News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf betreur die skielike afsterwe van Prof Eben Archer, internasionaal erkende navorser en wingerdkundige, op 26 Junie 2019.

“Prof Archer laat diep spore na en hy sal voorwaar gemis word as dosent, mentor, vriend en pionier. Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en bondgenote,” sê Francois Viljoen, konsultasiediensbestuurder van Vinpro, die verteenwoordigende organisasie vir Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en wynverwante besighede.

Prof Archer het in 1971 sy wingerdkundige loopbaan as navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) Nietvoorbij afgeskop, waar hy oor byna twee dekades ʼn pioniersrol in wingerdkundige navorsing gespeel het. Hierna was hy vir 17 jaar ʼn dosent by die Universiteit Stellenbosch se wingerdkunde departement, waarna hy vir baie jare internasionaal en plaaslik in wingerdkunde gekonsulteer het, onder andere by Lusan Premium Wines.

Volgens Francois is die meerderheid van die bedryf se wingerdkundiges, wynmakers en produsente op een of ander manier deur Prof Archer geraak, hetsy deur by hom klas te loop, sy navorsing toe te pas of sy raad te volg.

“Sy geesdrif vir wyndruifverbouing en die oordrag van kennis was aansteeklik. Hy het ʼn gawe gehad om selfs ingewikkelde konsepte op ʼn eenvoudige en praktiese manier oor te dra, ongeag van sy gehoor. Prof Archer het ook ʼn reuse bydrae gemaak tot die hoogstaande gehalte van Suid-Afrika se wyne vandag, deur sy deurlopende navorsing en praktiese toepassing van moderne wingerdverbouingstegnieke oor die afgelope 48 jaar,” sê Francois.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back