News

Die wynbedryf en ander landboukommoditeite het in Februarie met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se AgriSEB Handvesraad ontmoet om aanbevelings rondom praktiese toepaslikheid van die 2017 gewysigde AgriSEB-kodes te deel.

Die inligtingsessie het gevolg nadat die raad se voorsitter en ondervoorsitter welvarende inisiatiewe wat deur produsente, kelders en die bedryf gedryf word in Junie verlede jaar besoek het – inisiatiewe waarvoor entiteite skaars enige punte op hul SEB-telkaarte kon ontvang. Vinpro het vervolgens in Augustus verlede jaar ʼn stel aanbevelings by die raad ingedien, wat van verskeie rolspelers in die subsektor ingesamel is, en hierdie aanbevelings in Februarie saam met ander kommoditeite voorgelê.

“Die tydsberekening van hierdie bemiddeling kon nie op ʼn beter tyd kom nie,” het Phil Bowes, Vinpro-bestuurder van ondernemingsontwikkeling gesê. “Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) het in 2018 ʼn gewysigde weergawe van die oorkoepelende Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BSEB) Kodes van Goeie Praktyk uitgereik, en die onderskeie sektorkodes moet nou dienooreenkomstig belyn word. Dit is die AgriSEB Handvesraad se mandaat om hierdie belyning te koördineer.”

Die wynbedryf is ernstig oor die inwerkingtreding van die gewysigde AgriSEB-kodes. Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC) se 2019 jaarlikse oorsig, is die wynbedryf die landbousektor wat gedurende die oorsigperiode die grootste persentasie van sy heffings aan transformasie toegedeel het. Dit het R31.7 miljoen of 30% van die totale statutêre heffings beloop, wat deur die SA Wynbedryf Transformasie-eenheid (SAWITU) bestuur word. “Dit is daarom duidelik dat die wynbedryf – wat dikwels gekasty word vir sy gebrek aan dringendheid om transformasie te implementeer – wel verbind is hiertoe,” het Phil gesê.

Produsentekelders, landgoedere, produsente en nuwe toetreders het kommer uitgespreek oor die toepaslikheid van die ‘statusmetingsinstrumente’ op die wynbedryf, spesifiek wanneer dit by die elemente van eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling kom.

EIENAARSKAP

Wynkelders moet oor ʼn minimum van 10% swart eienaarskap beskik om te verhoed dat hulle telkaart in die geheel een vlak afgegradeer word.

Volgens Phil maak die implementering van die gewysigde AgriSEB-kodes die aanname dat alle gemete entiteite soos kelders ‘n winsmotief najaag, en aanvaar dit ook dat daar bereidwillige swart aandeelhouers is wat ‘n belang in alle gemete entiteite wil bekom. Phil sê dit is nie die geval nie. “Voornemende nuwe toetreders wil eerder aandele bekom in ondernemings wat bydra tot die opbou van inkomste, terwyl baie produsentekelders eerder opgestel is om winste aan hul verskaffers uit te deel.”

Hy het aanbeveel dat die AgriSEB-kodes eerder aspekte van ander sektorhandveste inkorporeer waar dit van toepassing is op soortgelyke kwessies. ‘n Deel van die eienaarskappunte kan byvoorbeeld aan ‘n wynkelder toegedeel word wat toekomstige swart boere, handelsmerkeienaars en landboubesigheidseienaars suksesvol voorberei deur vaardigheidsontwikkeling, met ʼn spesifieke fokus op die verbetering van bestuurs- en sakeleierskapsvaardighede. Soortgelyke voorsiening word in die Handves vir Finansiële Dienste gemaak. “In die 2020 Nasionale Staatsrede het president Ramaphosa spesifiek die belangrikheid beklemtoon van voldoende opleiding vir nuwe toetreders vóór eienaarskap,” het Phil gesê.

Hy het ook aanbeveel dat bydraes tot ondernemingsontwikkeling omgeskakel word na ‘n beperkte aantal eienaarskapspunte met drempel- en tydsbeperkings, en dat toegang gegee word tot plaasgrond vir plaaswerkers in die vorm van formele huurooreenkomste of grondtoelaes. Sodoende kan wynkelders grondhervorming meer aktief bevorder.

VAARDIGHEIDSONTWIKKELING

Die wynbedryf het ook beperkings ervaar met betrekking tot die erkenning van vaardigheidsontwikkeling.

Volgens die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WCDoA) se landbouwerkersensus kwalifiseer slegs 4% Wes-Kaapse plaaswerkers vir die huidige SETA-geregistreerde kategorie D-leerlingskappe en internskappe. Verder is daar ‘n tekort aan geakkrediteerde leerlingskapprogramme wat kommoditeitspesifiek is.

