News

Hoewel die Suid-Afrikaanse wynbedryf sedert 2014 verskeie uitdagings in die gesig gestaar het, beleef wyntoerisme uitsonderlike groei.

Volgens die Food and Wine Tourism Market Report 2018 wat onlangs deur Wesgro en Explore Sideways uitgereik is, glo 63% van die toeroperateurs in ʼn opname dat dié mark in 2018 gegroei het. Gemiddelde spandering het afgeneem na tussen R500 en R2 000 teenoor R1 000 tot R3 000 in 2017, maar die totale spandering per besoek het toegeneem na meer as R60 000 in 2018 teenoor R40 001 tot R50 000 in 2017 en R30 001 tot R40 000 in 2016.

Van die dertig toeroperateurs wat in die opname deelgeneem het, het almal ooreengestem dat wyn- en kostoerisme ʼn wesenlike effek op reispatrone na die Wes-Kaap gehad het.

Nwabisa Thiso van Wesgro meen hierdie resultate is veral bemoedigend gegewe die huidige ekonomiese druk op verbruikerspandering en die negatiewe effek wat boodskappe rondom die droogte in die geheel op toerisme gehad het aan die begin van 2018.

“Hoewel die resultate nie ʼn aanduiding gee van die algemene stand van die wyn- en toerismebedryf nie, is dit duidelik dat die sektor ʼn beduidende effek op werkskepping en landelike ontwikkeling het,” sê Nwabisa.

Die verslag stel voor dat meer aandag gegee moet word aan hierdie nismark in die Wes-Kaap, soos wat in die fietsry-toerismebedryf die geval was.

“ʼn Gesonde toerismebedryf bevat ʼn wye verskeidenheid aktiwiteite vir toeriste. Fietsry in die mooie Wes-Kaap is baie aanloklik vir heelwat toeriste, maar ander verkies kos en wyn, en ander verkies beide. Dis daarom noodsaaklik dat beide bevorder word as deel van ʼn holistiese ervaring, wat ook ons awemrowende strande en ander natuurlike hulpbronne moet insluit,” sê Nwabisa.

ʼn Eiesoortige bate

Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder stem saam. “Suid-Afrika produseer van die beste wyne ter wêreld en ons kelders en restaurante wen die een internasionale toekenning na die ander. Dit maak net sin dat ons van ons eiesoortige aanbod en die natuurlike skoonheid van ons land gebruik maak om voordeel te trek uit groeiende gewildheid van wyntoerisme.”

International Wine Review het Suid-Afrika aangewys as die Bes Ontwikkelde Wyntoerismebestemming in die Wêreld in 2012 en die Verenigde Nasie Toerisme-organisasie het in 2016 gesê Suid-Afrika is een van die lande waarvan die wyntoerisme die beste ontwikkel is.

Lonely Planet het ook vanjaar die Kaapse WynLande as een van die wêreld se Top Tien Waardebestemmings aangewys, terwyl Vergelegen in Somerset-Wes, Delaire Graff naby Helshoogte en Creation in die Hemel-en-Aardevallei ingesluit is in die lys van Top 50 Wynbestemmings ter Wêreld.

Suid-Afrika spog ook met die langste wynroete ter wêreld, wat ses wynstreke, 26 distrikte en 69 wyke insluit.

Werkskepping

Buiten die feit dat wyntoerisme besighede in staat stel om ʼn persoonlike band met verbruikers te smee, handelsmerklojaliteit bou, waarde tot bestaande plaasaktiwiteite voeg en verkope ʼn hupstoot gee, het dit die potensiaal om die werksmark wesenlik te laat groei.

“Daar is nie groot hindernisse vir iemand om in die toerismebedryf werksaam te wees nie, so dit hou groot potensiaal in om werksgeleenthede vir semi- en ongeskoolde werknemers te skep, veral onder die jeug vir wie werkskepping noodsaaklik is,” sê Marisah.

Die aantal werknemers wat in diens van die wyntoerismesektor staan is tot dusver nog nie gekwantifiseer nie, maar die bedryfsorganisasie SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en –Stelsels) het in 2013 beraam dat die wynbedryf in die geheel sowat R6 miljard tot die land se bruto binnelandse produk bygedra het.

Vinpro beoog om vanjaar ʼn impakstudie af te skop om die waarde van die wyntoerismebedryf te bepaal in terme van die sektor se bydrae tot die ekonomie en werkskepping, en om hierdie syfers jaarliks op te dateer. “Ons wil ook leemtes in vaardigheidsontwikkeling en geleenthede vir loopbaangroei identifiseer deur ʼn vaardigheidsoudit in 2020, wat deur die Kaapse WynLand Distriksmunisipaliteit befonds word,” sê Marisah.

Samewerking nodig

Die wyn- en brandewynbedryf bejeën wyntoerisme reeds sedert 2015 met erns, toe dit as ʼn belangrike groeifaktor geïdentifiseer is in die Wine Industry Strategic Exercise (WISE), ʼn strategiese raamwerk waardeur die bedryf sy mededingendheid, winsgewendheid en volhoubaarheid wil verhoog.

Vinpro het die wyntoerismeprogram aangeneem en konsultante aangestel om die wyntoerismeplan te ontwikkel wat in 2017 uitgereik is. Hiermee saam is ʼn digitale platform, Visitwinelands.co.za uitgereik, waardeur die bedryf ʼn bewustheid onder plaaslike en internasionale besoekers wil skep oor die diverse aard van Suid-Afrika se wyntoerisme-aanbod.

Die strategie beoog om besoekersgetalle te verhoog, wyntoerisme se bydrae tot die ekonomie te laat groei, nuwe groeigeleenthede te skep, opleidingsgeleenthede vir nuwe en bestaande personeel te identifiseer, en om streeksverspreiding regoor die land te verbeter. “Ons wil ‘n groter verskeidenheid besoekers na Suid-Afrika lok en tot die groei van binnelandse toerisme bydra,” sê Marisah.

ʼn Wyntoerismetoonbank is in 2018 gevestig om die aktiwiteite te koördineer van al die partye wat hulself tot die strategie verbind het, insluitend Wesgro, die SA Wynroeteforum, Wines of South Africa (WoSA) en die Kaapse WynLand Distriksmunisipaliteit (CWDM).

In Julie vanjaar het Vinpro met die ondersteuning van die CWDM ʼn Wyntoerisme-“toolkit” vrygestel – ʼn gratis digitale hulpbron vir enige besigheid wat hul wyntoerisme-aanbod wil vestig of uitbrei. Inhoud van die “toolkit” is dan ook die fokus van ʼn reeks Wyntoerismewerkswinkels wat Vinpro en die CWDM van 18 – 22 November 2019 aanbied.

“Mense beweeg weg van generiese reisplanne en soek iets meer eiesoortig. Suid-Afrika se uiteenlopende kulture en natuurskoon, tesame met die wêreldgehalte kos- en wynervarings plaas ons in die beste posisie om die toerismebedryf wesenlik te groei,” sê Marisah.

Vir navrae, kontak:
Marisah Nieuwoudt
Tel: 021 276 0429
E-pos: marisah@vinpro.co.za
Web: www.toolkit.vinpro.co.za

Go Back