Vinpro het onlangs ʼn allemintige vier dekades van deskundige raad aan Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente en kelders gevier. Jana Loots vertel meer

Dis 1979. YMCA is bo-aan musiektrefferlyste en die eerste Star Trek-fliek word uitgereik. In Suid-Afrika kon jy vir die eerste keer wyn in supermarkte koop, maar produksie het grootliks op stookwyn en ’n paar gehaltehandelsmerke gefokus.

Belangriker nog, is KWV se voorligtingsdiens, die voorganger van vandag se Vinpro-konsultasiediens, op 1 Februarie 1979 gevestig en het in 2000 ’n nuwe baadjie en besigheidsmodel gekry.

“Vinpro se konsultasiediens het in die afgelope 40 jaar uitgebrei na ʼn omvattende tegniese wingerdboukundige en grondkundige diens wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te versterk,” het Francois Viljoen, konsultasiediensbestuurder by ʼn geselligheid in Mei gesê.

Wyndruifprodusente wou destyds meer oor verskillende kultivars, opleistelsels en wingerdbestuurspraktyke leer. KWV-voorligtingsdiens het in antwoord hierop sy deure in 1979 met ʼn span van vyf oopgemaak om kennis op ʼn breë basis uit te ruil deur produsenteproewe, studiegroepe en ander voorligtingsaksies.

Die diens is in 2000 na Vinpro-konsultasie omgeskakel en bestaan vandag uit ʼn sterk span van 14 mans en vrouens met altesaam byna 175 jaar diens. Dit sluit vyf streekswingerdboukundiges, ’n grondkundige en GIS-grondspesialis, ’n wingerdboukundige intern, Gen-Z-wingerdboukundige, drie sekretaresses, bestuurder en assistentbestuurder in.

Hoewel die span vandag sterker klem op individuele konsultasie aan primêre produsente en kelders lê, bly tegnologie-oordrag ʼn belangrike fokusarea deur middel van artikels en aanbiedings in die bedryf, asook die aanbied van inligtingsdae en studiegroepe in vennootskap met Winetech.

Die Vinpro-konsultasiediens ondergaan vanaf Julie vanjaar vernuwing wanneer Francois sy volle aandag aan die Gen Z-wingerdprojek gaan gee, en Conrad Schutte (tans assistentbestuurder) die leisels by hom oorneem. Meer hieroor in ʼn volgende uitgawe.

DIE SPAN VERTEL

Die lekkerste deel van my werk …

Om te reis en ongelooflike natuurskoon op afgeleë plekke te kan beleef. Klein Pella naby Pofadder staan veral uit, waar ek vir die Karsten-groep grondkartering moes doen. – Heinrich

As jy uiteindelik die resultaat sien in die bottel van raad wat jy aan ʼn produsent gegee het. – Etienne

Working with positive, enthusiastic individuals who are passionate about what they do, and seeing GenZ demo blocks come into fruition. – Emma

Ek is gelukkig om my passie uit te leef en innoverend te kan werk in ʼn span wat mekaar vertrou, respekteer en ondersteun. – Johan

Geen twee dae is dieselfde nie. Ek geniet die variasie en dat my rol die heeltyd ontwikkel en uitbrei. – Gaynor

Om met ʼn groep mense saam te werk wat altyd bereid is om te help en by wie jy daagliks kan leer. – Courtneigh

As my kelders goed doen en om deel te wees van lekker span kollegas. – Pierre

Dat ek buite werk met mense en kan sien hoe die wingerd deur die seisoen vorder. Ons werk is beslis nie eentonig nie. – Gert

Wanneer ek terugvoer ontvang dat ek waarde tot iemand se wingerd/besigheid/opleiding bygevoeg het. – Hanno van

Om in ons mooi omgewing te kan werk, nuwe ontwikkelings saam met produsente te beplan en ʼn paar jaar later die ontwikkelde plaas of blokke te sien. Dis lekker om probleme deur my advies op te los. – Hennie

