News

Attie Louw, wynmaker by Opstal Wynlandgoed.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Vind die balans en geniet dit wat jy graag wil doen in jou wingerde en wyne, in lyn met wat die mark vereis,” sê Attie Louw, wynmaker by Opstal Wynlandgoed.

1. Vertel ons meer oor Opstal?

Opstal Wynlandgoed is geleë in die pragtige Slanghoekvallei en ons vorm deel van die Breedekloof wynstreek. Die plaas is reeds sedert 1847 in ons familie en ek en my broer Zak is die sewende generasie op die plaas.

Ons boer altesaam oor 165 ha, waarvan die oorgrote meerderheid wingerd is, saam met ʼn gedeelte perskes, persimmons en appels. Ons maak ’n verskeidenheid wyne en style in verskillende reekse, maar ons hooffokus is baie beslis Chenin Blanc. Die Carl Everson-wyne in ons Heritage-reeks is ons vlagskip produkte.

Opstal se totale verkope-samestelling beloop 60% plaaslik en 40% uitvoere. Buiten wynverkope is ons ook baie trots op die landgoedrestaurant wat my pa, Stanley en ma, Ria in 2004 reeds begin het. Opstal Stay is ʼn toevoeging tot ons besigheid, waardeur ons akkommodasie bied en op dié manier ons toerisme-aanbod verder uitbrei.

Ons het 80 permanente werknemers in diens, waarvan heelwat van hulle tweede en derde generasie werknemers op die plaas is. Ons familiebesigheid se identiteit sluit hierdie hele klein Opstal-gemeenskap in.

2. Hoe het julle die 2022-seisoen sover beleef?

Ons 2022-parsseisoen het geduldig weggetrek, maar in die Slanghoekvallei is ons gewoond aan ʼn lang en stadige rypwordingsproses. Ons het 70% wit kultivars en die varsheid is beslis weer daar. Op dié stadium lyk dit of die feit dat ons vallei altyd so laat is ons wingerde darem so bietjie gebuffer het teen die strawwe hittegolwe van Januarie en begin Februarie.

3. Hoe hou julle verbruikers opgewonde oor Opstal as ʼn handelsmerk en jul wyne?

Ons fokus baie sterk daarop dat die verbruiker ons by Opstal besoek om sy of haar ervaring so eg en positief moontlik te maak. Ons vind dat dit die beste manier is om ʼn gemeenskap van lojale Opstal-aanhangers te bou.

Buiten dit hou ons die webblad en sosiale media stylvol, op datum en met ‘n tikkie pret en lawwigheid daarby ingemeng van tyd tot tyd. My broer Zak is onder andere besig met ʼn “pars-playlist” waar hy op ons sosiale media die parsaktiwiteite met ons volgers deel, saam met musiek van sy of hulle keuse – en hy is nogal ʼn performer!

4. Het julle enige nuwe planne in die pyplyn vir die jaar vorentoe?

Ons het in 2021 Grenache Noir geplant as ʼn geligte bosstok, waaroor ek baie opgewonde is en wat verder ons aandag sal geniet vanjaar. Vir 2022 beplan ons nog wingerdaanplantings, sowel as verdere uitbreiding van ons appelvertakking.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynprodusente?

Vind die balans en geniet dit wat jy graag wil doen in jou wingerde en wyne, in lyn met wat die mark vereis. By Opstal word daardie strategie ondersteun deur ʼn noue familiebetrokkenheid en ywerige en gelukkige span werknemers.

 

Go Back