News

In die lig van die oproer wat die afgelope week in die land in verskeie provinsies te sien was deur plundery, geweld en vernietiging van eiendom, staar die land weer eens ongekende uitdagings in die gesig. So ook die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Terwyl die bedryf in eenheid staan met alle ondernemings en individue wat geraak word deur die gebeure van verlede week, is die Suid-Afrikaanse wynbedryf self ook op die rand van ʼn afgrond nadat sy inkomste die afgelope 16 maande verskeie kere afgesny is.

“Talle wettige, belastingbetalende wyn- en toerisme-ondernemings, en veral kleiner ondernemings, wat tot die ekonomie bydra, kan moontlik hul deure sluit, wat daartoe kan lei dat duisende werknemers sukkel om hul gesinne te voed,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Dit terwyl onwettige handel steeds floreer, insluitend die plundering van verskeie drankhandelaars en -verspreiders verlede week.”

Dringende ingryping is nodig om ʼn sektor te herbou wat op sy knieë is vanweë ondeurdagte besluite wat nie op behoorlike empiriese data gebaseer is nie. Dit sluit in die heropening van wettige wynhandel op ʼn verantwoordelike wyse en wel deur die toepassing van ʼn risiko-gebaseerde benadering wat differensieer tussen provinsies. Wet en orde moet ook gehandhaaf word met betrekking tot die misbruik van drank insluitende onwettige handel, asook die toepassing van die bestaande regulasies, en finansiële verligting en tasbare ondersteuning van die regering is uiters belangrik om die sektor te help herbou. Laastens is ʼn vennootskapmodel nodig om ʼn geteikende benadering tot misbruik en gedragsverandering te verseker.

“Vinpro streef steeds daarna om hierdie doelwitte te bereik,” sê Basson. “ʼn Volgehoue gebrek aan konsultasie en bystand van die nasionale regering beteken ongelukkig dat ons regsaksie as laaste uitweg moet gebruik om die handel te heropen om enige verder werksverliese en besighede wat moet sluit, te voorkom.

“Ons regspan is gereed om ons dringende interdikaansoek in die Wes-Kaapse Hooggeregshof te beredeneer op Woensdag, 21 Julie 2021. Dit sal die premier van die Wes-Kaap in staat stel om af te wyk van die nasionale verbod om verkope van drankprodukte in die provinsie vir binne en buiteverbruik toe te laat. Indien suksesvol, sal Vinpro die hof nader vir soortgelyke verligting in ander provinsies.

“Ons bly ook verbind om ons hoof hofaansoek wat op 23 tot 26 Augustus in die Wes-Kaapse Hooggeregshof voor ʼn vol bank regters aangehoor word, deur te sien.”

Uitgereik deur: Vinpro

Media navrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
Epos: wanda@wineland.co.za

Go Back