Die wynbedryfliggaam Vinpro het in die afgelope jaar meer as ʼn duisend mense gehelp om hul wingerdkennis op te knap, en gaan nog volstoom voort in die volgende paar maande.
Altesaam 1 252 persone is in die jaar geëindig 30 Junie 2019 gedurende 65 Vinpro-wingerdkursusse opgelei, ʼn rekordaantal teenoor dieselfde tydperk vorige jare. “Dis verblydend om te sien hoe wyndruifprodusente selfs tot in KwaZulu-Natal toenemend die waarde daarvan besef om hul mense met praktiese en teoretiese kennis toe te rus,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdboukundige aan die stuur van die kursusse.
Vinpro stel die wingerdkursusse reeds sedert 2012 aan die wynbedryf beskikbaar danksy ʼn subsidie van die Vinpro-stigting, en die inhoud is vanjaar na tien modules uitgebrei, waarvan elke module as ʼn aparte sessie aangebied word.
Produsente sê:
“Dit was vir ons van groot waarde om die opleiding vanjaar by ons op die plaas te doen,” sê Kwagga Boucher, wingerdbestuurder by Ataraxia Wines. “Ons pas die Guyot- en VSP-stelsels toe en die opleier kon op ons spesifieke behoeftes in die wingerd fokus. Ek kan ook nou die jong, onervare spanne terugneem na die wingerd waar ek vir hulle wys hoe die praktyke reg toegepas word. Ons mense het nou soveel meer selfvertroue na die opleiding.”
Volgens Carmen Mac Curry, menslike hulpbronbestuurder by Bosman Adama, geniet hul werknemers die opleiding. “Die personeel wat gestuur word vir opleiding voel trots en gewaardeer. Die opleiers bied die inhoud op ʼn praktiese manier aan, sodoende kry die personeel beter insigte oor hul daaglikse take. Die opleiding is ook waardevol vir ons besigheid en ondersteun ons strategie om personeel te bemagtig.
“Ek sal definitief die Vinpro-opleiding aanbeveel,” sê Jacques du Bois, eienaar van Du Bois Boerdery. “Selfs vir diegene wat al jare lank snoei was die snoeikursus van groot waarde, aangesien hulle vir die eerste keer die teorie en agtergrond rondom snoei en stokontwikkeling kon leer. Dit gee vir ons gemoedsrus dat ons permanente werknemers en gekontrakteerde buitespan die nodige kennis het om praktyke effektief en reg toe te pas.”
Verskillende opleidingsopsies
Die opleidingskursusse duur in die volgende paar maande voort, met sewe modules wat tot middel Oktober aangebied word. Verskillende opleidingsopsies is beskikbaar, waarvan die gewildste ʼn eendagkursus is. “Ons opleiers skop die dag met ’n aanbieding en video af, wat ons studente in hul gedrukte notas kan volg. Ná middagete gaan ons uit na die wingerd en oefen deur middel van praktiese demonstrasie,” sê Hanno.
Produsente kan kies om hul spanne vir een van hierdie voorafgeskeduleerde eendagsessies te registreer, of die opleidingskantoor kontak om ʼn sessie op hul plaas te versoek. Halfdagkursusse is ook beskikbaar op versoek, wat slegs op demonstrasies fokus as ʼn vinnige opskerpsessie.
Die volgende eendagkursusse is beskikbaar:
Identifisering van siektes en plae: 2 – 31 Julie
Bemesting: 17 Julie
Besproeiing: 1 – 22 Augustus
Grondkunde: 15 Augustus
Stokontwikkeling: 3 – 25 September
Oes van wyndruiwe: 17 September
Lowerbestuur: 26 September – 10 Oktober
Die kursusse word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied, met spesifieke sessies in Engels. Die eendagkursus is beskikbaar teen R300 per persoon, en die halfdagkursus teen R180 per persoon.
Besoek www.vinpro.co.za vir meer inligting oor die spesifieke opleiding in jou streek, of kontak die opleidingskantoor by 021 276 0429 of training@vinpro.co.za.