News

André Landman, bestuurder en wynmaker by Die Mas.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Doen die basiese dinge reg, loop die ekstra myl, bly ingelig en staan saam,” vertel André Landman, bestuurder en wynmaker by Die Mas Kelder in Kakamas, waar hulle elke denkbare ding met die druiwekorrel en wingerdstok doen!

1. Vertel ons meer oor Die Mas?

Die Mas van Kakamas is so 2 km buite Kakamas geleë op die oewer van die Oranjerivier. Ons het in 2020 ons 50ste bestaansjaar gevier. Vlok Hanekom Snr het as onderwyser in Kakamas begin werk en in 1970 sy eerste stukkie grond gekoop. Van daar af het die plaas stelselmatig gegroei. Die wynkelder is in 2006 begin waar die eerste brandewyn in 2010 verstook is.

Ons beoog om die 2022-seisoen sowat 250 ton te pars by Die Mas waarvan sowat 70% vir brandewyn produksie gaan. Ons lewer ook ongeveer 1 100 ton druiwe aan Oranjerivier Wyne in Kakamas.

Met ons wyne wil ons regtig elke persoon met iets kan bedien. Ons pryse is billik en ons het iets vir almal. Jy kan kies van ʼn lekker rosé, witwyn, rooiwyn, soetwyn, brandewyn of jenewer. Kwaliteit en prys gaan hand aan hand, maar jy wil nie altyd ʼn arm en ʼn been daarvoor betaal nie. Elke handelsmerk is uniek in sy eie reg, maar ek dink wel dat die tyd, moeite en liefde wat ons in ons produkte insit vir hulself praat. Die aanklank wat ons skep met ons produkte loop saam met ons leuse “Perfekte Kalahari Samesyn”.

Ons verkoop tans 100% van ons produksie plaaslik, hoofsaaklik by sowat 50 winkels in die Wes-Kaap, maar ook hier in ons omgewing en deur ʼn aantal aanlynverkope. Ons is in die proses om afsetgebiede vir ons spiritusprodukte in Gauteng te vind.

Ons is gelukkig om redelik gediversifiseer te wees. Benewens die wyndruiwe en kelder, verbou ons ook tafel- en rosyntjiedruiwe wat inkomste genereer. Ons het ʼn restaurant by die kelder, asook ʼn kampeerterrein, woonstelle en chalets wat blyplek verskaf. Ons lapa teenaan die rivier is ook ʼn lekker kuierplek gedurende Desember vir die jongklomp tydens die pakseisoen.

Ek dink ook wat ons spesiaal maak is die feit dat ons seker een van die min plase in Suid Afrika is wat alles met druiwe doen wat jy kan – van tafeldruiwe en rosyntjies tot wyndruiwe, die maak van wyn, stook van brandewyn. Letterlik alles wat jy met ʼn druiwekorrel kan doen, doen ons. Ouma Welna maak tot vir ons konfyt en blatjang met die druiwe. En as die stokke te oud raak, maak ons braai hout – die perfekte siklus!

Die Mas neem 25 permanente werknemers in diens, waarvan ons vyf in die kelder is. Ons het dan ook so 180 tydelike werkers. Die tafeldruiwe en rosyntjies bly maar arbeidsintensiewe gewasse.

2. Die afgelope byna twee jaar was sekerlik die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud in hierdie tyd, en watter lesse het julle geleer?

Die laaste 18 maande was sekerlik die uitdagendste tyd in ons industrie gewees. Veral vir die kleiner ouens en die wat nie uitvoer nie. Deursettingsvermoë en geduld is seker die belangrikste eienskappe waaroor jy moet beskik. Dit was nie maklik nie. Die grendeltyd en die onluste het alles bemoeilik. Ons kon nie verkope doen nie en later het dit net so moeilik geraak om droë voorraad te bekom. Maar, ʼn boer maak ʼn plan. Die feit dat ons gediversifiseerd is, het ook baie gehelp.

Ek dink ons het geleer om meer innoverend te wees en nie moed op te gee nie. Ons het die tyd goed gebruik om oral en alles bietjie te verfyn. Ons het ook geleer dat spanwerk, saamstaan, ondersteuning en geloof jou deur die diepste drif kan trek. As jy dit by jouself en jou mense kan laat insink, kan jy berge versit.

3. Wat maak jul streek spesiaal vanuit ʼn toerisme-oogpunt, asook in terme van die terroir en wynstyle uit hierdie streek?

Kakamas en die Noord-Kaap is heeltemal anders as die Wes Kaap – dis ʼn anderste mooi. En die mense maak die area wat dit is. Dis méns-mense. Daar is niks soos plattelandse gasvryheid nie.

Ons is uiteraard ʼn warm area en het goeie gronde, wat ons help om goeie produksies te verhaal. En ons gehalte staan ook vir niks terug nie. Ons verbeter jaar op jaar. Ons kry fantastiese vrug op ons wyne.

Kakamas is dan ook lekker geleë as stopplek vir mense wat reis, veral Kalahari toe. Hier is baie om te doen en sien, onder andere die Augrabies-watervalle en Riemvasmaak se warmwaterbronne.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons is gedurig besig om aan te pas en te innoveer. Ons het pas drie nuwe brandewyne vrygestel en ek is besig om nuwe jenewers te formuleer. Dan werk ons ook daaraan om ons algehele voetspoor te vergroot deur middel van ʼn verspreidingsnetwerk en moontlik ook uitvoere.

Ons fokus bly daarop dat as jy hier instap, of by ons iets wil bestel, jy definitief iets gaan kry waarvan jy hou en kan bekostig. Ons glo in die sêding “know your people to serve your people”. Of jy ʼn brandewynmeisie, gin-man of wyntannie is, ons het iets vir jou.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede oor die pad vorentoe?

Vasbyt. Die laaste tyd was nie maanskyn en rose nie. Maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Ons is ʼn nasie wat nie sommer tou opgooi nie. Doen die basiese dinge reg, loop die ekstra myl, bly ingelig en staan saam. Ek glo dat as almal mekaar help en ondersteun gaan ons bo uitkom.

 

Go Back