Jongmense wat in ’n beroep in die wynbedryf belangstel, kan kies en keur tussen kursusse. Deur Christelle du Toit
Die wêreld van gesofistikeerde rooiwyne, subtiele witwyne en vonkelwyne wat op jou tong borrel en dans, is dikwels duister vir jongmense wat nie aan die wynboubedryf blootgestel is nie. Verskeie inisiatiewe om jongmense by die multimiljoenrandbedryf te betrek, werp wel vrugte af, en die tyd om by dié fassinerende beroepsveld betrokke te raak, is nou!
Lorraine Geldenhuys, wynmaker en lektrise aan Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut, sê daar was van 2004 tot 2007 ’n oorvloed studente in die wynboubedryf en jongmense het gevolglik gesukkel om werk te kry. “Maar dit het verander en daar is nou weer werk vir jongmense in die bedryf,” sê sy.
Lorraine is verantwoordelik vir die finalejaarklasse by Elsenburg. Daar is gemiddeld 10 tot 20 finalejaarstudente per jaar en Elsenburg het ’n plasingsrekord van 100% omdat die klasse so klein is en hulle so nou met die bedryf en studente saamwerk.
Elsenburg, die Universiteit Stellenbosch en die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) is die drie instansies wat tersiêre onderrig in wynboukunde in Suid-Afrika aanbied. Daar is ook ander inisiatiewe om jongmense en die publiek aan die wynbedryf bloot te stel en op te lei.
Adriaan Jacobs was Elsenburg se topfinalejaarstudent in 2016 en Lorraine beskryf hom as ’n skerp ou wat ’n geleentheid raaksien as hy hom voordoen en dit aangryp. Nadat hy gekwalifiseer het, het Adriaan as kelderassistent by DeMorgenzon werk gekry. Selfs met ’n formele wynboukwalifikasie moet die meeste jongmense nog steeds onder begin en hul pad boontoe werk.
Lorraine sê Elsenburg verkies dit om kleiner klasse te hê sodat die studente individuele aandag kan geniet. Ongeveer twee derdes van die studente sak uit teen die finale jaar.
“Ons akademiese jaar begin gewoonlik op die eerste Maandag van Januarie en dan werk die studente teen ’n baie strawwe pas, omdat dit juis is wat hulle daardie tyd van die jaar in die bedryf sal moet doen,” vertel sy. “Ná drie weke is daar gewoonlik net sowat 10 studente oor omdat die res besef het wynmaak nie die regte beroep vir hulle is nie.”
Adriaan stem saam die pas by sy alma mater is straf. “Ek dink nie daar is nog ’n plek waar jy harder sal werk as by Elsenburg nie,” sê hy. “Jy moet regtig ’n passie vir wyn en wynkunde hê om dit vol te hou en bereid wees om baie hard te werk, veral as jy ’n romantiese idee het oor wat wynmaak behels.”
Soos die meeste ander wynboustudente was dit Adriaan se droom om sy eie wyn te maak. As deel van sy kursus by Elsenburg het hy ’n Chardonnay en Cinsaut gemaak, en was hy deel van die span wat daardie jaar brandewyn gedistilleer het.
As jy met hom oor wynkultivars gesels, borrel sy liefde vir en kennis van wyn oor. Dit was aanvanklik vir hom ’n aanpassing om wynkunde te studeer aangesien hy van Johannesburg kom en nie soveel blootstelling as van sy klasmaats aan die wynwêreld gehad het nie.
Finalejaarstudente by Elsenburg word van tyd tot tyd die geleentheid gebied om oorsee te toer na die wynlande van byvoorbeeld Frankryk, maar hulle moet self daarvoor fondse insamel. Adriaan se klas het die nodige geld bymekaargemaak om amper ’n maand lank oorsee te toer. Hulle het Portugal en Frankryk besoek en was onder meer in Bordeaux om te sien waar dié befaamde Franse rooiwynkultivar vandaan kom.
“Ons is aan gehaltewyne blootgestel wat baie wynmakers in Suid-Afrika nog nie geproe het nie,” sê Adriaan. “Dit is wonderlik om jou smaakpalet so uit te brei.”
Hy het die volgende raad vir voornemende studente in die wynbou en wynkunde: “Dit is nie ’n normale bedryf nie. Jy moet jouself heeltemal daarin verdiep en tot laat in die nag werk en dan weer vroegdag aan die werk spring. Maar as jy ’n passie vir wyn het en die ure insit, is dit baie bevredigend.”
Opleiding in wynbou en wynkunde word by die volgende instellings aangebied:
Elsenburg: Elsenburg was die eerste landbouopleidingsinstituut in Suid-Afrika en bied ’n graadkursus in landbou, diplomakursusse in wynbou en kelderbestuur en verwante kortkursusse aan.
Universiteit Stellenbosch: Die Universiteit Stellenbosch (US) se departement wingerd- en wynkunde is die enigste universiteitsdepartement in Suid-Afrika wat voor- en nagraadse kursusse in wingerdkunde, wynkunde en wynbiotegnologie aanbied. Van die kortkursusse sluit in ’n kursus oor kleinskaalse wynboerdery. Studente kan kursusse soos wynsertifisering deur afstandonderrig voltooi. Klasse word aanlyn aangebied met praktiese werkwinkels in Kaapstad, Durban en Johannesburg.
Die US se Instituut vir Wynbiotegnologie is in 1995 tot stand gebring danksy ’n alliansie tussen die universiteit, wynbedryf en Suid-Afrikaanse regering, en is ’n internasionaal erkende nagraadse onderrig- en navorsingsinstituut.
Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT): KSUT se wynbouopleiding vind by die kampus in Wellington plaas. Die instansie bied ’n diploma in wynbou en wynkunde aan asook kursusse in toegepaste en sosiale wetenskappe, besigheid en onderwys. KSUT se webtuiste het ’n kosteberamingsfunksie vir voornemende studente wat in die wynboukursusse belangstel.
Ander kwalifikasies
Die Cape Wine Academy se fokus is op die opbou van wynwaardering en wynkunde. Die akademie lei lede van die publiek op asook mense wat beoog om in die wyn- of toerismebedryf te werk. Hulle bied algemene wynkursusse, wynsertifiseringskursusse en ’n diploma in wynkunde aan. Die akademie bied ook die Kaapse Sommelierkursus aan vir mense wat wynkelners wil word of wynproefunksies op wynplase wil aanbied. Hul wynmeesterkursus is die hoogste formele kwalifikasie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Die International Wine Education Centre was die eerste goedgekeurde diensverskaffer in Afrika vir die Wine & Spirit Education Trust (WSET). Dit bied internasionale wyn- en spirituskursusse en -diplomas aan, beide aanlyn en in klasse, en skakel met die Londense Wine & Spirits School wat ook aan die WSET verbonde is.
Soos gepubliseer in die Augustus-uitgawe van WynLand-tydskrif.