News

Suid-Afrikaanse wynbesighede kom aan die begin van 2020 in Kaapstad byeen om hulself vir die nuwe jaar toe te rus en met ander wynverwante besighede te netwerk.

Die Nedbank Vinpro Inligtingsdag, met die tema TOUCH & CHANGE, word 23 Januarie 2020 van 09:30 – 14:40 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) gehou.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het die potensiaal om meer lewenskragtig, mededingend, winsgewend en volhoubaar te wees,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Die sprekers by vanjaar se Inligtingsdag gaan hul insigte deel rondom tendense, netwerke en hulpbronne waarby wynbesighede kan baat vind om hierdie potensiaal te bereik en positiewe verandering in hul besigheid en breër bedryf mee te bring.”

Suid-Afrika se ekonomie is besig met ʼn “enorme opruimaksie”. Nedbank-ekonoom Isaac Matshego gaan hieroor uitwei, tesame met die effek daarvan op verbruikers en beleggingsvertroue. In Rico se oorsig oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf vertel hy hoekom die bedryf reg is om te versnel, en wat nodig gaan wees om hierdie momentum te behou.

Vinpro-konsultasiediensbestuurder Conrad Schutte maak sy eerste verskyning op die Inligtingsdag-verhoog wanneer hy vertel hoe die 2020-wyndruifseisoen verloop, wat van die nuwe oes verwag word in terme van gehalte en opbrengs, asook nuwe verwikkelinge in die wingerd.

Hoewel die helfte van Suid-Afrikaanse wyn uitgevoer word, is daar steeds groot potensiaal vir die bedryf om sy voetspoor op eie bodem te vergroot. Brandon de Kock, storieverteller by die verbruikersinsigte-agentskap Whyfive, vertel meer oor hierdie nuwe verbruiker en hoe wynbesighede hulle moet benader.

Suid-Afrika se eweknie in die suidelike halfrond, Australië, het sukses in die Chinese mark behaal en het ʼn sterk wyntoerisme-aanslag. Bestuurshoof van Wine Australia, Andreas Clark, deel hierdie suksesse en moontlike lesse vir Suid-Afrika.

“Ons is dan ook geëerd om Minister Thoko Didiza van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vanjaar op die verhoog te verwelkom om haar boodskap aan landbouers te deel,” sê Rico.

Die Inligtingsdag word in 2020 vir die 15de jaar aangebied met Nedbank as hoofborg sedert 2006. Old Mutual Insure is vir die vyfde agtereenvolgende jaar betrokke as ʼn kleiner borg.

“Buiten die strategiese inligting wat hier gedeel word en wynbesighede help rig vir die nuwe jaar, is die Nedbank Vinpro Inligtingsdag ook die ideale netwerkgeleentheid vir wyndruifprodusente, kelders, verskaffers en ander rolspelers in die wynbedryf-waardeketting,” sê Rico.

Bespreek nou om teleurstelling te voorkom. Vinpro-lede betaal R850 per persoon (beperk tot twee kaartjies per lid), en nie-lede betaal R1 250 per persoon.

REGISTREER AANLYN of kontak tel 021 276 0458, e-pos info@vinpro.co.za.

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back