News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwag op hierdie vroeë stadium dat die 2019-wyndruifoes in die meeste streke na normale vlakke kan terugkeer te danke aan goeie reënval kort op die hakke van ʼn drie jaar lange droogte. Die Klein Karoo beleef egter steeds ʼn ernstige watertekort.

Die grootte en gehalte van die 2019-wyndruifoes sal verder beïnvloed word deur weerstoestande in die blomperiode en aanloop tot parstyd, tesame met wingerde se vermoë om van die droogte te herstel en die betrokke streek se wingerdstand.

Dit volgens ʼn voorlopige Distrikstoestande-verslag wat onlangs deur die wynbedryfliggaam Vinpro se wingerdkundige konsultante saamgestel, en deur SAWIS (SA Wynbedryfinligting en -Stelsels) uitgereik is.

“Die droë, warm toestande wat gedurende die 2018-parsseisoen geheers het, het voortgeduur in die na-oesperiode, wat in sommige gevalle ʼn positiewe effek op blaarval en die opbou van noodsaaklike reserwes gehad het,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.

Alle streke het in die winter goeie koue beleef en reënval was hoër as verlede jaar, met die uitsondering van die Klein Karoo, wat steeds onder ʼn ernstige droogte gebuk gaan.
Lente het vroeër as normaal ingetree, en die wingerde het aanvanklik vroeër as normaal begin bot. In September het temperatuurskommelinge egter wingerdgroei vertraag, en in sekere kultivars tot laat en onegalige bot aanleiding gegee. Reën in September het ook produsente genoop om hul bestuursinsette ten opsigte van lower- en swambestuur te verhoog. Teen einde September het temperature weer toegeneem en wingerde weer goed begin groei.

“Ons sal ook nog sien hoe die wisselende weerstoestande gedurende Oktober in die wingerd uitspeel,” sê Francois.

Die belangrikste opgaardamme was teen begin November voller as verlede jaar, naamlik Theewaterskloof (58%), Bergrivierdam (99%), Steenbrasdamme (beide bo 70%), Brandvleidam (59%) en Clanwilliamdam (96%). Grondwatervlakke sien ook beter daaruit in die Swartland waar produsente hoofsaaklik droëlandwingerd verbou.

Volgens Francois dra die groter beskikbaarheid van water toe tot die bedryf se verwagting dat die wyndruifoes in die meeste streke na normale vlakke sal terugkeer, “mits die gunstige weerstoestande voortduur en geen uitermatige wind, hitte of reënval voorkom in die aanloop tot die 2019-parstyd, wat normaalweg einde Januarie afskop nie”.

Lae reserwevlakke weens die vorige drie jaar se droogte, asook ʼn krimpende wingerdstand in die meerderheid streke sal ook deurslaggewende faktore ten opsigte van die 2019-oes wees. Die totale hektare onder wyndruifwingerd in Suid-Afrika het met 1 296 ha gekrimp in 2017 teenoor die vorige jaar. “Aan die positiewe kant sien ons ʼn herlewing in wyndruifwingerd-aanplantings in 2018,” sê Francois.

Karoo trek swaar

In die Klein Karoo duur die droogtetoestande wat sedert 2015 heers steeds voort. Die streek het voldoende koue beleef, maar die reënval regdeur die seisoen in dele soos Calitzdorp, Ladismith, Oudtshoorn en Barrydale was ver onder die gemiddeld en damme is bykans uitgeput.

Die Calitzdorpdam was teen begin November slegs 13% vol teenoor 22% dieselfde tyd verlede jaar. Die Gamkapoortdam is reeds vir drie jaar leeg.

“Produsente in die Klein Karoo ontvang geen water van ʼn skema nie, en is afhanklik van water uit die Swartberge en omliggende klowe. ʼn Hittegolf middel Oktober, tesame met sterk winde, het hierdie watertoevoer verder uitgedroog,” sê Jandré Human, bestuurder van Barrydale en Ladismith Kelders.

Volgens Hennie Visser, Vinpro-wingerdkundige vir die Robertson- en Klein Karoostreke help water uit boorgate om waterbronne aan te vul, maar is nie voldoende nie. “In baie gevalle is die kwaliteit van hierdie water nie baie goed nie. Goeie reën is nodig om waterbronne aan te vul en soute uit die grond te loog.”

Die streek ontvang gewoonlik suidoostereën in April/Mei en weer in Oktober/November. Geen noemenswaardige reën het sover in die periodes geval nie, en produsente in die streek is van mening dat wingerdgroei werklik belemmer sal word indien geen reën in die volgende twee tot drie weke voorkom nie.

“Waar vloedbesproeiing toegepas is, blyk dit of wingerde beter vaar, aangesien wortels wyer verspreid is, terwyl wingerde wat drupbesproei word se wortels gefokus is om die drupper en daarom nie dieselfde reikwydte het om toegang tot water te kry nie,” sê Danie van der Westhuizen, bestuurder van Calitzdorp Kelder.

Weens die droogte is die wingerde se reserwevlakke ook baie laag en word verwag dat die wyndruifoes in die Klein Karoo vir ʼn derde agtereenvolgende jaar wesenlik kleiner gaan wees.

“Hoewel ons dankbaar is oor die reënval en toename in beskikbare watervoorrade in die meeste ander wyndruifverbouingstreke, gaan ons harte uit na ons wyndruifprodusente in die Klein Karoostreek wat onder erge druk gebuk gaan – nie net in terme van die voortslepende droogte en gevolglike effek op die wyndruifoes nie, maar ook die feit dat dit die alreeds knellende finansiële posisie van hierdie produsente verder sal affekteer,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

Die Olifantsrivierstreek, wat gedurende die 2018-wyndruifseisoen die hardste van alle streke getref is deur ernstige watertekorte, se watervoorrade sien beter daaruit weens goeie reënval en ʼn vol Clanwilliamdam wat in die proses is om verdere uitgebrei te word. “Dit gaan egter steeds ʼn geruime tyd neem vir wingerde in hierdie streek om ten volle te herstel, en in die interim is hierdie steeds ʼn baie uitdagende tyd vir wyndruifprodusente in hierdie streek,” sê Rico.

Die bedryf se eerste amptelike oesskatting word in Desember 2018 deur SAWIS uitgereik. Vinpro-konsultasiediensbestuurder Francois Viljoen sal ook ʼn meer omvattende oorsig oor die 2019-wyndruifseisoen en oesverwagtinge tydens die Nedbank Vinpro Inligtingsdag op 17 Januarie 2019 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) deel. Besoek www.vinpro.co.za vir meer inligting.

Navrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Media- & Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back