News

Wyntoerisme-instansies word aangemoedig om deel te neem aan ‘n Wyntoerisme-vaardigheidsopname om hul span se bekwaamheid te meet, en die organisasie in staat te stel om areas vir verdere opleiding en ontwikkeling in 2021 te prioritiseer.

“Hierdie opwindende Vinpro-inisiatief, wat wesenlike voordele vir die bedryf inhou, word deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) ondersteun en het ten doel om die bedryf te help om die vaardigheidsontwikkelingsbehoeftes van ons mense te identifiseer en aan te spreek,” sê Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt.

Die inisiatief sluit aan by verskeie bedryfsaksies wat ten doel het om die wyntoerismesektor te herbou, nadat dit een van die sektore was wat die ergste getref is deur Covid-19 handels- en toerismebeperkings gedurende 2020. In Oktober het Vinpro, in samewerking met die KWDM en Commerce7, ʼn reeks werkswinkels vir wynkelders aangebied om hul verkope direk aan die verbruiker op te skerp, en op 16 November het die Wes-Kaapse Departement van Landbou ʼn R12 miljoen ondersteuningsfonds vir werknemers in die wyntoerismesektor aangekondig.

Die Wyntoerisme-vaardigheidsopname, wat deur die Skillogical-aanlynplatform bestuur word, sal die bedryf in staat stel om vaardigheidsbehoeftes te identifiseer namate deelnemers hul terugvoer indien. Die platform is ook interaktief in die sin dat dit leesstukke en videomateriaal voorstel volgens die relevante vaardighede en leerprogramme identifiseer wat vroeg volgende jaar beskikbaar sal wees aan die bedryf.

“Een van die nagevolge van Covid-19 is dat heelwat wyntoerisme-werknemers verskillende, of ʼn groter aantal rolle moet vervul as vantevore. Hierdie projek help om die vaardighede te identifiseer wat hulle nodig het om hierdie nuwe rolle suksesvol te vervul en wêreldgehalte diensstandaarde te handhaaf,” sê Marisah.

Werknemers sal deur hul werkgewer-verteenwoordigers op die Skillogical-stelsel toegang kry tot die leerprogramme, as deel van die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Wynbedryf Professionele Liggaam se ondersteuning aan die bedryf.

Die Wyntoerisme-vaardigheidsopname fokus op identifisering van leerbehoeftes verwant aan werknemers se begrip van die wyntoerismesektor se rolle en funksies, verhoudings en interaksie met besoekers en kollegas en werksplek-spesifieke vaardighede. Dit sal ook inligting vasvang oor kwalifikasies, professionele registrasies en lisensies waaroor werknemers alreeds beskik, waarmee hulle besig is of moet behaal, en deelnemers die geleentheid bied om die tale aan te dui wat hulle verstaan en kan praat.

“Ons moedig werknemers in die onderskeie wyntoerisme-verwante velde aan om te registreer en die opname te voltooi – van akkommodasie tot die kelderdeur- en proelokaal, funksies, voedselvoorbereiding, ontspanningsaktiwiteite en toere (bv wingerd- en keldertoere) en restaurantdienste,” sê Marisah.

Voltooi die opname op enige toestel wat oor internet beskik (slimfoon, tablet, rekenaar). Registreer by www.skillogical.com/vinpro en voltooi die opname binne 20 minute.

“Werknemers en wynkelderbestuurders wat geregistreer en die opname voltooi het, kan teruggaan na die webblad om hul Persoonlike Ontwikkelingsplan te besigtig, voorgestelde artikels te lees of na sekere van die video-insetsels te kyk wat van toepassing is op hul geïdentifiseerde vaardigheidsbehoeftes. Ons sal ook die stelsel gebruik om gesamentlik die leerprogramme wat beskikbaar is toe te deel,” sê Marisah.

Rig navrae oor die projek of kwessies rondom die gebruik van die aanlynstelsel vir die voltooiing van die vraelys aan vinpro@skillogical.com, stuur ʼn WhatsApp of SMS na 072 259 3444 vir ondersteuningsoproepe.

Uitgereik deur: Vinpro

Media navrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

Go Back