News

ʼn Chenin Blanc-druiwetros in een van Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie se beste wingerdblokke.

Die allerbeste wyndruifwingerde in die Wes-Kaap het een ding gemeen – dit word noukeurig bestuur volgens die wyn waarvoor die druiwe bestem is. Vinpro en Winetech het onlangs die vyf streekswenners van hul jaarlikse Wingerdblokkompetisie aangekondig.

“Nog voor die eerste korrels gepars word, weet hierdie produsente reeds vir watter wyn dit aangewend gaan word, en verbou die wingerd daarvolgens,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens.

Die inskrywings word beoordeel volgens relevante temas wat jaarliks in elke streek gekies word.

Die 2018 wenners in die onderskeie streke is (kliek op die skakel om die betrokke nuusberig te lees):

  • Olifantsrivier: Basie van Lill van die plaas Arbeidseind met ʼn 28-jarige Chenin Blanc-wingerdblok.
  • Paarl/Swartland: ʼn Blok Chardonnay van Wilhelm Relihan op die plaas Oak Valley.
  • Robertson: ʼn Chenin Blanc-wingerd van Louis Loubser op die plaas Vinefera.
  • Stellenbosch: Wilhelm Joubert en die Hartenberg-span met ʼn Merlot-wingerdblok.
  • Worcester/Breedekloof: ʼn Blok Pinotage van Phil du Toit op die plaas Rustfontein.

Die sterkpunte van elke wenblok is tydens boeredae in die onderskeie streke toegelig (Olifantsrivier uitgesluit). Die keuse van die onderstok en kloon vir die spesifieke gebied en wyndoelwit is die eerste belangrike stap na ʼn wyndoelwitgedrewe wingerd. Hierna verseker deeglike grondvoorbereiding volgens die grondtipe dat wortels optimaal versprei, en ʼn geskikte prieelstelsel word gekies om die lower te akkommodeer.

Produsente moes vinnig by die voortslepende droogte aanpas om water meer effektief te gebruik sonder om gehalte en opbrengs in te boet. Die implementering van grondwatermonitors stel hulle in staat om besproeiing meer doelgerig te skeduleer, groeikrag word manipuleer deur onder andere minder bemesting toe te dien, en lowerbestuur word noukeurig toegepas om verdamping en waterverbruik te verminder.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke met betrekking tot die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            Vinpro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back