News

Etienne Terblanche

Etienne Terblanche het op 1 Desember by die Vinpro-span as wingerdkundige vir die Kusstreek aangesluit.

Hy het sowat tien jaar ervaring as wingerdkundige, onder andere by Delheim in Stellenbosch en meer onlangs met kliënte soos Remhoogte, Oldenburg Wingerde, Alheit Wingerde, Lowerland en Le Lude.

“Ons sien daarna uit om Etienne se vars en innoverende benadering tot die Vinpro-konsultasiespan te voeg,” sê Francois Viljoen, bestuurder van die Vinpro Konsultasiediens.

“Sy uiteenlopende agtergrond en goeie grondslag in beide die wetenskap van wingerdkunde, en die praktiese konsultasiekant, stel hom in staat om die interaksie tussen wingerd en wyn goed te verstaan. Hy sal definitief waarde tot wyndruifprodusent- en kelderkliënte in die Kusstreek voeg,” sê Conrad Schutte, Vinpro Konsultasiediens assistentbestuurder.

Die Kusstreek sluit Stellenbosch, Kaapstad, Somerset-Wes, die Hemel-en-Aardevallei, Elgin, Botrivier en Elim.

“Die belangrikste aspek van wingerdkundige konsultasie is om die verstaan te kweek dat daaglikse besluite wat in die wingerd gemaak word, ʼn groot effek op die finale produk op die bottel kan hê,” sê Etienne. “Daar is ʼn hernieude energie in die Kusstreek. Ek sien daarna uit om produsente te help om die potensiaal van die eiesoortige terroirs in hierdie streek ten volle te ontgin,” sê Etienne.

Nadat Etienne sy BSc in Wingerd- en Wynkunde en ʼn Honneursgraad in Wingerdkunde voltooi het, het hy ʼn MSc deur die internasionale Vinifera Euromaster ontvang. Hy voltooi tans sy PhD in Wingerdkunde, met ʼn klem op die verhouding tussen druifrypheid en uiteindelike wynstyl en sensoriese eienskappe in Pinotage.

Vinpro is ʼn nie-winsmaatskappy wat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede verteenwoordig, strategiese rigting en gespesialiseerde dienste bied, en op die ontwikkeling van mense fokus. Die Konsultasiediens beskik oor sewe streekswingerdkundiges, ʼn grondkundige en ʼn GIS-grondspesialis.

Navrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Media & Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back