News

Bernhard Veller, eienaar van Nitida in Durbanville.

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee.

1. Vertel ons meer oor Nitida?

Ek en my vrou het die plaas in 1990 hoofsaaklik as woonplek gekoop. Ons het net voor dit van Johannesburg af Kaap toe getrek en wou meer ruimte hê as die tipiese eiendomme in die suide van Kaapstad. Ons het in 1992 wingerde begin aanplant en ons eerste wyne in 1995 gemaak. Die eiendom beslaan in totaal 37 ha, waarvan 16 ha onder wingerd is.

Ons het van die begin af op die bevordering van verkope vanaf die plaashek gefokus. Met twee restaurante op die plaas, verkoop ons tans meer as 45% van ons wyne aan verbruikers deur hierdie afsetgebied. Ons het ‘n sterk fokus op plaaslike handel en verkoop nog 45% deur verspreiders en nasionale groothandelaars. Nie meer as 10% van ons wyne is bestem vir die uitvoermark nie. Dit bestaan meestal uit klein hoeveelhede wat na ʼn aantal Europese en Noord-Amerikaanse markte uitgevoer word.

Alhoewel die geboue van die twee restaurante tot die plaas behoort, word dit operasioneel apart van Nitida bestuur. Daar is egter noue samewerking tussen die entiteite.

Die plaas en die kelder het ongeveer 15 mense permanent in diens, hoewel sowat 100 mense in totaal op die plaas werksaam is.

2. Hoe het julle 2020 ervaar?

2020 was ʼn baie uitdagende jaar, hoofsaaklik weens die onsekerheid rondom wynverkope wat vir so lank geheers het. Dit is uiters moeilik om in so ʼn omgewing sinvolle planne te maak.

Om veral die uitdagings rondom verkope te oorkom, wou ons nie by ‘n afslagstrategie betrokke raak nie, maar het eerder twee baie suksesvolle kompetisies geloods om verkope te genereer. Ons het verseker dat ons aanlynteenwoordigheid en sosiale media-aktiwiteite baie gefokus was, en dit het goeie interaksie rondom die handelsmerk tot gevolg gehad.

Ons ervaar werklik dat ons baie beter ondersteuning van die plaaslike gemeenskap kry en ons werk hard om aan hul verwagtinge te voldoen.

3. Met die 2021-wyndruifoes net om die draai, hoe was die seisoen tot dusver en hoe lyk jul verwagtinge van die nuwe oes?

Die 2021-oes gaan baie anders wees as gevolg van die laat begin van die seisoen vanweë koue toestande gedurende die lente. Die oes lyk op hierdie stadium gemiddeld, maar ons is hoopvol vir goeie gehalte.

Ons sal die oortollige wyn in die kelder weens beperkings op verkope gedurende die inperking vorentoe noukeurig moet bestuur. Ons het vanjaar niks anders in die wingerde gedoen nie, maar fokus deurlopend daarop om die beste vrugte moontlik te produseer.

4. Enige opwindende verwikkelinge in 2021?

2021 gaan ‘n jaar van konsolidasie wees terwyl ons werklik gewoond raak aan die nuwe normaal. Vanuit ‘n algemene perspektief van die boerdery het ons goedkeuring gekry om ‘n boetiekhotel op die plaas te bou.

5. Wat is jou boodskap aan ander kelders of produsente vir die pad vorentoe?

Kyk vir geleenthede buite jou tradisionele mark en bly aanpasbaar en ligvoet.

 

Go Back