
Wyndruiprodusente kan vanjaar water bespaar deur lowers kleiner te hou om transpirasie-verliese te beperk.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf kyk na nuwe tegnologie en aangepaste praktyke om die ernstige effek van die voortslepende droogte in die Wes-Kaap te buffer.
“Die droogtesituasie en waterbeperkings noop wyndruifprodusente om opnuut te kyk na die manier waarop hulle water in die wingerd toedien,” sê Francois Viljoen, bestuurder van die wynbedryfliggaam VinPro se wingerdboukundige konsultasiediens.
VinPro en Winetech (Wine Industry Network for Expertise and Technology) het in September ʼn reeks inligtingsdae met die tema, Effektiewe Besproeiing in Tye van Waterskaarste in die onderskeie wyndruifverbouingsareas aangebied. Die inligtingsdae is geborg deur Netafim.
Volgens André Roux, voormalige direkteur van volhoubare hulpbronbestuur by die Wes-Kaapse Landboudepartement plaas bevolkingsgroei, lae reënval en aardverwarming toenemend druk op waterbronne. Die landbousektor gebruik tans 60% van die beskikbare water. “Daar is eenvoudig nie addisionele water vir uitbreidings beskikbaar nie; ons sal water meer effektief moet gebruik, onder andere deur die hergebruik van water vir landboudoeleindes,” sê Roux.
Deur die draaipunt vas te stel waarteen die wingerdstok begin swaar trek, kan produsente water optimaal toedien en selfs gehalte verbeter. Satelliettegnologie soos die Departement se gratis webgebaseerde Fruitlook-databasis kan, onder andere, gebruik word om vas te stel wanneer ʼn wingerd onder stremming is. “Sodra die plant stres ondervind, gaan die huidmondjies toe en verhoog die temperatuur. Hoër temperatuurmetings in die wingerd dui dus aan waar water meer noukeurig bestuur moet word,” sê Roux.
Die grondtipe waarop ʼn wingerd staan is ook ʼn duidelike aanwyser van hoe water gelei en bestuur moet word, aldus dr Phillip Myburgh, senior navorser by die LNR-Nietvoorbij. Water beweeg makliker na die wortels op sandgronde as klei. Kleigronde kan dus minder gereeld besproei word terwyl sandgronde natter gehou moet word.
Vink Lategan, dosent by Universiteit Stellenbosch se Grondkundedepartement, meen die tydsberekening en volume water wat toegedien word kan aangepas word om gehalte en produksie te manipuleer. “Baie water is nie gelyk aan hoë produksie nie. Deur minder water as die wingerd se behoefte in sekere stadiums te gee kan gehalte selfs verbeter sonder wesenlike produksiedalings,” sê Lategan.
Hoewel die wingerdstok se fisiologie aanpas sodra dit swaarkry, maan hy egter dat wingerde nie onder onnodige stres geplaas moet word, veral tydens set en blom nie.
Myburgh stem saam dat die stadium van toediening uiters belangrik is. Indien slegs een besproeiing moontlik is, is deurslaan die aangewese tyd. Ertjiekorrel is die ideale tyd vir ʼn moontlike tweede toediening en indien die winter baie droog was en daar is genoeg water vir ʼn derde besproeiing, kan dit net voor blom toegedien word om goeie set te verseker. “Vermy pulsbesproeiing (kort en gereelde besproeiing) aangesien baie water deur verdamping verlore gaan. Maak eerder die volle wortelvolume nat en laat toe om uit te droog voor daar weer besproei word. Verseker ook die besproeiingstelsel funksioneer by optimale druk sonder enige lekkasies,” sê hy.
Produsente kan ook waterverliese verminder deur diep grondbewerking, deklaagtoediening, die verwydering van onkruid en deur lowers kleiner te hou.
“Die waterskaarste en kompetisie vir waterbronne gaan in die langtermyn met ons wees. Ons moedig wynprodusente sterk aan om van uitgebreide literatuur, werksessies en raad wat VinPro, Winetech en die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe (IWWW) bied gebruik te maak om hul praktyke by die droogtetoestande aan te pas,” sê Viljoen.
Laai die IWWW/VinPro Konsultasiediens riglyndokument: Bestuur van Wingerde Tydens Droogte Toestande – https://ow.ly/dMu230fF2gJ
-EINDE-
Kontak:
Carlin Cloete
Kommunikasiebeampte
Tel: 021 276 0460
E-pos: info@vinpro.co.za