News

Wilhelm Relihan van die plaas Oak Valley, wenner van Vinpro en Winetech se wingerdblokevaluering in die Paarl- en Swartlandstreke.

Die noukeurige besproeiingspraktyke wat Wilhelm Relihan in sy Chardonnay-wingerdblok op die plaas Oak Valley in die Riebeeksriviergebied toegepas het, het hom laat uitstaan as die wenner van vanjaar se Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie in die Paarl- en Swartlandstreke.

Wyndruifprodusente vanaf Paarl tot Wellington, Franschhoek, Malmesbury en Tulbagh kon kwalifiseer om hul Chardonnay-wingerde vir hierdie jaarlikse kompetisie in te skryf. “Chardonnay is in groot aanvraag by kelders, maar produsente is dikwels nie geneë om dit aan te plant nie weens laer opbrengste en gevolglike inkomstes,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdkonsultant vir dié streke.

Jaco Visser van La Motte in Franschhoek was in die tweede plek en Chris Loubser van Anthonij Rupert Wyne, Franschhoek het derde geëindig.

Die wenblok Chardonnay, kloon CY55 is in 2009 op Richter 110 aangeplant en op ʼn vyfdraad dubbelverlengde Peroldstelsel opgelei. Dit beslaan 2.57 ha en het verlede jaar 18.35 ton/ha wyndruiwe gelewer.

“Wilhelm het ʼn daadwerklike strategie in plek gestel om water meer doeltreffend te bestuur, onder andere deur noukeurige watermetings en besproeiingskedulering,” vertel Hanno.

Na aanleiding van lesings deur kontinueerlike grondwatermeters is die wingerd by 60% onttrekking besproei tot na die setperiode, waarna water by 75% onttrekking toegedien is. Groot besproeiings is dus verder uit mekaar gespasieer, wat verdamping en waterverbruik laat daal het. Minder bemesting is ook in 2017 gebruik, wat tot ʼn kleiner lower en laer waterverbruik bygedra het.

“Die wenblok was besonder netjies, en die korttermynpraktyke van só aard dat die wingerd en druiwetrosse egalig is, wat die belofte van premiumgehalte en goeie opbrengste inhou,” sê Hanno.

Sprekers tydens ʼn onlangse boeredag by die wenblok het benadruk dat hierdie korttermyn wingerdpraktyke belyn moet word met die uiteindelike wyndoelwit, om kontinuïteit in die kelder en bottel te verseker. Maar die langtermynbeplanning is ook belangrik. “Chardonnay kloon CY55 en droogtebestande R110-onderstok vaar uitstekend op die droë skaliegronde in die gebied, en lewer hoë opbrengste en gehalte,” sê Hanno.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            VinPro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back