News

Vertel ons meer van Perdeberg?

Perdeberg is ʼn produsentekelder wat in 1941 tot stand gekom het. Ons het in 2012 na ʼn maatskappy verander om meer markgerig te funksioneer. Ons is ʼn produsent van skaal en verwerk jaarliks ongeveer 30 000 ton druiwe maar ons is absoluut gefokus op kwaliteit. Wingerdbestuur is vir ons uiters belangrik en elke wingerdblok word vir ʼn spesifieke wyndoelwit/handelsmerk bestuur. Ons is uniek in terme van ʼn groot hoeveelheid droëland wingerde in ons voorsiening wat ons anders maak as van die ander groot produsentekelders. Vandaar ons premium handelsmerk se naam, The Dryland Collection. Hierdie reeks weerspieël die eiesoortige wyne wat in droëlandtoestande verbou word. Ons druiwevoorsieningsarea is groot met die meeste volume vanaf die Agter-Paarl en Swartland. Ons koop egter druiwe van so ver as Elgin, Stellenbosch, Franschhoek, Somerset Wes en Darling ook aan om in spesifieke markbehoeftes te vervul.

In die kelder is ʼn baie spesifieke fokus in terme van style en handelsmerke. Ons het ʼn kleiner kelder van ongeveer 1 200 ton binne die groter opset waar ons die premiumwyne apart hanteer – baie soos ʼn landgoed. Daar is 5 wynmakers in die kelder wat my hiermee help en elkeen het ʼn spesifieke area/handelsmerk waarvoor hulle verantwoordelik is. Dit is dus ʼn groot spanpoging en bied aan ons die geleentheid om op verskeie pryspunte te kompeteer.

Ons doen ongeveer 20% van ons produksie in ons eie handelsmerke en die res voorsien ons aan ander, welbekende plaaslike handelsmerke in grootmaat of aan buitelandse kopers. Die grootste hoeveelheid van ons wyn word uitgevoer, maar die plaaslike mark kry heelwat aandag wanneer dit kom by bemarking van ons eie handelsmerk. Ons restaurant met heelwat sitplek buite is uiters gewild. Ons bied ʼn uitstekende waarde-vir-geld-ervaring vir besoekers met goeie wyn en kos. Ons beplan om hierdie aanbieding in die toekoms na nuwe hoogtes te neem.

Wat maak jou opgewonde van jou werk elke dag?

Die geleentheid om met wyn te werk waar elke wyn eiesoortig is en elke seisoen anders is maak my opgewonde, bied uitdagings, maar dit hou dinge altyd interessant. By Perdeberg word daar ook baie ruimte geskep om kreatief te wees en nuwe produkte en style te ontwikkel. Hierdie omgewing en die geleentheid om met top kwaliteit droëland druiwe te werk is baie vervullend.

Wat is die een ding by Perdeberg waarvan almal moet weet?

Perdeberg is die tuiste van Chenin Blanc. Ons bied 9 verskillende style/uitdrukkings Chenin Blanc – onder andere MCC, organies, lae alkohol, natuurlike soet en gefortifiseerde Chenin Blanc.

Wyntoerisme is ʼn groot deel van jul besigheid en was erg deur Covid-19 geraak. Wat het julle deurgetrek en watter lesse het julle in dié tyd geleer wat deel geword het van hoe julle nou besigheid doen?

Ons is soos die res van die wynbedryf erg geraak in die tydperk. Ons is egter dankbaar dat die uitvoersegment van ons besigheid in die tyd baie goed gedoen het en ons in ʼn groot mate verskans het van die negatiewe impak op ons kelderdeur- en restaurantverkope. Ons het egter ook geleer verbruikers se kooppatrone het verander. Digitale platforms en wynklubs is nou ʼn groot fokusarea in ons besigheid.

Jou boodskap aan wynondernemings oor die pad vorentoe?

In die huidige ekonomiese omstandighede is dit moeilik om op die positiewe te fokus en daarop te reageer. Dit is juis in dié tye dat jy nuwe geleenthede moet ontsluit. Die fokus moet wees op langtermyn stabiele besigheid. Jy moet strategies optree om hierdie doelwitte te ondersteun. Maak seker jy weet wat in die internasionale wynwêreld gebeur en maak daarvolgens ingeligte besluite. En diversifiseer jou besigheid. Pas aan by die veranderende verbruikersbehoeftes/tendense en bou so ʼn volhoubare besigheid.

 

Go Back