News

DIE SKUIF NA PREMIUMISERING OF PREMIEPRODUKTE IN ELKE PLAASLIKE WYNKATEGORIE, ASOOK DIE KONSOLIDASIE VAN HANDELSMERKE, IS ’N KWESSIE WAAROOR DAAR TANS OMTRENT GEGONS WORD. MAAR HOE HELP DIT DIE BEDRYF?

DEUR ANTON PRETORIUS

’n Gepaste manier om premiumisering te beskryf is die opwaartse skuif na duurder en premieprodukte. Anders gestel, is premiumisering die teenoorgestelde van kommoditisering, waar mededinginge pryse (en dikwels kwaliteit) verlaag word. Premiumisering kan rariteit, bestanddele, handwerk, status, prestasie en betroubaarheid beskryf.

Die Suid-Afrikaanse wynmark is besig om te ontwikkel en wynprodusente sien ’n toenemende vraag na premiumwyne uit die groeiende mark vir millenniale wat dikwels op soek is na kwaliteitervarings. Wynverbruikers het oor die jare ontwikkel en wynprodusente kan nie meer op hul louere rus en verwag dieselfde wyne in die toekoms gewild sal bly nie, sê Bonny van Niekerk, rooiwynmaker by Zonnebloem.

“Millenniale word gedryf deur ’n aptyt vir kwaliteit en egtheid, en soek hierdie eienskappe in hul ervarings, al kos dit meer. Ons vind hierdie eienskappe dryf hulle om meer premiumwyne te beproef.”

Suid-Afrika moet sy wyn teen hoër pryspunte oor al die prysvlakke verkoop, sê Carina Gous, voorsitter van Wines of South Africa (Wosa). “Hoewel daar baie klem gelê word op premie aan die hoër kant van die mark, moet werk ook gedoen word om pryse op die laer en middelvlak van die mark te verhoog,” het sy by die opening van vanjaar se wynhandelskou, CapeWine 2018, gesê.

Haar kommentaar is beaam deur haar medesprekers by die openingseremonie. Hul boodskap was deurlopend dat Suid-Afrikaanse wyn moet fokus op winsgewendheid as die bedryf volhoubaar wil bly. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf staar verskeie uitdagings in die gesig, insluitend die verlies van bykans ’n kwart van sy primêre druiweprodusente wat oor die afgelope dekade besluit het om ander, meer winsgewende gewasse te kweek, sê Carina.

Suid-Afrika is tans laaste op ’n globale tabel van prys/liter wyn wat in uitvoere verkoop is. Suid-Afrikaanse wyn se gemiddelde uitvoerprys per liter is R23.36 in vergelyking met R23.55 vir Spaanse wyn, R54.88 vir wyn van Chili en R60.20 vir wyn van Argentinië. “Die uitvoertekort is een van die grootste uitdagings wat ons in terme van volhoubaarheid in ons bedryf ervaar,” sê Carina.

Die prys van ’n paar premiumwyne is reeds verhoog, waaronder Capensis wat deur Jackson Family Wines in Amerika verkoop word teen sowat $85 (R1 200) per bottel. Carina sê wynkelders wat laer af is in die waardeketting moet hul voorbeeld volg.

Rick Tigner, uitvoerende hoof van Jackson Family Wines in Kalifornië, was die hoofspreker by die openingseremonie van CapeWine 2018. Suid-Afrikaanse wynkelders moet konsentreer op die maak van wêreldklaswyne en dit daarvolgens prys, sê hy. “Om volhoubaar te wees moet jy winsgewend wees, veral in ’n tyd wanneer jy wingerde verloor.”

Ander probleme wat Suid-Afrika se wynbedryf in die gesig staar, is die watertekort, ’n ommekeer in die wêreldwye tekort aan wyn en die nasionale werkloosheidsyfer wat op 40% staan, volgens sommige bronne.

“Dit is baie belangrik vir ons om verpakte verkope te groei om werk te skep,” sê Carina.

Meer gesofistikeerde verbruikers

Ongeag jou definisie van premiumisering, is dit ’n realiteit en gebeur dit hier in Suid- Afrika. WynLand het verlede jaar berig Suid-Afrikaanse verbruikers – veral vroue en stedelinge – het in die premiumwynmark inbeweeg, soos blyk uit die groei van soet rosé- en rooiwyne (meestal bokswyne).

Dié wyne kan dalk mettertyd ’n portaal word tot verdere premiumisering waar hierdie verbruikers ontwikkel tot selfs meer gesofistikeerde wynkopers. Verdere bewys van premiumisering kan gesien word in die syfers by vanjaar se Kaapse Wynmakersgildeveiling. Die rand/ litre-syfer toon ’n bestendige toename sedert 2010, en rekordverkope van R10.5 miljoen is by vanjaar se veiling behaal. ’n Nuwe rekord vir rooiwyn – R22 500 vir ’n kis Kanonkop 2015 Paul Sauer – is ook behaal.

Ter ondersteuning van dié neiging is Nielsen se Globale Premiumisering-opname van 2016 wat toon millenniale is meer geneig om premiepryse te betaal vir produkte van hoë gehalte in vergelyking met ander generasies.

Soos die aanvraag na premiumwyn onder millenniale toeneem, moet die plaaslike mark bybly met die maak van gesofistikeerde wyne vir nuwe, vernuftige palette, sê Rick. “Die ouderdom van ’n wyn bepaal nie meer sy premie nie. Premiumwyne is nie net wyne wat al jare lank in vate bewaar word nie, dit sluit ook in wyne wat nou gekoop kan word.”

Positief vir toerisme

Amper 100% toeroperateurs in die Wes-Kaap sluit wyntoere in hul reisplan in, volgens ’n studie wat verlede jaar deur Wesgro uitgevoer is. Tim Harris, uitvoerende hoof van Wesgro, sê menige faktore het bewustheid van Suid-Afrika as ’n bestemming vir wyntoerisme aangemoedig. “Positiewe mediadekking en internasionaal erkende wynpryse het belangstelling en belegging in die ontwikkelende plaaslike wynbedryf gegenereer,” sê hy. “Spesiale wyntoerfirmas het baie gedoen om verafgeleë boetiekwynprodusente en -eiendomme ten toon te stel, wat die persepsie van gehalte verder verbeter.” Wyntoeriste bestee ook meer as ander toeriste wat die Wes-Kaap besoek. Sodoende word ekonomiese groei deur wyntoerisme in die provinsie verhoog.

Dit is veilig om te aanvaar die premiumisering van ons wyn en styging van pryspunte meer inkomste vanuit ’n toerisme-oogpunt beteken. Dit het weer ’n positiewe uitwerking op werkskepping, die groei van ons ekonomie se bruto binnelandse produk en die volhoubaarheid van ons wynbedryf.

Go Back