News

Lee-Anne Davidson gesels met Saul van der Vyver, Vititec se kweekhuisbestuurder, wat einde Julie amptelik na 43 jaar diens afgetree het.

 

Vititec-staatmaker: Saul van der Vyver, Vititec-kweekhuisbestuurder, hier op sy gelukkigste in die Vititec-pakskuur.

Vititec-staatmaker: Saul van der Vyver, Vititec-kweekhuisbestuurder, hier op sy gelukkigste in die Vititec-pakskuur.

Oom Saul, soos sy medewerkers Saul van der Vyver ken, het ’n leeftyd in die wynbedryf deurgebring sedert hy op 7 Februarie 1972 as algemene werker by KWV op Robertson begin het. Daarna het hy in 1982 na die Paarl verhuis en is in die laat 1980’s as Vititec se kweekhuisbestuurder aangestel. Hy was hoofsaaklik vir die kweekhuisaktiwiteite verantwoordelik, wat die hele entingsprogram ingesluit het.

 

“Ons twee het ’n lang pad geloop,” vertel Dirk Visser, plaasbestuurder van Vititec, wat 39 jaar lank saam met oom Saul gewerk het. “Pligsgetrouheid is by hom ’n prioriteit. Hy is altyd behulpsaam en sy menslikheid is waarna ons die meeste hier by Vititec gaan verlang.” Oom Saul sê hy gaan die meeste na die reuk van plante in die Vititec-glashuis verlang. Dit is natuurlik daar waar hy met trots sy liefde vir plante kon uitleef; hy het selfs gereeld met die plante gesels. “Ek was altyd so trots op my handewerk – om te kon sien hoe iets groei wat ek help voorberei het.” Sy raad aan sy opvolger is om te probeer om te alle tye ’n goeie gesindheid te hê omdat dié eienskap jou werk baie makliker maak. “Bou voort op die goeie spanverhouding wat tans by Vititec is en moet nooit skroom om medewerkers te help nie.”

 

Hoewel oom Saul baie na sy aftrede uitsien, sê hy dit is met gemengde gevoelens dat hy nou die nuwe fase van sy lewe betree. “Ek wil nog graag besig bly omdat ek ’n baie aktiewe mens is. Solank die gesondheid daar is, gaan ek nie kan stilsit nie,” skerts hy. Hy breek egter nie heeltemal weg van die wynbedryf nie en volgens Nico Spreeth, uitvoerende hoof van Vititec, is oom Saul ná sy amptelike aftrede einde Julie gevra om aan te hou werk tot einde Oktober vanjaar. Hy sal ook op ’n ad hoc-grondslag vorentoe uithelp. “Ons benodig nog sy kundigheid,” sê Nico.

 

Die hele Vititec-span het oom Saul met sy aftrede voorspoed en goeie gesondheid toegewens.

 

 

Soos gepubliseer in die Oktober 2015 uitgawe van WynLand tydskrif.

 

Go Back