Om ʼn inligtingsdag te reël en die lokaal is stampvol! – Soria

Dat ek met ʼn wye spektrum mense op verskeie vlakke in en om die wynbedryf werk, van plaaswerkers tot HUB’s en plaaseienaars. – Conrad

ʼn Sappige staaltjie

Die aand in Yzerfontein toe Leon Dippenaar vir ons ʼn Vinpro-temalied op Sweet Caroline se wysie geskryf en gesing het. – Gert

Pierre Snyman was nog altyd lief daarvoor om kollegas ʼn streep te trek. Ons het in die 1990’s saam in Worcester begin werk en Schalk du Toit was die senior wingerdboukundige. Dirk Bosman was as streeksbestuurder die enigste een op kantoor wat ʼn werkselfoon gehad het – ʼn groot Nokia met ʼn uittrek-antenna. Hierdie was veral vir Schalk ʼn groot bron van frustrasie en Pierre besluit toe om sy siel uit te trek. Toe Schalk een dag by die kantoor inkom, begin Pierre skielik op sy sakrekenaar praat, diep “in gesprek” met ʼn produsent. Schalk was natuurlik uit die veld geslaan en wou dadelik weet waar die foontjie vandaan kom. Na Pierre vertel Mnr (Jan) Booysen het dit spesiaal vir hom gebring, was die gort behoorlik gaar en dit het keer gekos voor Schalk op die landlyn hoofkantoor kon bel! – Hanno

Ek het in 2012 in Zambië grond gekarteer, saam met ʼn span plaaslike ouens in die bos. Ons het hard gewerk en weke lank saam gesweet. Afrika maak ʼn man hard, en ek het gedink ek is KLIPHARD. Een dag het ons paaie met ʼn luislang gekruis en met die trap op hom het die hele span soos klomp meisiekinders gegil en laat spaander – ek gooi toe sommer ook die slang met my GPS! Ek het geleer jy moet wakker slaap in Afrika en nie soos die baas van die plaas rondloop nie. – Johan

Interessante plek gekonsulteer

Whittlesea in die Oos-Kaap, wat somerreënval kry en waar hulle grotendeels met beeste boer. – Conrad

Omdat ek as kind baie by my ma se ouers in Tulbagh gekuier het, is dit spesiaal as ek na Manley toe gaan wat op destydse familiegrond staan. Nader aan Worcester is dit ongelooflik mooi om by Dasbosch-kelder verby te hou na die nou grondpadpassie na Dwarsrivierplaas waar ek konsulteer. Dis ʼn wêreld op sy eie. – Pierre

Die ou bosstokwingerde in die berggebiede rondom Clanwilliam en Citrusdal is besonders. – Gert

Ongetwyfeld die plaas Neuras naby Sossusvlei in Namibië. ʼn Fontein hou dié wingerd aan die gang in daardie woestyn-klip wêreld. Dit is ook sekerlik een van my lekkerste suksesverhale. Hulle oes het vanaf 3 ton na 8 ton en vanjaar 16 ton gestyg deur hul besproeiingskedules en bemestingsprogram te verander. – Hanno

Hoe het dinge oor tyd verander?

Daar was ʼn volle vyf wingerdboukonsultante in die Robertson-kantoor; nou is dit net ek en Hennie. – Marie-Louise

Destyds het almal baadjies en dasse gedra by vergaderings. – Pierre

Produsente was in die 90’s glad nie daaraan gewoond om vir dienste te betaal nie en dit het maar moeilik gegaan. Die tempo van verandering het ook met die jare baie versnel. – Hanno

Nege jaar gelede sou ek by sommige kliënte om die kombuistafel sit en wingerdstrategieë beplan, waarna jy sommer saam sou sit en tamaties sny vir middagete-toebroodjies terwyl hul Jack Russell op jou skoot sit. Deesdae word selfs die familieplase meer soos ʼn besigheid bestuur en vind die meeste vergaderings in kantoorspasies plaas. – Conrad

Go Back