News

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. Conrad Vlok, wynmaker van Strandveld Wingerde, die mees suidelike kelder in Afrika, sê hoewel dit moeilik is om positief te bly gedurende en na die drankverbod, glo hy dat die bedryf weer sal kan opstaan.

 

Conrad Vlok, wynmaker by Strandveld Wingerde.

Hy skryf eers einde Januarie …
As ek maar net in Desember al hierdie vrae kon antwoord. Toe het ons besigheid nog inkomste gehad, wynverkope het gevlieg en Covid was iets wat ander mense kry. Vandag lyk alles anders en dit is nogal moeilik om ʼn positiewe uitkyk op ons bedryf te hê. Ek wil egter glo dat ons wel weer deur hierdie moeilike tyd sal kan opstaan.

1. Vertel ons meer oor Strandveld Wingerde?

Strandveld is die mees suidelike wynkelder en wingerd in Afrika, op die Dammepad tussen Elim en Kaap Agulhas. Die plaas is in 2001 bekom deur ʼn groep avontuurlustige aandeelhouers met die droom om nuwe wynplaas in onbekende omgewing vir wingerdbou te vestig. Hulle het in 2002 begin wingerd aanplant. Ek het einde 2004 by hulle aangesluit nadat ek die bekende van Stellenbosch vaarwel geroep het en met my hele jong familie hierheen verhuis het. Die ou plaasstoor is omskep in ʼn wynkelder en ek het die eerste wyn van ons eie druiwe hier gemaak in Februarie 2005.

Ons is ʼn klein kelder wat sowat 300 ton wyndruiwe jaarliks pars en verkoop meeste van ons wyn onder ons eie handelsmerke. Ons het tans 87 ha onder wingerd. Die gemiddelde produksie is laag (4 ton/ha), veral op die ouer stokke (3 ton/ha), maar die nuwe aanplantings lewer baie beter opbrengste (8 ton/ha).

Ons het tussen 2002 en 2004 altesaam 65 ha wingerd geplant, meestal Sauvignon Blanc en Sémillon aan die wit kant en Shiraz en Pinot Noir aan die rooi kant, met ʼn klein bietjie Grenache Noir, Viognier en Mourvédre om speserygeure tot ons reeks te voeg.

Ons wou van die begin af verbruikers op ʼn ontdekkingspad van ons eiesoortige wynterroir neem met ons twee wynreekse, naamlik First Sighting en Strandveld Vineyards. Beide is in die premium prysklas en die uiteenlopende wynstyle kan direk aan die spesifieke grondsoort, kultivar en terroir gekoppel word. Ons fokus sterk op die Wyn van Oorspring Elim en saam met ons bure is die Kaap Agulhas-distrik welbekend vir sy koelklimaat wyne.

Hoewel ons aanvanklik slegs ons wyne plaaslik verkoop het, het ons oor die afgelope sewe jaar dit reggekry om ons aanhang oorsee te vergroot. Tans word 70% van ons wyne plaaslik verkoop, en 30% onder ons eie etiket na oorsese markte uitgevoer. Soos die meeste klein wynplase fokus ons ook sterk op toerisme en verhuur kothuise waar gaste die plaas kan kom ervaar en ʼn lekker wynproe kan geniet. Ons het ook kudde vleisbeeste wat ekstra inkomste bied.

Strandveld wingerde neem 25 permanente werkers in diens, maar ons verkaf ook werk aan ongeveer 20 tydelike werkers gedurende die snoei- en suiertydperke. Parstyd is natuurlik ʼn ander storie, want al ons druiwe word met die hand gepluk en dan word sowat 40 addisionele stukwerkers benodig. Al ons wingerdwerkers kom van Bredasdorp, sowat 35 km van ons, en word daagliks heen en weer vervoer.

2. Hoe het julle 2020 ervaar?

Covid-19 en die gepaardgaande handelsbeperkings het ons hard getref, maar ons het verskillende gebeurlikheidsplanne in plek gestel wat ons tot nou toe nog gehelp het om kop bo water te hou.

