Die 2015-oes en die impak op primêre wyndruifprodusente se finansiële volhoubaarheid
Volgens die jongste VinPro Produksieplan-opname is primêre wyndruifprodusente se produksievlakke steeds hoog. In hierdie uitgawe van WynLand kyk ons na Deel 1 van die verslag wat ’n oorsig van die belangrikste bevindinge oor die afgelope 10 jaar gee. In die Mei-uitgawe van WynLand kyk ons na Deel 2 van die verslag en die praktyke van die toppresteerders.
Die bevindinge van die VinPro Produksieplanopname wat in 2015 vir die 12de agtereenvolgende jaar in die wynbedryf uitgevoer is, toon dat ná die rekord-oes van 2014 primêre wyndruifprodusente produksie steeds hoog hou en probeer om die druk van koste-inflasie met ’n steeds krimpende wingerdstand teen te werk.
Die inkomste wat gerealiseer is, is steeds nie op volhoubare teikenriglyne nie, maar dit is verblydend dat ondanks die seisoen se risiko’s sommige produsente in elk van die nege wyndistrikte dit jaarliks regkry om hierdie riglyne te oortref en uitstekende rendemente te realiseer.
Inleiding
VinPro Landbou-Ekonomiese Dienste het in 2015 met die ondersteuning van Winetech, die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), Standard Bank, Absa, Land Bank, ENB, Nedbank en Capital Harvest diepteontledings in al nege wyndistrikte uitgevoer. Die primêre doel is om die produksie- en kostestruktuur en winsgewendheid per distrik te bepaal en sodoende die finansiële welstand van die produsente vas te stel.
Altesaam 226 boerdery-eenhede uit nege wyndistrikte het aan die 2015 Produksieplan-opname deelgeneem.
Die steekproef het in 2015 uit 22 545 ha (22% van die totale Suid-Afrikaanse wingerdstand in 2014) bestaan, wat 380 998 ton lewer (26% van die totale Suid-Afrikaanse oes in 2015). Hiervan was 62% wit- en 38% rooiwyndruiwe en 59% van die tonne is meganies gepars.
Die ontleding hanteer die wingerdvertakking in geheel (draende en nie-draende hektare) en daar word nie onderskeid tussen kultivars en sekere blokke tydens die kosteontleding getref nie. Die groter meerderheid van die deelnemers is gediversifiseerd en verskil ten opsigte van plaasgrootte. Die verslag verteenwoordig bedryfsgemiddelde syfers, wat bereken word deur die geweegde gemiddelde van al die deelnemers te bepaal. Die Malmesbury-distrik word deurgaans afsonderlik geëvalueer en maak nie deel van die bedryfsgemiddelde syfers uit nie aangesien dié studiegroep ’n groot komponent droëlandwingerd verbou wat ’n alternatiewe produksie-, koste- en kapitaalstruktuur vereis.
Koste van wyndruifproduksie
Die jaarlikse koste wat aangegaan is om die 2015-oes voor te berei het uit kontantuitgawes en voorsiening vir vervanging bestaan, terwyl belasting, renteverpligtinge en ondernemersloon uitgesluit is. Die bedryfsgemiddelde totale produksiekoste (Malmesbury uitgesluit) het sedert 2014 met 8% na R41 635/ha in 2015 toegeneem.
Kontantuitgawes
Kontantuitgawes word as direkte koste, arbeid, meganisasie, vaste verbeteringe en algemene uitgawes gespesifiseer. Totale kontantuitgawes toon ’n 9% styging sedert 2014 tot R31 944/ha in die 2015-oesjaar.
Hierdie verhoging word hoofsaaklik deur arbeid veroorsaak wat steeds vinniger as van die ander kosteelemente gegroei het. Dit het bygedra tot die verhoogde komponent wyndruiwe wat meganies gepars word, asook al hoe meer praktyke, byvoorbeeld snoei, wat meganies hanteer word. Groot produksie vir die vierde agtereenvolgende jaar dra ook tot die verhoging by weens verhoogde insette wat verlang word, sodat wyndruiwe winsgewend vir ’n spesifieke wyndoelwit geproduseer kan word. Afhangend van die mate van meganisering, verskil die kostesamestelling tussen sekere gebiede, maar die totale produksiekoste tussen die gebiede verskil nie noemenswaardig nie.
Noukeurige kostebestuur, met die balans tussen wyndoelwit en insetbehoefte per blok, bly krities in siklusse van minder as inflasie-inkomstestygings. Maar landbou-inflasie was duidelik hoër as die gemiddelde Suid-Afrikaanse inflasie.
Voorsiening vir vervanging
Produksiekoste word nie net tot kontantuitgawes beperk nie, maar kapitale items moet ook oor tyd vervang word om die besigheid in stand te hou en dit verg ’n volhoubare besigheidsmodel. Trekkers, gereedskap, ander produksiemiddele, wingerde en geboue word ouer en moet vervang word, dus moet die aankoopwaarde van die item oor ’n spesifieke leeftyd verhaal word. Deur die beginsel “voorsiening vir vervanging” te gebruik word ’n groter bedrag as in die geval van depresiasie verhaal. Dit spreek die probleem van reglynige waardevermindering tot ’n mate aan.
