’n Mens kan sê Simonsig se besluit in 1968 om sy eie wyne te bemark was die begin van die moderne Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Nie ’n jaar gaan verby nie sonder dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf homself op die skouer klop en gelukwens met ’n luisterryke geskiedenis wat terugstrek tot 1659. Die Australiërs, byvoorbeeld, moet gereeld daaraan herinner word dat Suid-Afrika reeds 160 jaar lank aan die wynmaak en uitvoer was voordat daar vir die eerste keer doer onder met ’n wingerdloot gepeuter is.
Maar die ouderdom van die moderne Suid-Afrikaanse wynbedryf is ’n ander storie. Dit is vanjaar herroep met die Stellenbosse landgoed, Simonsig, se viering van sy 50ste bestaansjaar. Dié wynhandelsmerk het begin met die maak en bottelering van die Simonsig Steen 1968 – soos Chenin Blanc toe bekend gestaan het.
Vyftig jaar gelede was Simonsig slegs een van ses privaat kelders op Stellenbosch wat wyn self gemaak en gebotteleer het. Die rede vir hierdie gebrek aan onafhanklike kelders is deur Francois Malan, seun van Simonsig se stigter en bekende wynman Frans Malan, bondig opgesom tydens die landgoed se halfeeu-feesviering.
“Toe my pa in die vyftigerjare hier begin boer het, was die Suid-Afrikaanse wyntoneel heeltemal anders as wat dit vandag is,” sê hy. “Die bedryf is beheer deur groot maatskappye soos KWV, Distillers-korporasie en Stellenbosse Boerewynmakery asook 70 koöperasies. Stellenbosch alleen het ses koöperasies gehad. Al wat wynboere moes doen, was om druiwe of grootmaatwyn te lewer en die tjek by die bank te kry. Motivering vir die skep en bemarking van ’n eie produk was min.”
Danie de Wet van De Wetshof het nóú saam met Frans in die sestigerjare gewerk. “Die Bolandse wynbedryf was destyds ’n gesellige plek,” vertel hy. “Dit het oorgeloop van vriendelike mense. Maar die lug het baie vinnig onvriendelik geraak as enige wynboer sy eie wyn wou maak en dit self onder sy eie handelsmerk durf bemark.”
Frans het dit persoonlik ervaar.
Die sestigerjare het ’n nuwe era vir plaaslike wynverbruik in Suid-Afrika ingelui. Skielik het die drinkpatroon oorgeskakel van spiritualieë en gefortifiseerde wyn (veral brandewyn) na wit tafelwyn. En te midde van hierdie verhoogde vraag, was daar nie genoeg witwyn om mense se wyndors te les nie.
Aanvanklik het privaat produsente nie ’n rol in die verhoogde vraag gespeel nie, behalwe om druiwe en grootmaatwyn aan die groot spelers te verskaf. Stellenbosch Farmers Winery was die vernaamste speler. Sy Lieberstein-handelsmerk was op ’n stadium die grootste wynhandelsmerk ter wêreld met verkope van 31 miljoen liter in 1964.
Te midde van hierdie oseaan van goedkoop witwyn het Frans die geleentheid raaksien om die mark van kleiner volumes, hoëgehaltewyn te voorsien. Sy idee was om enkelkultivarwyne te maak wat herlei kan word tot ’n geografiese plek van oorsprong, iets wat gewilde handelsmerke soos Lieberstein, La Gratitude en Grünberger Stein nie kon doen nie.
As die eerste kelder in die land wat ingerig was vir koue gisting in staaltenks, was Simonsig gereed om die wynmark onder eie naam te betree. In 1968 het Simonsig self wyn begin maak en botteleer. Soos baie dinge in die wynbedryf, was dit die gevolg van ’n sameloop van omstandighede.
“Die 1968 druiwe-oes wat uitstekend,” sê Francois. “Met die nuwe verkoelingstoerusting in die kelder het my pa volgens rekords die beste wyn tot op daardie stadium gemaak. Maar toe dit by die verkoop van die wyn in grootmaat kom, was handelaars nie bereid om die premie te betaal wat die wyn verdien het nie.” Net daar is ’n beginselbesluit geneem om ’n deel van Simonsig se wyn self te botteleer en te bemark onder ’n eie etiket. Dit was die begin van ’n nuwe era vir die Malans.
Drie witwyne is onder die Simonsig-etiket gebotteleer: Steen, Clairette Blanche en Kaapse Riesling (Crouchon Blanc). Die eerste wyn het 50 c/bottel of R6/kis van 12 bottels gekos. Maar Frans het homself die misnoeë van die groot wynmaatskappye op hals gehaal. Simonsig se nuwe rigting is gesien as regstreekse kompetisie vir die groot spelers. ’n Voorbeeld moes van só ’n eiekoppige wynboer gemaak word om te keer dat ander in sy voetspore volg. In 1969 is daar besluit om Simonsig te boikot en geen grootmaatwyn van die plaas aan te koop nie.
Sonder die bemarkingsbegrotings en verspreidingskanale van die groot spelers, was Simonsig op sy eie. Maar dit het Simonsig se merkwaardige pionier net verder aangespoor.
“Ons weet nie presies hoe hy dit bewimpel het nie, maar my pa het die name en adresse van oor die 40 000 mense van regoor die land in die hande gekry,” sê Francois. “Hulle was mense wat deur media- en bemarkingsinstellings geïdentifiseer is as potensiële wynkopers. Elkeen het – ek neem aan vir die eerste keer in hul lewe – ’n brief van ’n wynplaas ontvang waarin die deugdes van Simonsig se wyne uiteengesit is. En met die belangstelling geprikkel, is daar geskryf hoe maklik dit is om een of drie van hierdie kissies wyn in die hande te kry. Maak jou keuse, stuur die tjek en Simonsig lewer die wyn per spoorvrag af.” Hierdie bemarkingstrategie was besonder doeltreffend en het tot ’n gemeenskap van Simonsig-wynliefhebbers gelei.
Die nuwe gees van wynmaak het baie ander privaat kelders aangespoor om ook hul eie handelsmerke bekend te stel met wyne wat die karakter en aard van die betrokke plaas uitleef.
In 1971 het Frans en die ander klein privaat kelders die Vereniging van Kaapse Landbouprodusente (VKL) gestig om hulle te verteenwoordig en hul belange te beskerm.
Dit was ’n belangrike nuwe hoofstuk in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Soos die Europese wynlande toe al dekades lank gehad het, was daar nou ook hier ’n liggaam wat die belang van oorsprong, druifkultivar en oesjaar onderstreep het.
Die Wyn van Oorsprong-stelsel van 1973 was ’n uitvloeisel van die VKL se harde werk. Dit het aan Suid-Afrikaanse wyne ’n nuwe vlak van integriteit besorg. Die beginsels van hierdie twee organisasies is tot vandag toe deel van die sukses van Simonsig en die talle landgoedere wat die plaaslike en internasionale premiumwynmark bedien.