News

Die wynbedryfliggaam Vinpro se wingerdboukundige en grondkundige konsultasiediens vier vanjaar 40 jaar van deskundige raad aan Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente en kelders.

“Vinpro se konsultasiediens het in die afgelope 40 jaar uitgebrei na ʼn omvattende tegniese wingerdboukundige en grondkundige diens wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te versterk. Ons is vandag ’n multidissiplinêre span met saam meer as 150 jaar se ondervinding,” het Francois Viljoen, bestuurder van die Vinpro-konsultasiediens tydens die 40ste bestaansjaarvieringe verlede week gesê.

Lede van die voormalige en huidige Vinpro-konsultasiediens vier saam hul 40ste bestaansjaar.

KWV se voorligtingsdiens, die voorganger van die hedendaagse Vinpro-konsultasiediens, is op 1 Februarie 1979 gevestig en het in 2000 ’n nuwe baadjie en besigheidsmodel aangeneem.

Die diens het uit ʼn behoefte van wyndruifprodusente ontstaan om meer oor verskillende kultivars, opleistelsels en wingerdbestuurspraktyke te leer. KWV-voorligtingsdiens het sy deure met ʼn span van vier streeksvoorligters en ʼn bestuurder oopgemaak, met breëbasis-kennisuitruiling as hooffokus deur middel van produsenteproewe, studiegroepe en ander voorligtingsaksies.

Die Vinpro-konsultasiediensspan bestaan vandag uit ses streekswingerdboukundiges, ’n grondkundige en GIS-grondspesialis, ’n wingerdboukundige intern, drie sekretaresses, ’n bestuurder en ʼn assistentbestuurder. Die diens is by Vinpro se hoofkantoor in die Paarl gesetel, met satellietkantore in Worcester, Robertson en Vredendal.

Hoewel die span vandag sterker klem op individuele konsultasie aan primêre produsente en kelders lê, bly tegnologie-oordrag ʼn belangrike fokusarea deur middel van artikels en aanbiedings in die bedryf, asook verskeie geleenthede in samewerking met bedryfsliggame. Vinpro bestuur dan ook tegnologie-oordragstrukture in die onderskeie streke in vennootskap met Winetech, waardeur die nuutste kennis en navorsing by inligtingsdae en studiegroepe gedeel word.

Die huidige Vinpro-konsultasiespan. Voor: Pierre Snyman, Francois Viljoen en Emma Carkeek. Agter: Gert Engelbrecht, Heinrich Schloms, Courtneigh Frolicks, Conrad Schutte, Etienne Terblanche, Johan de Jager, Hanno van Schalkwyk en Hennie Visser.

“Die konsultasiediens was oor tyd by verskeie ander projekte betrokke, insluitend kultivarriglyne vir kelders en kwaliteitsverbeteringsprojekte,” sê Viljoen. Die wingerdopleidingskursusse wat die konsultasiediens sedert 2012 in samewerking met die Vinpro-stigting aanbied, maak verder ’n groot verskil aan vaardigheidsontwikkeling en produktiwiteit op plaasvlak.

Volgens Jan Booysen, wat van die begin tot 1999 aan die stuur van die KWV-voorligtingsdiens gestaan het, was die Suid-Afrikaanse wynbedryf 40 jaar gelede meer gereguleer en staar produsente vandag heelwat uitdagings in die gesig. “Wyndruifverbouing is ʼn langtermynverbintenis. Die hoë standaard van konsultasiedienste en manier waarop ons produsente oor 40 jaar aangepas het, is duidelik te sien aan die gehalte van ons wingerde en wyne vandag,” sê Booysen.

Die Vinpro-konsultasiediens is ʼn afdeling van die wynbedryforganisasie Vinpro, wat sowat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede verteenwoordig en strategiese dienste en inligting aan hulle voorsien.


-EINDE-

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae: Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back