Met die berekening voorsiening vir vervanging word items oor verskillende termyne teen die vervangingswaarde as volg afgeskryf:
Geboue = 60 jaar
Wingerde = 20 jaar
Los bates/produksiemiddele = 7 – 15 jaar
Totale voorsiening vir vervanging het in die 2015-oesjaar R9 691/ha beloop – ’n styging van 3% sedert 2014.
Produksiestruktuur
Die gemiddelde gebied onder wyndruiwe geplant, was 97 ha – die ander vertakkings word nie in berekening gebring nie. Ekonomie van skaal speel ’n groot rol in die breër landbou en hierdie tendens raak al hoe meer algemeen namate produsente skaalvoordele probeer nastreef. Die gemiddelde produksie vir draende en nie-draende wingerde vir die 2015-oesjaar was 17.48 ton/ha. Oor die afgelope 10 jaar kan gesien word hoe produsente poog om gemiddelde produksie te verhoog en sodoende die effek van stygende kostes teen te werk en winsgewendheid te verhoog.
Kultivarstruktuur
Tydens die 2014-oes is daar bykomend ’n kultivarontleding uitgevoer om die produksievariasie tussen die mees aangeplante wit en rooi kultivars te toon. Dit is in 2015 voortgesit en sal oor die volgende paar jaar produsente met presisieboerdery help deur te wys hoe die kultivars in hul besigheid verskil en tot groter winsgewendheid kan bydra.
Gelykbreek
Die impak van verhoogde produksie is wesenlik op die gelykbreekprys van die totale produksiekoste in rand per ton. Die totale produksiekoste per hektaar, wat sedert 2014 met 8% gestyg het, het daartoe gelei dat die gelykbreek in terme van rand per ton van R2 186/ton tot R2 382/ton in 2015 toegeneem het. Anders gestel: Die eerste R2 382 wat die produsent gedurende die 2015-oes vir ’n ton druiwe ontvang het, behoort vir totale produksiekoste aangewend te word. Geen ondernemersloon, rente of belasting is in berekening gebring nie.
Alhoewel die gemiddelde opbrengste verskil tussen die distrikte, asook tussen die verskillende kultivars, is daar nie ’n noemenswaardige variasie in produksiekoste nie. Dit gee aanleiding tot groot verskille in die gelykbreekprys ten opsigte van totale produksiekoste in die onderskeie distrikte en tussen die verskillende kultivars.
Weens finansiële druk het kapitale instandhouding in baie distrikte agtergeraak. Dit word weerspieël in die verswakking van die gemiddelde ouderdomsamestelling van wingerde sedert 2006. Maar dit is verblydend om te sien dat sekere distrikte vervanging noukeurig toepas en selfs in totaliteit uitbrei. Meer as 14% van die wingerdoppervlak is ouer as 20 jaar en 11% van die wingerde in die steekproef is drie jaar en jonger. Die algemene norm is dat 15% van wingerde drie jaar en jonger moet wees en die komponent ouer as 20 jaar moet nie meer as 15% wees nie.
Winsgewendheid
Die winsgewendheid, oftewel netto boerdery-inkomste (NBI), word as totale inkomste (R/ton x ton/ha) minus totale produksiekoste bereken. Laasgenoemde bestaan uit kontantuitgawes en voorsiening vir vervanging, maar sluit ondernemersloon, renteverpligtinge en belasting uit. Die totale inkomste word vir ’n spesifieke oesjaar bereken en alhoewel ’n groot meerderheid van produsente hul inkomste op verskillende stadiums realiseer, word geen tydwaarde van geld in berekening gebring nie.
Dit is verblydend om te sien hoe totale inkomste per hektaar oor dié tydperk toegeneem het, maar die bo-inflasiekostestygings het die NBI onder druk gehou. Terwyl die gemiddelde totale inkomste in die 2015-oesjaar R49 108/ha beloop het – net 3% meer as in 2014 – het NBI tot R7 473/ha verminder. As riglyn vir ekonomies volhoubare produksie behoort die gemiddelde inkomste en NBI vir die 2015-oesjaar onderskeidelik R64 115 en R22 480/ha te wees.
Die gemiddelde inkomste beperk produsente om voldoende kapitale vervangings uit te voer en sodoende word op bruto marge geproduseer en nie noodwendig NBI nie. Produsente ondervind dus steeds finansiële druk en dit onderdruk die langtermynfinansiële volhoubaarheid.
Opsomming
Die primêre wyndruifprodusent se produksie was steeds hoog in die 2015-seisoen. Kostestygings het NBI steeds onder volhoubare vlakke gehou. Dit het daartoe gelei dat die meganisering van die nasionale wingerdstand toegeneem het. Daar was ook ’n sterk klem op arbeidsproduktiwiteit en die belyning van produksiepraktyke. Produsente word aangemoedig om noukeurige kostebestuur toe te pas en die voordele van sekere wingerdpraktyke en insette teen die finale opbrengs en uitbetaling vir die seisoen op te weeg.
Soos gepubliseer in die April 2016 uitgawe van WynLand tydskrif.