
1. Du Toitskloof het onlangs ‘n handelsmerkvernuwing en aanbouingsveldtog geloods? Vertel ons meer hiervan.
Du Toitskloof is al vir dekades lank ‘n ikoniese gas by Suid-Afrikaanse tafels. Soos Mev Balls en Tannie Paarman is die geliefde handelsmerk al vir jare ‘n huishoudelike naam. Na amper 60 jaar vanaf ons stigtingsdatum in 1962 het ons in 2019 begin werk aan nuwe konsepte om Du Toitskloof ‘n varser en jonger voorkoms te gee sonder om ons erfenis en persoonlikheid te verloor. In 2020 is die nuwe etikette vrygestel gevolg deur ‘n kreatiewe bemarkingsplan en doelwit om ons kelderfasiliteite te moderniseer en te verander na ‘n ware toerismebestemming. Ons bouprojek was net betyds klaar vir ons 60ste verjaarsdagvieringe en vanjaar spring ons weg van ʼn plek waar ons visie vir ‘n kwaliteit aanbieding nou op alle vlakke belyn.
Ons het ook in 2022 ons produksiebesigheid en handelsmerk geskei in die sin dat ons voortaan bekend sal staan as DTK Wines, ʼn Suid-Afrikaanse produsent wat verskeie handelsmerke produseer en bestuur met drie primêre handelsmerke: Du Toitskloof, Land’s End en Quest.
2. Wat maak jou opgewonde van jou werk elke dag?
As bemarkings- en uitvoerderbestuurder is my gunsteling projekte om ʼn produk vanuit die wingerd en van die grond af te ontwikkel. Ek geniet onderhandelings met buitelandse kliënte – as ʼn konsep gevorm is en dan ontwikkel saam met die visuele elemente en storie. Dis eenvoudig fantasties.
Ek is ook lief vir die sielkunde in wynproe, so ek bied graag blinde proeë aan wat mense uitdaag om buite die boks te funksioneer en persepsies by die deur te los. Dis vir my een van die mooiste en kwesbaarste dinge om te sien hoe mense ingestel raak op hulle eie sintuie en dan hul menings en ervarings deel sonder om te weet wat die wyn kos, hoe dit lyk of waar dit vandaan kom. ‘n Mens moet mos die lae afhaal om eerlik te wees en in ‘n blinde wynproe sien ‘n mens die Ware Jakob.
3. Watter lesse het jul uit die afgelope paar uitdagende jare geleer?
Jou krag lê in hoe buigsaam jy kan wees wanneer die wind op sy ergste waai. Kreatiwiteit is een van die gesogste bronne in ‘n besigheid is, veral wanneer jy ‘n weg moet vind wanneer die waters onstuimig is. ‘n Sterk span kan ‘n besigheid deur enige storm lei wanneer almal nie net doen wat van hulle verwag word nie, maar gereed en gewillig is om in te spring waar nood is. Daardie eerste paar weke toe ons aanlynverkope tydens die pandemie gestop is was almal hier ‘n bokspakker en etiket-plakker!
4. Hoe bestuur jul tans die impak van beurtkrag op die kelder en wynproelokaal se operasionele aktiwiteite?
Die DTK-direksie het reeds vroeg in 2022 ‘n sonpaneelinstallasie-inisiatief goedgekeur ten einde elektrisiteitskoste te help bespaar en die uitdagings van beurtkrag beter te bestuur. Ons het besef dat ons sover moontlik na alternatiewe planne moet kyk. Einde laas jaar is ‘n sonkrag-PV-stelsel geïnstalleer wat bestaan uit 1 138 panele van 550 Watt per paneel. Ons sal na verwagting 1 045 000 kWh per jaar kan opwek wat 35% van DTK Wines se totale verbruik is. In terme van sonkragproduksie is 35% die teiken waarna gemik word sodat ons oorproduksie tot die minimum kan beperk en verseker dat alle opwekking self verbruik word. Ons staan tans effektief op hierdie limiet. Ons is dus bevoorreg, ons het ten alle tye gedurende die werksdag krag by die kelder, die proelokaal en Ou Meul restaurant.
5. Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?
Belê in jou identiteit as wynonderneming en Suid Afrikaanse wynprodusent. Met baie kompetisie daar buite is dit al wat jy het wat jou eie is. Bly eg aan wie jy is, vertel jou eie storie en wees trots op jou erfenis.
Belê ook in jou span, nie net deur middel van ‘n salaris nie, maar om geleenthede te skep waar jou personeel kan kontak maak met mekaar. Dis gewoonlik om die braaivleisvuur wanneer jy besef hoe dit met jou kollega gaan en waar jy gesonde werksverhoudings smee. Niks is so spesiaal en kragtig soos ‘n klein bietjie belangstelling, empatie of aanmoediging nie. Dit help ook om te onthou dat daar iemand agter die skerm sit wanneer jy ‘n e-pos vir iemand tik. ‘n Gesonde span is die boublokke tot ‘n gesonde besigheid.
