News

Die Cabernet Sauvignon-wingerd wat as die wenner van die Winetech Vinpro Wingerdblokkompetisie in die Worcester/Breedekloofstreek aangewys is. (Fotokrediet: Carlin Daniels)

Met parstyd in volle swang in die meeste Suid-Afrikaanse wingerde, het Winetech en Vinpro onlangs die beste wingerdblokke in vyf streke aangewys.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in Januarie in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel. ʼn Onafhanklike paneel wingerdboukundiges en grondkundiges evalueer die inskrywings.

“Die kriteria vir evaluasie van die wingerdblokke sluit wortelverspreiding, snoeipraktyke, tip-aksies, asook lootuitdunning en -posisionering in,” sê Conrad Schutte, assistentbestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens. “Ons kyk ook na die doeltreffende toediening van bemesting en besproeiingskedulering om ʼn gesonde wingerd te verseker wat goeie gehalte druiwe vir die spesifieke wyndoelwit gaan oplewer.”

Die 2019-wenners in die onderskeie streke is:

  • Olifantsrivier: Renier Rossouw van Uitkyk-plaas buite Klawer, met ʼn Chenin Blanc-wingerd.
  • Paarl/Swartland: Juan van der Riet van Twee Jonge Gezellen buite Tulbagh, met ʼn blok Pinot Noir.
  • Robertson: Ernst en Flip Botha van Kruispad-plaas buite Robertson, met ʼn Shiraz-wingerd.
  • Stellenbosch: Christo Crous van Uva Mira Mountain Vineyards buite Stellenbosch, met ʼn blok Cabernet Franc.
  • Worcester/Breedekloof: Bruno Suter van De Breederivier-plaas met ʼn Cabernet Sauvignon-wingerd.

Die feit dat elke streek ʼn ander kultivar as wenblok aangewys het, is sprekend van die hoë standaard wat produsente regoor die kultivarspektrum handhaaf.

“Dis belangrik om erkenning te gee aan individue wat al die veranderlikes rondom wyndruifverbouing goed bestuur – van die terroir en gepaste kultivarkeuse, tot die toepassing van die regte praktyke op die regte tyd, asook aanpassing by veranderlike seisoenstoestande, kostes en wyndoelwit,” sê Lucinda Heyns, wingerdboukundige tegnologie-oordragkoördineer by Winetech.

“Hierdie produsente dra by tot die gehalte van die eindproduk en daardeur ook tot die beeld van Suid-Afrikaanse wyne,” sê sy.

Na afloop van die evaluering is boeredae in die onderskeie streke gehou, waartydens beste praktyke bespreek is, en wyndruifprodusente en paneellede die wenblokke saam kon besigtig en bespreek.

“Produsente staar dieselfde uitdagings in die gesig. Tydens hierdie boeredae kan hulle by mekaar leer en hulself beter toerus om hul wingerde op die hoogste standaard te bestuur,” sê Conrad.

Besoek www.vinpro.co.za vir meer besonderhede oor elkeen van die streekswenners.

-Einde-

Uitgereik deur:             Vinpro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

Vinpro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back