Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Bly gefokus op hoë gehalte as dit by wynproduksie kom, diversifiseer jou afsetpunte en hou aan om sterk verhoudings met jou kliënte te bou,” sê Abrie Beeslaar, keldermeester by Kanonkop Wynlandgoed.
1. Vertel ons meer oor Kanonkop?
Kanonkop Wynlandgoed is geleë teen die voetheuwels van die Simonsberge, halfpad tussen Klapmuts en Stellenbosch op die R44. Die groter plaas wat Uitkyk ingesluit het, is reeds langer as 100 jaar in die Krige-familie, maar Kanonkop is in 1930 afgesonder van die res van die plaas.
Ons het 100 ha onder wingerde wat sowat 500 ton wyndruiwe per jaar oplewer, maar ons koop ook omtrent 2 000 ton druiwe in en produseer sowat 2 miljoen bottels wyn per jaar. Kanonkop spesialiseer slegs in rooiwyn en bied twee wynreekse, naamlik die Kadette en Estate. Die Kadette-reeks se wyne het ʼn sagter, vrugtiger styl vir vroeër drinkgenot en die druiwe is afkomstig van toegewyde wyndruifprodusente in die Stellenbosch-streek wat dit op kontrak lewer. Die Estate-reeks se wyne word slegs gemaak van druiwe van ouer wingerde op die Kanonkop-plaas, in ʼn komplekse styl met ʼn lang verouderingspotensiaal.
Die tipiese teikenmark vir ons wyne wissel, maar is meestal wynliefhebbers wat wyn saam met kos wil geniet en waarde heg aan tradisie. Dis ook verbruikers wat nie juis wil eksperimenteer nie, maar bly by dit wat hulle ken.
Ons voer sowat 60% van ons wyne uit en verkoop die res plaaslik. Buiten die verkope aanlyn en deur die kleinhandel het ons ook ʼn proelokaal op die plaas wat by tye lekker bedrywig is. Kanonkop neem 70 persone in diens.
2. Die afgelope byna twee jaar was sekerlik die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud in hierdie tyd, en watter lesse het julle geleer?
Die Kanonkop handelsmerk is al lank in die mark, en daar is vertroue by verbruikers opgebou oor baie jare. In moeilike tye koop mense veilig, en hulle eksperimenteer minder – ek glo dit was deel van ons behoud. Dit is baie belangrik dat jy nie al jou eiers in een mandjie sit nie. Versprei jou verkope oor baie lande, restaurante, supermarkte ens, en bou sterk verhoudings met jou kliënte.
3. Wat maak jul streek spesiaal vanuit ʼn toerisme-oogpunt, asook in terme van die terroir en wynstyle uit hierdie streek?
Stellenbosch is ʼn unieke area in terme van ons grondsoorte, klimaat, terrein, ens. Om terroir op te som is ʼn bietjie moeilik, maar dit is al die faktore wat saamwerk. Ons verweerde granietgronde, tesame met die afstand van die see is sekerlik ons grootste voordeel.
Die hoë kwaliteit van ons wyne, die natuurskoon van ons omgewing, uitstekende akkommodasiegeriewe en restaurante en ook die maklike toegang vanaf Kaapstad maak die Stellenbosch-streek beslis ʼn gewilde toerismebestemming.
4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?
Ons pak selde nuwe projekte aan, maar fokus eerder daarop om elke jaar te verbeter op dit wat ons reeds doen. Ons het nie ʼn baie groot wynreeks nie, maar strewe voortdurend na uitnemendheid in die wyne wat ons wel bied. Verder fokus ons hard daarop om meer omgewingsvriendelik te boer, maar steeds finansieel volhoubaar te wees.
5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede oor die pad vorentoe?
Vind uit wat goed vaar in jou area, en fokus daarop om dit tot die beste van jou vermoë te verbou. Dis ook belangrik vir ons as Suid-Afrikaners om ons uitsonderlike produkte met selfvertroue te bemark en verkoop.
Bowenal, bly op jou knieë, want ons werk met ʼn Godgegewe produk, en daar is baie faktore waaroor ons geen beheer het nie.