News

Boets Nel (heel regs), eienaar van De Krans Wyne in Calitzdorp, saam met sy span permanente werknemers gedurende die 2020 Covid-19 inperking.

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.

1. Vertel ons meer oor De Krans?

De Krans-wynlandgoed, in Calitzdorp in die Klein Karoo, is sedert 1890 in die Nel-familie se besit. Ons oes normaalweg so 600 ton van ons eie druiwe per jaar en koop nog so 100 tot 150 ton aan. Weens die droogte van die afgelope vyf jaar in die Klein Karoo het ons produksie in 2019 gedaal tot net meer as 200 ton, met ʼn effense verhoging in 2020, maar steeds onder 40% van ʼn normale oes. Dit het ons genoodsaak om oor die afgelope paar jaar heelwat meer druiwe aan te koop.

De Krans het ʼn groot verskeidenheid verbruikers en pryse wat wissel van R65 tot byna R400 per bottel. Ons voer sowat 35% van ons wyne na oorsese markte uit, en verkoop dus die meerderheid van ons wyne plaaslik. Die bistro op die plaas is baie gewild en bied ʼn addisionele inkomstestroom, tesame met appelkose en perskes wat ons aan inmakers op Ashton lewer.

Hoewel ons bekend is vir ons gefortifiseerde wyne en veral Portugese druifsoorte, het dit eintlik per ongeluk oor ons pad gekom. In 1973 het my pa Chris en sy broer Danie besluit om vir die eerste keer Shiraz aan te plant. Drie jaar later, toe die eerste druiwe gepluk is, het hulle eers agtergekom die (gesertifiseerde) Shiraz-stokkies was eintlik Tinta Barocca, ʼn bekende Portugese kultivar! Dit was die begin van Portugese kultivars in Calitzdorp.

In 1977 is eerste port van Tinta Barocca gemaak en dit het dadelik goed gevaar op die Suid-Afrikaanse Jongwynskou. Mettertyd is ander Portugese druifsoorte aangeplant, soos Touriga Nacional, Tinta Roriz en Tinta Amarela, wat veral baie goed vaar in die droë Klein Karoo-klimaat.

Intussen het ons ook heelwat Chenin Blanc, Chardonnay, Cabernet Sauvignon en Pinotage (uitsluitlik vir rosé) aangeplant. Hierdie vier variëteite vorm die basis van ons kultivarreeks en is nou ʼn baie belangrike wynreeks vir De Krans. Ons het ook die eerste Moscato Perlé-wyn gemaak in Suid-Afrika in 2012, wat nou uitstekend vaar in die binnelandse mark, asook in uitvoermarkte.

Ons het altesaam 29 permanente werknemers en in die somermaande neem ons seisoenswerkers in diens. Werkskepping in ʼn klein dorp soos Calitzdorp is vir ons baie belangrik, en daarom voer ons steeds alle aksies in die wingerd, insluitend pars, met die hand uit.

2. Hoe het die beperkings op drankverkope gedurende die nasionale inperking julle geaffekteer, en hoe het julle aangepas?

Die beperkings op wynverkope het ons baie hard geslaan, veral omdat ons steeds vasgevang is in ʼn ernstige droogte.

Gelukkig het ons reeds vir ʼn hele aantal jaar aanlynverkope as ʼn opsie vir verbruikers en ook ʼn bedrywige wynklub, wat baie gehelp het. Die kleinhandelmark is egter steeds baie belangrik vir ons en ons het sedert middel Augustus, na verkope in die week hervat het, baie goed gevaar in hierdie sektor. Die verbod op verkope van geslote bottels oor naweke het ons besigheid ook tot en met die opheffing op 12 November 2020 seer gemaak. Dit was moeilik om vir ʼn besoeker te probeer verduidelik dat hy ʼn bottel wyn kon drink tydens ʼn ete by ons bistro, maar dat hy nie ʼn bottel kon koop en saamneem huis toe nie!

Gedurende die volledige inperking was ons bistro en proelokaal beide gesluit. Ten spyte van die verbod en die droogte, het ons ons voorgeneem om nie enige van ons permanente personeel af te lê nie. Ons het toe begin met die Bloeiselprojek, waardeur ons allerhande handwerkprodukte uit ou vate, wynbottels, wingerdstompies – alles wat geredelik beskikbaar was – gemaak het.

Ons is geseën met ʼn wonderlike span by De Krans, wat die uitdaging aanvaar, en ʼn groot sukses daarvan gemaak het. Ons verkoop sedert begin Oktober hierdie produkte in die proelokaal. Lees meer oor die projek by https://dekrans.co.za/blossom-project/.

3. Die Klein Karoo is een van die streke wat die hardste deur die droogte getref is. Hoe het dit julle getref, en hoe lyk die vooruitsigte nou?

Ons produksie het erg gedaal vanweë die droogte en daarmee saam met 40% van ons wingerde en 30% van ons bome permanent gevrek, wat herplant moet word sodra ons weer genoeg water beskikbaar het.

Hierdie is die ergste en langste droogte in die Klein Karoo se geskiedenis, selfs erger as die droogte van 1915 tot 1918. Die reënval was effens beter oor die afgelope twee maande en een van die twee besproeiingskema-damme het nou genoeg water vir die hele seisoen. Die Gamkapoortdam, met die Groot Karoo tussen Merweville en Beaufort-Wes as opvanggebied, is ongelukkig nog leeg.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons bly optimisties en ons stokkies is reeds bestel vir die 2021-winterseisoen, maar dit sal natuurlik afhang van of die Gamkapoortdam vanjaar goeie water kry.

Wyntoerisme is vir ons baie belangrik, en die bistro en proelokaal speel ʼn onontbeerlike rol. Ons het ook drie geleenthede waartydens besoekers hulle eie appelkose, perskes en Hanepoot-druiwe kan pluk op die plaas, wat gewoonlik baie gewild is. Ons werk ook hard aan die groei van ons uitvoere en plaaslike verkope, maar die huidige markomstandighede maak dit ʼn uitdaging.

5. Wat is jou boodskap aan ander kelders of produsente vir die pad vorentoe?

Die moeilike omstandighede die afgelope paar jaar in die Klein Karoo (selfs voor die inperking) het ons op ons knieë gehou, maar ook dankbaar vir elke ligpunt en elke geleentheid. Ek het ook geleer dat as een deur toegaan, daar altyd ʼn ander deur oopgaan – jy moet net die skrefie in die oop deur raaksien.

 

Go Back