Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “ Die wynbedryf kan ‘n uitdagende sektor wees, maar ons moet innoverende maniere vind om te boer en van die grond af volhoubaar te bly,” sê Elizma Visser, wynmaker en wingerdboukundige by Olifantsberg.
1. Vertel ons meer van Olifantsberg?
Ons wingerde groei teen die hange van die Olifantsbergberg. Die hoogte bo seespieël sorg vir groot skommelinge tussen dag- en nagtemperature, wat lei tot ‘n stadige, egalige rypwording en komplekse vrug. Die grond is oud en verweer, met net genoeg water wat diep onder die harde oppervlak skuil.
’n Sterk wind teister die wingerde jaar lank, wat dit moeilik maak vir die plant om te groei. Dit is egter ‘n positiewe stryd, want dit lewer klein, gekonsentreerde korrels vol geur en kwaliteit. Druiwesoorte word gekies vir hul vermoë om natuurlik in hierdie toestande te floreer.
Afsonderlik beskou is nie een van hierdie elemente uitsonderlik nie, maar wanneer hulle op hierdie spesiale plek gekombineer word – word ‘n magiese karakter saamgevoeg. Eerlik is die woord wat die wyne van Olifantsberg die beste beskryf – wyne wat die legende van Olifantsberg en sy kenmerkende persoonlikheid weerspieël.
2. Wat maak jou opgewonde van jou werk elke dag?
Nie een dag is dieselfde nie. Jy is die een oomblik ten volle op die wingerd gefokus en die volgende oomblik ontmoet jy internasionale gaste wat jou passie deel vir die wyne wat ons produseer.
Dit is nie net ‘n werk nie, maar ‘n manier van lewe vir ons. Jy moet regtig lief wees vir wat jy doen. Dit kan uitdagend wees, maar die uitdagings bou karakter. Om met wingerde te boer en wyne te maak met ‘n spesiale karakter maak ons opgewonde en inspireer ons om ons plek beter te verstaan en wyne te produseer wat ons storie vertel.
3. Wat is die een ding by Olifantsberg wat jy wil hê elkeen onder die son moet van weet?
Ware innovasie plaas die natuur op die voorgrond, daarom is volhoubaarheid die kern van alles wat ons doen. Dit gaan verder as die goeie omgewingspraktyke wat gewoonlik verwag word. Vir ons is dit eerder ʼn bewustheid van die natuurlike wêreld wat ons wil agterlaat.
Of dit nou boerdery of wynmaak is, ons glo in minder ingryping en die herstel van die omgewing deur gebruik te maak van toonaangewende wetenskap. Neem minder, gebruik minder, sit meer terug. ʼn Toekoms van minder verbruik is vir ons ʼn toekoms met oneindige moontlikhede.
4. Wyntoerisme is ʼn groot deel van jul besigheid en moes erg deur Covid-19 geraak gewees het. Wat het julle deurgetrek en watter lesse het julle in dié tyd geleer wat deel geword het van hoe julle nou besigheid doen?
Ons het gefokus op die dinge wat ons kan verbeter en die dinge waaroor ons beheer gehad het, die res was regtig uit ons hande. Individuele verhoudings was verskriklik belangrik en ons het selfs sterker bande met ons bestaande kliënte gebou.
Ons was gelukkig dat ons uitvoermarkte redelik stabiel was en dit het ons aan die gang gehou. Ons het ons besigheid plaaslik en internasionaal uitgebrei om ‘n algehele sterker markposisionering te verkry.
5. Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?
Ons moet ons rol in die groter prentjie oorweeg. Die wynbedryf kan ‘n uitdagende sektor wees, maar ons moet innoverende maniere vind om te boer en van die grond af volhoubaar te bly.