News

Dis snoeityd in die wynbedryf – ʼn tyd waarin die wingerdstok uit sy winterslaap begin ontwaak en die voorbereiding vir die volgende wyndruifoes in alle erns begin.

“Snoei is een van die belangrikste take op ʼn wingerdplaas. Deur die wingerd korrek te snoei, kan ons die stok die gewenste vorm gee en die oes- en trosgrootte, asook die gehalte van die wyndruiwe beheer. Dit kan ook aangewend word om groeikrag te beheer,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerboukundige en koördineerder van dié wynbedryfliggaam se wingerdwerkeropleiding.

Na gelang van die spesifieke wingerd en produsent se behoeftes, moet snoeiers die volgende in ag neem:

  • Neem in ag dat oogvrugbaarheid toeneem vanaf die basis tot ongeveer die middel van die loot, waarna dit weer afneem. Die beste botpersentasie word met kortsnit verkry.
  • Snoei swak lote wat uit ʼn tweejarige tap groei dadelik na ʼn een-oog tap terug, om sterker groei en groter trosse te verseker.
  • Snoei die stok met die gepaste aantal draers om te verseker dat die lote sterk genoeg is, om die groeikragtigheid in balans te bring met die oesgrootte en wyndoelwit.
  • Maak kaal nekke, wat gereeld voorkom in wingerde waar die kordon te ver ontwikkel word met ʼn swak loot, toe met ʼn loot wat ingevleg word, en knip alle oë wat nie benodig word nie dood.
  • Stel vas waar die snoeilote gegooi word – hetsy oopgestrooi in die middel van die ry sodat dit later deur ʼn stokkiekapper fyngekap kan word of opgeknip en op die bankie gestrooi.
  • Swambeheer (byvoorbeeld tandpyn as gevolg van Eutypa) kan toegepas word deur geensins op reëndae te snoei nie, deur sterilisering van snoeiskêre aan die einde van elke ry, die spuit van Trichoderma direk na snoei op snoeiwonde, en die maak van groot snoeiwonde te vermy.

Hierdie wenke vorm deel van Vinpro se jaarlikse opleiding vir wingerdwerkers. Wyndruifprodusente kan nou versoek dat praktiese demonstrasies in die vorm van ʼn halfdagkursus op die plaas aangebied word, vir nie meer as 15 persone nie, en volgens streng COVID-19-veiligheidsprotokolle. Die nuwe formaat vervang die gebruiklike voorafbepaalde voldagkursusse wat beide teorie en prakties vir groter groepe behels het.

Produsente kan uit twee praktiese sessies kies wat op hul plaas aangebied kan word.

Winteropleiding:
Basiese snoei beginsels (kort-, halflangdraer en Guyot-stelsels)
Onderhoud van snoeiskêre
Voorkoming van stamsiektes
Korrekte planttegniek van jongstokkies.

Someropleiding:
Basiese werking van die wingerdstok
Doel van lowerbestuur
Verskillende lowerbestuurtegnieke
Jongstokontwikkeling
Algemene siektes en plae.

Die koste beloop R210 per persoon. Bespreek nou ʼn praktiese opleidingsessie deur die Vinpro-opleidingskantoor te kontak by tel 021 276 0429 of e-pos training@vinpro.co.za.

 

 

Go Back