News

Die Suid-Afrikaanse wyntoerismebedryf is uiters teleurgesteld oor die huidige regulasies wat stipuleer dat die lys van lande met lae- en mediumrisikoprofiele elke twee weke hersien word. Die regulasies, wat sedert einde September van krag is, skep groot ontwrigting by besighede en onsekerheid by reisigers, veral by diegene wat vroeër vanjaar reeds hul vakansies in die opkomende piekseisoen bespreek het.

“Vir hierdie ontspanningsreisigers is dit bykans onmoontlik om te bepaal of hulle hul reis moet kanselleer of nog vir twee, vier of ses weke moet wag voordat daar sekerheid is oor of hulle die land mag binnekom al dan nie. Duitsland, ʼn tradisionele top teikenmark vir die Wes-Kaap, is tydens die tweeweeklikse oorsig op 19 Oktober 2020 by die lys van hoërisikolande gevoeg. Dit laat reisigers uit hierdie land wat op die punt was om op hul vakansie na Suid-Afrika te vertrek, hoog en droog,” sê Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder.

Die lys van lande wat tans op die rooi, hoërisikolys is, sluit boonop Suid-Afrika se top internasionale markte soos die VSA, die VK, Nederland en Frankryk in. Terselfdertyd is Suid-Afrika weer vir ʼn hoërisikobestemming vir lae- tot mediumrisikolande, wat hul vermoë om die land te besoek belemmer, soos voorgeskryf word deur hul onderskeie regerings.

Hiermee die lys van hoërisikolande soos deurlopend opgedateer word op die amptelike webtuiste van die Suid-Afrikaanse regering.

Verskeie bedryfsorganisasies, insluitend Vinpro, is aktief in gesprek met die betrokke regeringsdepartemente om hierdie regulasies te hersien ten einde ʼn meer volhoubare manier te vind om toerisme te stimuleer en terselfdertyd die welstand van Suid-Afrikaanse burgers en buitelandse besoekers te verseker. Die Wes-Kaapse regering het ook amptelik ʼn alternatiewe sisteem vir die regulering van besoekers voorgestel as nasionale regering se huidige risiko-aangepaste strategie – lees verder.

“Ons doen ʼn ernstige beroep op wyntoerismebesighede om buigsame kansellasiebeleide in plek te hê om reisigers so ver as moontlik te akkommodeer. Deur nou ʼn hoë kansellasiekoste te verhaal kan ʼn wyntoerismebestemming moontlik in die korttermyn wen, maar sal in die langtermyn baie meer verloor,” sê Marisah.

Wyntoerismebestemmings bly ook verbind tot die Wyntoerisme Gesondheids- en Veiligheidsprotokol om hul personeel en besoekers teen Covid-19 te beskerm.

Lees die volledige regulasies hier:
Regulasies deur die Departement van Toerisme – 23 September 2020
Regulasies deur die Departement van Binnelandse Sake – 30 September 2020
Regulasies deur die Departement van Vervoer – 1 Oktober 2020

Go Back