Ons het ons verkoopspan almal in diens gehou, al was dit met verminderde salaris. Ons het oor die jare ʼn groot databasis van ons privaat kliënte opgebou en ons verkoopspan het hulle gereeld gekontak om die verhouding in stand te hou en spesiale aanbiedings te deel. Dit is hierdie kliënte wat ons gered het deur ons steeds te ondersteun en ons is hulle baie dankbaar.

In die wingerd en die kelder het ons voortgegaan met normale produksie soos beplan. Dit was ʼn wyse besluit om veral in die kelder te hou by die produksieplan. Ons het altyd wynvoorraad gereed gehad om op kort kennisgewing aan die mark te kon lewer. Interessant genoeg het verbruikers se gedrag verander en wou hulle meer wyn vinniger by hul huise afgelewer hê, so ons het ons logistieke beplanning aangepas en kon die geleentheid benut.

3. Strandveld se wingerde staan op ʼn baie eiesoortige terroir, en is veral bekend vir baie uitdagende klimaatsomstandighede soos stormsterkte wind en suidoostereën. Hoe bestuur julle jul wingerde anders?

Ons noem ons wit versnit na Adamastor, die Portugese seegod van wind en storms, en daarvoor betaal ons wel die prys. Gereelde laat kouefronte gedurende blomtyd met nat, koue weer is maar die hoofoorsaak vir ons lae produksies. Die grond is ook nie van die oubaas se beste nie en die vlak, suur en brak gruisgronde op kleilaag het medium lae potensiaal.

Oor die jare het ons heelwat geleer hoe om wel die omstandighede beter te bestuur. Ons plant ons nuwe wingerde in ʼn oos-wes ryrigting om die windskade te beperk, kies die regte onderstokke (US 8-7), pas hoër plantdigtheid (4 000 stokke/ha) toe en plant die regte kultivars wat hulself al in hierdie gebied bewys het, naamlik Sauvignon Blanc en Shiraz.

Verder soek ons die diepste gruisgrond op die plaas en nuwe wateraanleidings word gedoen om slegs op die beste potensiaal gronde te plant.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Die meeste van ons wingerde is nou 19 jaar oud en vervanging is baie belangrik. Weens verskeie faktore is die produktiewe leeftyd van wingerd in ons area nie baie lank nie – veral die Sauvignon Blanc loop erg deur onder esca (dead arm disease) of terugsterwing.

Ons is daarom tans besig om nuwe aanplantings te doen, spesifiek met vernuwing in die stelsel wat ons gebruik, naamlik die Guyot-snoeistelsel. Dit word reeds met goeie resultate in ander koue, nat wingerdverbouingsgebiede soos Chili en Nieu-Seeland op Sauvignon Blanc toegepas en verhoog produksiepotentiaal.

Ons hou ook daarvan om met ander kultivars te eksperimenteer. Ons weet byvoorbeeld vir ʼn feit dat Tempranillo en Chardonnay nie in die area werk nie; dis net eenvoudig te wind gevoelig. Die Albariño-proef lyk baie goed sover, maar ons sal nog jaar moet wag vir die eerste druiwe om gepars te word.

Ons behou egter ons fokus op dit wat werk in die area, naamlik koelklimaat Shiraz en Sauvignon Blanc. Dit is waarvoor ons bekend is in die wêreld en ek dink nie ons moet nou met Chenin of iets anders begin karring nie.

5. Wat is jou boodskap aan ander kelders en produsente vir die pad vorentoe?

Ek dink ons moet leer by die voorbeeld van daai ou bosstokwingerde in die Swartland. As die droogte druk en dis vrek warm dan gooi hul maar die oortollige blaartjies af net om te kan oorleef, en in die volgende lente bot hulle weer met nuwe moed. Ek hoop en bid dat die effek van die Covid-pandemie gou tot einde sal kom en ons as bedryf sterker aan die anderkant sal uitkom.

 

 

Go Back