News

Kenners by die Vinpro Wyntoerisme-werkswinkels: Marisah Nieuwoudt (Vinpro), Carlen Wahl (bemarkingskonsultant) en Robin Shaw (Wine Tourism Australia).

ʼn Reeks Vinpro Wyntoerisme-werkswinkels het Suid-Afrikaanse wynbesighede verlede week aan die belangrikheid van ʼn uitnemende kelderervaring herinner om sodoende hul handelsmerk te versterk en inkomste ʼn hupstoot te gee.

“Daar is drie dinge wat jou van ander onderskei: jou mense, jou plek en jou storie. Julle is elkeen verskillende mense, van verskillende plekke, en elkeen het jul eie stories,” sê Robin Shaw, stigter van Wine Tourism Australia.

Sy het wynbesighede aangemoedig om hul stories eg, eenvoudig en onvergeetlik te maak, sodat besoekers dit maklik weer kan oorvertel. “Ons sien ʼn toename in ervaringsreisigers wat smag na egte, verpersoonlike ervarings waaroor hulle kan spog,” sê Robin.

Daar is ʼn wêreldwye toename in vrouens wat in groepe saamreis en ʼn groter belangstelling van reisigers om tyd met plaaslike inwoners deur te bring en direk meer van hul bestemming en die kultuur te leer (sogenaamde “localism”). Daar is ook nou ʼn tendens na die “nuwe luuksheid”, soos wat besoekers ervarings soek wat eksklusief en skaars is. ʼn Toename in reisigers wat in koservarings belangstel bied veral vir die wyntoerismesektor groot groeigeleenthede.

“Hoe meer ervarings ons rondom kos, wyn en spesiale aktiwiteite kan aanbied, hoe beter sal ons hierdie tipe ervaringsreisigers kan lok, wat ʼn bewustheid van jou handelsmerk sal versterk, besoekersgetalle sal laat toeneem en inkomste uit wyntoerisme sal laat groei,” sê Robin. “Maak dit vir besoekers die moeite werd om na jou ervaring toe te reis.”

ʼn Belangrike kanaal

Wyntoerisme bied ook opwindende en belangrike alternatiewe kanale na die mark, sê bemarkingskonsultant Carlen Wahl.

“Die kelderdeur, e-handelsplatforms en wynklubs is opwindende kanale in die wyntoerisme-spasie. Hierdie kanale bied aan jou die geleentheid om ʼn verhouding met verbruikers te bou en iets pasgemaak aan hulle te bied. Dit bied ook ʼn korter roete na die mark, wat in hoër winsmarges omskakel,” sê Carlen.

“Dink verder as die transaksie wat nou by die kelderdeur plaasvind,” sê Robin. “Vertel besoekers waar hulle jou wyn kan vind nadat hulle by jou wegry (aanlyn of in die kleinhandel), en bou uiteindelik ʼn blywende verhouding met hulle deur wynklubs, herhaalde besoeke en aanlynresensies.”

Meer as 150 verteenwoordigers het die Vinpro Wyntoerisme-werkswinkels bygewoon, wat van 18 tot 22 September in Stellenbosch, Franschhoek, Rawsonville en Elgin aangebied is.

Die werkswinkels se inhoud is gebaseer op die Vinpro Wine Tourism Toolkit, ʼn gratis aanlyn hulpbron vir besighede wat hul wyntoerisme-voetspoor wil vestig of uitbrei. “Ons bied hierdie werkswinkels aan om wynbesighede te help om selfvertroue te kry in die praktiese implementering van die beginsels vervat in die aanlyn hulpbron,” sê Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder.

Vinpro het die hulpbron saam met Wine Tourism Australia en plaaslike kenners ontwikkel, met die finansiële ondersteuning van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, wat ook tot die werkswinkels bygedra het. Besoek die hulpbron by www.toolkit.vinpro.co.za.

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back