby die maatskappy baat vind. Maak jou stilwyne ekstra koud om verkoeling te bied as die kragopwekker ophou werk, huur die koeltrok om druiwe te vervoer, bêre so ’n ekstra 1 000 liter diesel net vir ingeval jy droogloop.
Hoe bestuur jul tans die impak van beurtkrag op jul operasionele aktiwiteite?
Beurtkrag is ’n werklikheid en sal ongelukkig nie vinnig opgelos word nie. Ons realiteit is dat kragopwekking en storing ons verantwoordelikheid is. Ons het reeds in 2018 vir ons ’n kragopwekker aangekoop. Die hardloop voluit, maar sodra ons sjef haar konveksieoonde aansit tydens middagete moet die verkoeling af weens die hoë lading. Ek hou sowat 10% van my reeds gemaakte wyn by 5°C, wanneer ek dus koue nodig het sal die tenke die koue aan my stelsel verskaf. Ons druiwe word ook oornag in verkoelingseenhede verkoel en ons het ’n verkoelingstrok gehuur vir die vervoer van ons druiwe.
Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?
Die pad vorentoe vir die Suid Afrikaanse wynbedryf is vol onverwagte struikelblokke en verfrissende denke is nodig om ’n sukses van jou besigheid te maak. Soos die wynkoper tans verander sal die wynbedryf daarby moet aanpas. Wees innoverend en wees waaghalsig.
