News

Ivy du Toit, wynmaker by Jason’s Hill Privaatkelder in die Slanghoekvallei.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. Moenie toelaat dat onsekerheid jou passie en wil om die beste moontlik te doen oorskadu nie, sê Ivy du Toit, wynmaker by Jason’s Hill Privaatkelder.

1. Vertel ons meer oor Jason’s Hill?

Jason’s Hill is in die ongelooflike mooi Slanghoekvallei, in die Breedekloofstreek geleë. Die plaas is reeds sedert die 1800s in ons familie en ek is die sesde geslag op die plaas.

Ons verbou slegs wyndruiwe (geen ander gewasse nie) en produseer sowat 1.8 miljoen liter wyn per jaar, waarvan 40% uitgevoer en 60% plaaslik verkoop word. Die boerdery en kelder neem 35 persone in diens.

Ek dink wat ons laat uitstaan bo ander wynkelders is ons persoonlike diens. Ons ontvang gereeld self gaste en verwelkom besoekers by ons proelokaal. Die persoonlike interaksie is iets wat ons besoekers geniet en waardeer.

2. Die afgelope jaar was sekerlik die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud?

Ons fokus deurlopend daarop om verhoudings met ons bestaande kliënte en langtermyn kopers te versterk. Verbruikers gaan heel moontlik nie almal op die stadium méér wyn koop nie en ook nie meer betaal nie, maar die gehalte is wat jou verbruiker se vertroue gaan wen en jou van die ander gaan onderskei om jou produk verkoop te kry.

3. Wat maak jul streek spesiaal vanuit ʼn toerisme-oogpunt, asook in terme van die terroir en wynstyle uit hierdie streek?

Vir besoekers aan die Breedekloofstreek is hier meer as genoeg om te sien en doen … BAIE meer as wat ʼn “vinnige wegbreek” toelaat. Die Breedekloof bestaan uit sowat 22 wynkelders, elkeen eie in hul soort en gefokus op wat hulle anders maak.

Die area is ook ongelooflik divers wat grondtipes en kultivars betref, maar een kultivar wat jy wel op elke plaas in die Breedekloof sal vind is Chenin Blanc. Tog is die streek vol verrassings wanneer dit kom by ander kultivars. Die mense van die streek is innoverend en passievol in alles wat hulle aanpak en deel hul idees rondom nuwe wingerd- en wynmaakpraktyke vrylik met mekaar.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons beoog om aan te gaan met ons beplande jaarlikse vernuwings in die wingerd en verder werk ons steeds hard daaraan om ʼn goeie, hoë standaard produk aan die mark te bied.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynverwante besighede oor die pad vorentoe?

Die toekoms vorentoe is vol onsekerheid, maar ons kan en moet ook nie dat die onsekerheid ons passie en wil om die beste moontlik te doen oorskadu nie. Ons kan nie verander wat buite ons beheer is nie. Dit is steeds uitdagende tye, maar ons maak ʼn punt daarvan om ons eerder te omring met daardie mense wat hoopvol bly en hul positiwiteit uitstraal.

 

Go Back