News

Cabernet Sauvignon druiwe word vroegoggend by Vergelegen, Somerset-Wes gepars. (Fotokrediet: Francois Viljoen)

Met ongeveer tweederdes van die 2019-wyndruifoes reeds in kelders, dui die mees onlangse beraming daarop dat die oes vanjaar ietwat kleiner as verlede jaar kan wees.

Volgens die wynbedryfliggaam SAWIS (SA Wynbedryfinligting & -Stelsels) se nuutste opname onder produsentekelders en Vinpro-wingerdboukundiges kan die 2019-wyndruifoes op hierdie stadium kleiner wees as in 2018 – ʼn oesjaar waarin die effek van ʼn drie jaar lange droogte in die Wes-Kaap die ergste aangevoel is.

“Die trosse en korrels is vanjaar kleiner en ligter as normaalweg,” verduidelik Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens. “Hierdie tendens word hoofsaaklik toegeskryf aan ongunstige weerstoestande tydens blom en set in Oktober en November, asook bogemiddelde wind wat in die vroeë somer ervaar is.”

Heelwat wingerde, veral droëlandwingerde, het nog nie heeltemal herstel van die effek van die drie jaar lange droogte nie en die droogte het vanjaar in die Klein Karoo selfs voortgeduur.

Volgens Francois het die reën wat in Maart in streke in die Wes-Kaap voorgekom het, siektedruk verhoog en tot verliese weens vrot by sekere wyndruifverbouingstreke en plase bygedra.

Die Noord-Kaap se weerstoestande was tot dusver meer gematig, en normale oeste word hier verwag.

Die amptelike 2019 Wynoesverslag word 7 Mei 2019 uitgereik.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back