Produsente volg gevolglik ongeakkrediteerde, maar beproefde werkgebaseerde programme (soos dié wat in Junie verlede jaar aan die raad gewys is), wat dikwels moeilik is om akkreditasie voor te kry weens hul gespesialiseerde aard. Hierdie alternatiewe programme vaar nie goed op die BEE Skills Development Matrix nie, en entiteite ontvang dus nie die nodige punte hiervoor nie. “Ons beveel aan dat die raad werkgebaseerde programme onder vaardigheidskategorie D heroorweeg, veral in gevalle waar programme weens redes buite die impak en kwaliteit van die uitsette nie geakkrediteer is nie.”

Verder vereis die AgriSEB-kodes dat 85% van vaardigheidsopleiding gedefinieer moet word as skaars en noodsaaklike vaardighede vir ‘n onderneming om vir enige punte onder vaardigheidsontwikkeling in aanmerking te kom. “Dit is ‘n eiesoortige bepaling en bestaan nie in alle sektore nie. Daar is egter uiters belangrike opleidingsinisiatiewe binne elke landboukommoditeit (wyn ingesluit) wat ‘n groot bydrae lewer tot die sukses van hierdie ondernemings, maar wat nie onder die AgriSEB-kodes erken word as noodsaaklike en skaars vaardighede nie. Een voorbeeld hiervan is sommelier-opleiding,” het Phil gesê.

Dit lei daartoe dat ʼn entiteit moontlik ‘n swak telling ontvang vir vaardigheidsontwikkeling, ondanks die feit dat hy sy werknemers van opleiding spesifiek tot die sektor voorsien. Die bedryf doen daarom ‘n beroep op die raad om die gepubliseerde lys van skaars vaardighede te verbreed om subsektor-spesifieke vaardighede in te sluit.

OMGEWINGSVOLHOUBAARHEID EN SOSIO-EKONOMIESE ONTWIKKELING

“Die gewysigde AgriSEB-kodes wil sien dat ondernemings en produsente goeie rentmeesters van natuurlike hulpbronne is,” het Phil gesê. “Daarom sal ondernemings en individue wat inisiatiewe saam met hul gemeenskappe doen om na die omgewing om te sien, bonuspunte kry onder die sosio-ekonomiese ontwikkelingselement.”

Wynplase en kelders is reeds betrokke by volhoubaarheidsinisiatiewe wat ‘n gunstige effek op werkskepping het bo en behalwe die vordering deur soortgelyke programme wat by die regering geregistreer is. Voorbeelde hiervan is die nakoming van die Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW)-skema en deelname aan die World Wildlife Fund (WWF) se landelike indiensnemingsinisiatief om indringerplante te verwyder.

Die kodes erken egter net sekere voorafgoedgekeurde bewaringsprogramme, wat nie altyd dieselfde impak in die wynbedryf het nie. “Alhoewel die meeste wynplase en kelders die volle 15 punte onder die sosio-ekonomiese ontwikkelingselement sou behaal, kry hulle tans geen erkenning of bonuspunte vir inisiatiewe wat ʼn effek op omgewingsvolhoubaarheid het nie,” het Phil gesê.

Die wynbedryf beveel dus aan dat die AgriSEB-kodes drie bonuspunte toeken aan entiteite onder die sosio-ekonomiese ontwikkelingselement vir bydraes wat hulle tot goedgekeurde bewaringsinisiatiewe maak, met die byvoeging van ten minste een nuwe werk in die voorafgaande 12 maande. Boonop word die raad gevra om sekere omgewingsvolhoubaarheidsinisiatiewe wat met die wynbedryf verband hou te evalueer en goed te keur, met drie bonuspunte wat toegeken kan word aan ondernemings wat ‘n minimumpersentasie van die netto wins na belasting aan kwalifiserende projekte bestee.

VOLGENDE STAPPE

Die AgriSEB-handvesraad het die terugvoer van die wyn en ander landboukommoditeite ontvang vir oorweging, waarna die hersiene konsepkode vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer sal word. Die tydsberekening hiervoor is nog onduidelik.

Daar word gehoop dat die besoek deur die AgriSEB-handvesraad in Junie verlede jaar deurslaggewend sal wees in die hersiene wetgewing. “Dit was ʼn voorreg om van die suksesstories van ons bedryf te deel en aan die raad ʼn blik te gee op die praktiese implikasies van veranderinge aan die AgriSEB-handves,” sê Phil. “Deur ondernemings in spesifieke subsektore te ontleed en sekere beginsels by ander sektore te leen, kan ons verseker dat hulpbronne werklik aangewend kan word om momentum aan transformasie te gee.”

Bedryfsrolspelers word aangemoedig om op die konsepveranderinge kommentaar te lewer, en met Vinpro saam te werk om oplossings te vind wat op erkende beginsels gebaseer is.

Vir meer inligting kontak Phil Bowes by 021 276 0429 of phil@vinpro.co.za.

 

Go Back