Die wynbedryfliggaam Vinpro spreek hom ten sterkste teen opportunisme uit en sal voortgaan om enige individue of entiteite te ondersteun wat deeglike regsprosedures volg om uitbuiting van enige aard teen te staan of vermy.
Dit volg na twee onlangse voorvalle waarin Suid-Afrikaanse wynplase deur sekere arbeisgroeperinge daarvan aangekla is dat hulle nie eties of wetlik handel nie.
“Ons het vertroue in die regstelsel en die etiese akkreditasie prosesse wat die wynbedryf in plek gestel het en sal voortgaan om enige individu of entiteit te ondersteun wat die nodige regsprosesse in sake teen hulle volg,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
In onlangse verwikkelinge kan Windmeul Kelder, die May-gesin en Drakenstein-munisipaliteit binnekort ʼn formele ooreenkoms aangaan rakende die gesin se verblyf as uitkoms van ʼn mediasieproses. Mediasiegesprekke het hierdie week plaasgevind nadat die Grondeisehof in ʼn geskrewe uitspraak in Junie die May-gesin se bod om hul uitsetting van Windmeul Kelder in die Paarl terug te trek, verwerp het.
Volgens ʼn verklaring van Windmeul Kelder op 13 Junie 2019, het die May-gesin sekere bewerings teen Windmeul ingedien wat in nuwe hofverrigtinge aangehoor is. Die bewerings volg nadat die gesin na ʼn bykans drie jaar lange regsproses op 26 Maart 2019 wetlik van Windmeul se perseel uitgesit is. Slegs een persoon, Zonwabile Alfred May, was in diens van Windmeul Kelder, maar is in November 2008 geregtelik afgedank nadat hy skuldig bevind is aan onwettige drankhandel op die perseel.
Die May-gesin het sedert die uitsetting tydelike verblyf buite Windmeul Kelder se hekke opgerig en verkies om nie die noodverblyf wat deur Drakenstein-munisipaliteit aangebied is te aanvaar nie. Die bewerings teen Windmeul Kelder is deur waarnemende Regter Justice Canca oorweeg, wat die aansoek verwerp het.
Volgens Windmeul Kelder het die onlangse mediasiegesprek in goeie gees plaasgevind en het hulle vertroue dat ʼn formele ooreenkoms tot die voordeel van alle partye kan strek.
In ʼn ander voorval het ʼn arbeidsgroepering tydens die Stellenbosch-wynfees op 7 en 8 April 2019 pamflette uitgedeel waarin aantygings van swak werkstoestande teen 10 Stellenbosch-wynplase gemaak word.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ondersoek oor die saak ingestel as uitvloeisel van gesprekke met die wynbedryf se etiesehandelsorganisasie Wieta en die Stellenbosch-wynroete, en bevind dat geen van die aantygings gestaaf kon word op enige van die plase nie. Volgens die Departement se verslag het die ondersoek gesprekke met landbouwerkers en die produsente en/of plaasbestuurders ingesluit.
Hoewel die uitkoms van die Windmeul-mediasie en die bevindinge van die ondersoek teen die Stellenbosch-plase positief is, spreek Basson hom sterk uit teen kommentaar deur sekere arbeidsgroeperinge in die media wat daarop gemik is om sensasionalisme en opportunisme aan te hits.
“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op ʼn reis met sy vennote. Ons weet ons ondersteuners is saam met ons op hierdie reis, en ons sal nie toelaat dat ons aandag afgelei word hiervan deur huigelagtige kommentaar wat die historiese konteks, huidige realiteite en transformasie- en ontwikkelingsteikens wat ons vir onsself gestel het misken nie,” sê Basson.
Hy veroordeel die optrede van groepe wat doelbewus probeer om ontwrigting te veroorsaak en verhoudings tussen belanghebbendes in die wynbedryf af te breek, tot nadeel van die betrokke partye en Suid-Afrika as geheel.
“Dit, terwyl verskeie forums gevestig is om oop gesprekke tussen die regering, bedryf en burgerlike gemeenskap te fasiliteer. Die groepe wat hierdie uitsprake maak het nieteenstaande verskeie uitnodigings tot dusver gekies om nie aan die forums deel te neem nie. Dit is wel bemoedigend dat ʼn aantal ander arbeidsgroeperinge konstruktief saam met regering- en bedryfsvennote werk ten einde ʼn sterker, meer volhoubare Suid-Afrikaanse wynbedryf te verseker,” sê Basson.
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za