News

Dis weer tyd vir wingerdspanne om in te skryf vir Vinpro se omvattende reeks opleidingskursusse, wat van Mei tot September 2020 in die onderskeie wyndruifverbouingstreke aangebied word.

“Ons weet dat topgehalte wyne in die wingerd begin, en spesifiek by die mense wat dit elke dag versorg,” sê Vinpro-wingerdkundige Hanno van Schalkwyk wat die opleiding koördineer. “Daarom help ons wyndruifprodusente en hul spanne om die beste uit hul wingerde en wyne te kry deur aan hulle praktiese vaardighede oor te dra, maar ook die beweegrede daaragter te verduidelik.”

Vinpro het verlede jaar, te danke aan finansiële ondersteuning deur die Vinpro Stigting, meer as 1 000 persone touwys gemaak oor die beste wyndruifverbouingstegnieke. Vanjaar is Columbit as addisionele vennoot by die opleiding betrokke om die voetspoor daarvan selfs verder te vergroot. “Ons is veral opgewonde daaroor om vir die eerste keer ʼn opleidingsessie in die Klein Karoo aan te bied,” sê Hanno.

Die opleidingsreeks dek tien modules wat strek van wingerdvestiging tot die oes van wyndruiwe. Elke module word as ʼn aparte sessie aangebied, sodat produsente slegs hul spanne hoef in te skryf vir die sessies wat hul spesifieke behoeftes aanspreek.

“Die eendagkursusse skop in die oggend af met ʼn aanbieding en video, wat die kursusgangers in hul gedrukte notas kan volg. Na middagete gaan ons uit na die wingerd waar moontlik om vaardighede verder te slyp deur praktiese demonstrasies,” sê Hanno.

Produsente kan hul spanne vir enige van die voorafgeskeduleerde eendagsessies inskryf of die opleidingskantoor kontak om ʼn sessie op hul plaas te reël. Halfdagkursusse is ook op versoek beskikbaar en fokus slegs op demonstrasies.

Die volgende eendagkursusse is beskikbaar:

Identifisering van siektes en plae: 6 – 26 Mei
Bemesting: 21 en 28 Mei
Snoei: 27 Mei – 17 Junie
Grondbestuur: 23 Junie en 30 Julie
Oes van wyndruiwe: 24 Junie en 5 Augustus
Grondkunde: 8 Julie en 14 Augustus
Wingerdvestiging: 15 – 28 Julie
Besproeiing: 29 Julie – 25 Augustus
Stokontwikkeling: 26 Augustus – 8 September
Lowerbestuur: 27 Augustus – 17 September

Die kursusse word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied, met sekere sessies in Engels. Die eendagkursus word aangebied teen R350 per persoon en die halfdagkursus teen R210 per persoon.

Laai die OPLEIDINGSBROSJURE AF met die onderskeie opleidingsessies se datums, laai die REGISTRASIEVORM AF of kontak die opleidingskantoor by 021 276 0429 of training@vinpro.co.za.

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back