News

Sauvignon Blanc is Suid-Afrika se winsgewendste wyndruifsoort, met Shiraz en Chenin kort op sy hakke.

In die groen

Volgens die VinPro-produksieplan – ’n bedryfsteekproef wat 26% van totale produksie verteenwoordig – was Sauvignon Blanc vir twee opeenvolgende jare (2014 en 2015) die winsgewendste kultivar om te verbou.

VinPro-ekonoom Andries van Zyl skryf dit toe aan goeie produksie en ’n konstant groeiende mark. En die verkoopsyfers bevestig dit – Sauvignon as enkelkultivarwyn is die topverkoper in die plaaslike mark én die grootste verpakte uitvoerwyn in terme van volumes. Aanplantings van Sauvignon Blanc het oor die afgelope dekade met naastenby 17% gegroei – die grootste persentasiegroei van alle wit kultivars.

Volgens Sawis se inligting oor prysbande per kultivar vir die groothandel en private en produsentekelders, is naastenby 25% van Sauvignon Blanc in die tydperk April 2015 – Maart 2016 teen meer as R65 per bottel (750 ml) verkoop.

Chenin Blanc is volgens die produksieplan naas Sauvignon Blanc die winsgewendste wit druifsoort. Alhoewel die gemiddelde prys vir Chenin Blanc wesenlik laer is as dié vir Sauvignon Blanc, kan hoër opbrengste met dié bedryfsesel gelewer word. Boonop is die grootste segment van Chenin Blanc-aanplantings (36%) tussen vier en 10 jaar oud – ’n ouderdom waar daar ook hoë opbrengste in die nabye toekoms verwag kan word.

Gebaseer op 2014 en 2015 se resultate, was Shiraz die winsgewendste rooi druifsoort. Net soos in die geval van Sauvignon Blanc, is Shiraz proporsioneel die beste verteenwoordig in die hoogste prysbande van meer as R65 per bottel. Meer as 42% van die Shiraz-aanplantings is ouer as 20 jaar, met wingerde van wit druifsoorte wat proporsioneel heelwat jonger is as dié van rooi kultivars.

In die rooi

Ten spyte daarvan dat Cinsaut op die lippe en in die glase van heelwat wynskrywers en opinievormers is, toon die produksieplan dat hierdie kultivar in die meeste gevalle nie winsgewend vir druiweprodusente is nie.

“Lae pryse en swak opbrengste van ou wingerd speel veral ’n groot rol,” sê Andries. “Solank as wat kelders en kopers nie bereid is om meer vir Cinsaut te betaal nie, sal produsente dit uitkap, omdat hulle verliese ly.” Daar is vandag bykans 1 000 ha minder Cinsaut in Suid-Afrika as ’n dekade gelede, wat daarop dui dat meer as ’n derde van die bedryf se Cinsaut binne 10 jaar uitgekap is.

Die tendens duur voort, met 50 ha wat verlede jaar uitgekap is, terwyl net 15 ha aangeplant is.

Soos gepubliseer in die Julie 2016 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back